Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Indiërs
Indiërs [boodskap #122266] Ma, 17 Desember 2018 15:28
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Indiërs is mense van Asiatiese afkoms wat tans in Suid-Afrika woon.

Die Indiërs is na Suid-Afrika gebring weens die ernstige arbeidstekort wat in die jare 1850 op die suikerplantasies van Natal ondervind is. Die regering van die Natal-kolonie het met onderhandelings met die Indiese owerheid begin omdat die plaaslike Zoeloes en ander stamme onwillig was om in die plantasies te werk. Nadat 'n magtigingswet in 1859 goedgekeur is, het die eerste kontrakwerkers in 1860 aangekom. Die getalle het betreklik stadig toegeneem en teen 1874 was daar beswaarlik 5,000, maar die beter vooruitsigte in die suikerbedryf het die vraag na werkers laat toeneem met 'n ooreenstemmende styging in die aantal aankomelinge. Teen 1876 was daar 6,787 Indiërs in Natal, teen 1884 was daar 27,206 en teen 1891 was daar 35,763.

Hoewel die eerste ingevoerde arbeiders veronderstel was om drie jaar lank te bly, is die tydperk verleng na 5 jaar. Lone is vasgestel op 10s. per maand met 'n styging teen 'n tempo van 1s. per maand vir elke jaar afgesien van vry rantsoene en behuising, wat bereken is op 8s. per maand.

Na die verstryking van die kontrakte het die meeste van die immigrante verkies om in Natal te bly. Dit het die kern uitgemaak van die sogenaamde 'Vrye Indiërs', versterk deur die invoering van vroue en 'n buitengewone hoë geboortesyfer. Met verloop van tyd het die Indiërs ook hulle verskyning in ander provinsies gemaak, veral Transvaal waar hulle teen omstreeks 1881 aangekom het. 'n Aansienlike aantal het ook na die Kaap gegaan, maar in die Vrystaat is daar feitlik nie een nie as gevolg van 'n streng verbod.

Terwyl die meeste Indiërs voortgegaan het in die landbou, het ander hulle teen die einde van die 19de eeu op die handel begin toespits. Hulle redelike lae lewensstandaard en vermoë om geld te maak het teenstand uitgelok, en het gelei tot die instelling van beperkende wetgewing wat in Transvaal onder die Kruger-bewind die vorm aangeneem het van 'n verbod op grondbesit. Regsgedinge oor sommige van die kwessies het gelei tot die aankoms in 1895 van M.K. Gandhi, wat hom in Suid-Afrika gevestig het en met 'n stryd om groter vryheid begin het. Hierin is hy gesteun deur sowel die Indiese as die Britse regering en die geskil het 'n belangstelling gewek wat ver buite die landsgrense weerklank gevind het.

In 1909 is die teenstand teen beperkende wetgewing verskerp met die aankoms van die Indiërleier, Gokhale, en in 1911 is die passiewe weerstandsveldtog onder aanvoering van Gandhi ingestel. In dieselfde jaar is die binnekoms van Indiërs beëindig met die aankoms van die laaste groep van 500 arbeiders in Natal. Daarna is repatriasie aangemoedig hoewel die aantal wat teruggekeer het na Asië nie besonder hoog was nie en die meeste van die agtergeblewenes in Suid-Afrika gebore is. In 1911 was daar 149,791 Indiërs in Natal. Dertig jaar later, in 1941, het die getal aangegroei tot 239,000. Tydens die 1951 sensus was daar 366,664 in die Unie, terwyl die getal in die 1960 sensus aangegee is as 477,414, waarvan 394,237 in Natal was (teenoor 274,240 Blankes), 20,243 in Kaapland, 62,918 in Trans- vaal en 16 in die Vrystaat. Die Indiërbevolking is hoofsaaklik van Hindoe-oorsprong, hoewel daar ook 'n groot aantal Moslems is.

Die instelling van nuwe beperkings, veral die Klasgebiedewetsontwerp van 1924 het die kwade gevoelens vererger, maar verskeie pogings is aangewend om 'n vriendskaplike skikking te bewerkstellig. In 1926 het 'n afvaardiging uit Indië hier aangekom om die kwessie persoonlik te ondersoek en die volgende jaar word Srinavasa Sastri die eerste Indiese Agent-generaal in die Unie. Pogings is ook aangewend om die onderwysgeriewe te verbeter en om hulle aan te moedig om swak handelsbedrywighede te laat vaar. Die Indiërs het hulleself in verskeie verskillende groepe georganiseer (die belangrikste is die South African Indian Congress), waaronder daar heelwat tweespalt en mededinging bestaan.

Ernstige onluste wat met aansienlike lewensverlies gepaard gegaan het, het in Januarie 1949 in Durban plaasgevind toe Bantoes die plaaslike Indiërs aangeval het. 'n Groot aantal huise is afgebrand en meer as honderd Indiërs het die lewe gelaat. 'n Regeringskommissie het die oorsake probeer vasstel, maar sy verslag was onoortuigend. Die instelling van die Groepsgebiedewet in 1950 het opnuut protes in Indië uitgelok en in Junie 1954 is die diplomatieke verteenwoordiging van Indië in die Unie teruggeroep.

Teen 1960 was daar is na raming 35,000 Indiërs in Zimbabwe (Rhodesië), Zambië en Malawi. Daarvan is 15,000 in Zimbabwe (Rhodesië) en sowat 12,000 in Malawi. Sien Nasionale Indiërraad en Universiteitskollege vir Indiërs.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Incomati
Volgende onderwerp: Indoena
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Nov 22 06:55:54 MGT 2024