Immigrasie [boodskap #122258] |
Ma, 17 Desember 2018 15:03 |
|
Inligting
Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
|
Senior Lid |
|
|
Immigrasie verwys na die proses waartydens mense hulle geboorteland verlaat om hulself permanent in 'n ander land te vestig. Meer tegnies vereis emigrasie na mense wat uit 'n land uitvloei, terwyl immigrasie na die invloei van mense verwys. Daar is baie redes waarom mense emigreer/immigreer, wat wissel van politiek, ekonomiese vooruitsig tot misdaad en veiligheid.
Georganiseerde immigrasie na Suid-Afrika het in 1652 begin met die landing van Jan van Riebeeck se geselskap. Om die tekort aan vroue aan te vul, is jong meisies uit weeshuise in Amsterdam na die Kaap gebring. In 1687 en 1688 het die Hugenote aangekom. Verdere grootskeepse immigrasie het eers tydens die Britse bewind plaasgevind; die koms van die Moodie-geselskappe na Swellendam, Clanwilliam, ens. in 1817 (sien Benjamin Moodie). In die jare 1840 is die Duitse setlaars na Natal gebring deur Jonas Bergtheil en deur Thomas Byrne (sien Byrne-setlaars). Latere groepe sluit in die Duitse Legioen aan die Kaapse Oosgrens na die Krim-oorlog en ander Duitse immigrante in 1858 en 1874. Honderde setlaars het in die Victoriaanse tyd na Suid-Afrika gekom om van longaandoenings te herstel, onder andere Cecil John Rhodes. Dit het onregstreeks gelei tot die aanvaarding van immigrasiewette en gesondheidsbeperkings. In die huidige eeu het immigrasie na Suid-Afrika aansienlik gewissel. Van 1913 af is toegangsbeperkings gelykvormig gemaak deur die Unie-Immigrasiewet. Dit is gewysig deur die Kwotawet wat die instroming van Oos-Europa af streng verminder het in 1930. In 1935 toe Nazi-vervolging in Duitsland ontstaan het, is 'n Immigrasieraad met wye keuringsmagte gestig. Na die Tweede Wêreldoorlog het generaal Smuts immigrasie aangemoedig en spesiale skepe gehuur om nuwelinge te vervoer, maar met sy bedanking as premier is die beleid omgekeer. Daarna is immigrasie uit Brittanje en die Vasteland weer aangemoedig en keuringskommissies is daarheen gestuur.
Suid-Afrika het ook lid geword van die internasionale liggaam wat die sake behartig. Goedgekeurde applikante ontvang vry passaat. Met die opkoms van swart regerings in Tropiese en Sentraal-Afrika word blankes ook uit daardie gebiede verwelkom. Vroeër dae het Zimbabwe (Rhodesië) herhaaldelik pogings aangewend om immigrante te kry, onder meer die Heilsleër, maar dit is gekortwiek deur skaarste aan geld. Sedert die Tweede Wêreldoorlog het 'n lewenskragtige beleid 'n groot toename in die bevolking tot gevolg gehad hoewel die aantal immigrante om politieke redes in die jongste tyd aansienlik verminder het. Sien Agttien-Twintig-Setlaars.
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
|
|
|