Hertzog, Generaal James Barry Munnik [boodskap #122151] |
Sun, 16 December 2018 11:26 |
|
Inligting
Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
|
Senior Lid |
|
|
Generaal James Barry Munnik Hertzog was die Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika. Op 3 April 1866 naby Wellington gebore. Die seun van 'n boer, Albertus Munnik Hertzog. Bring 'n deel van sy jeugjare in Kimberley deur toe dit nog 'n mynkamp was. Verhuis na die Vrystaat. In 1881 gaan hy na die Victoria-Kollege, Stellenbosch, om vir predikant te studeer, maar laat vaar dit en studeer in die regte. Gradueer in 1889 en gaan na die Universiteit van Amsterdam waar hy 'n doktoraat in die regte verwerf. Praktiseer in Pretoria 1893-95; word regter van die Hooggeregshof van die Oranje-Vrystaat Republiek 1895-99. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog tree hy op die voorgrond as een van die stoutmoedigste generaals van die Vrystaat. Hy dring die Kaapkolonie binne en wen 'n hele aantal gevegte teen die Britte. Hy neem deel aan die vredesonderhandelings. Later word hy die onbetwisde politieke leier van die Oranje-Vrystaat en een van die stigters van die Orangia-Unie Party. Hy word kabinetslid onder die kroonkoloniebewind in 1907 en gee uitvoering aan sy veelbesproke siening van die gelykheid van Engels en Hollands. Hy ontslaan sekere skoolinspekteurs wat hom teenstaan.
Hy neem deel aan die Nasionale Konvensie en word 'n lid van die eerste Unie-kabinet onder generaal Louis Botha. In stryd met Botha lê hy, in 'n toespraak op De Wildt in 1912, die beginsel neer van 'Suid-Afrika Eerste' en 'Die Tweestroombeleid' (Engels en Afrikaans). Hy bedank uit die Botha-kabinet en stig die Nasionale Party. Hy bou die party op totdat hy in 1924 ingevolge 'n ooreenkoms met die Arbeiderleier, kolonel F.H.P. Cresswell, Eerste Minister word. Hy beklee hierdie pos 15 jaar lank. Die Goudstandaardkrisis van 1932 laat hom en generaal Smuts verenig en hulle stig die Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party. Hertzog verkry die volle gelykheid van Engels en Afrikaans as amptelike tale en ook die erkenning van Brittanje van die gelykheid van die Dominiums, insluitende die reg om weg te breek en geallieerde voorregte (Statuut van Westminster, 1931). Sy versigtige optrede teenoor Nazi-Duitsland veroorsaak wrywing tussen hom en Smuts. In September 1939 weier hy om Brittanje na te volg en oorlog teen Hitler te verklaar. Hy word in die Parlement verslaan en bedank. Hy tree af op sy plaas waar hy op 21 November 1942 oorlede is.
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
|
|
|