Tuis » Taal » Ensiklopedie » Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1961
Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1961 [boodskap #122050] |
Sat, 15 December 2018 07:23 |
|
Inligting
Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
|
Senior Lid |
|
|
Die artikel beskryf die eerste Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, en nie die land se huidige grondwet nie.
Die vier Britse kolonies in Suid-Afrika is deur die Suid-Afrika-Wet van 1909 saamgevoeg in 'n Unie. Die Wet het op 31 Mei 1910 in werking getree en die eerste Parlement van die Unie het op 4 November 1910 vergader. Op 5 Oktober 1960 is 'n referendum gehou oor die vraag of die Unie 'n Republiek moet word of nie, en aangesien die meeste stemme ten gunste van 'n Republiek uitgebring is, het die Wet op die Grondwet van 1961, wat op 31 Mei 1961 in werking getree het, aan die Unie 'n Republikeinse regeringsvorm gegee, met 'n Staatspresident verkies deur die kieskollege bestaande uit die lede van die Volksraad en die Senaat. Die Staatspresident word verkies vir sewe jaar en mag nie van sy amp onthef word nie, behalwe op 'n voorstel wat deur 'n meerderheid van albei huise aanvaar word op grond van wangedrag of onvermoë om die pligte van sy amp doeltreffend uit te voer. Voorsiening is daarvoor gemaak dat die President van die Senaat as Staatspresident kan waarneem indien nodig. Die Staatspresident neem onder die nuwe grondwet die plek van die Koningin en die Goewerneur-generaal in en beskik oor al die magte wat hulle vroeër gehad het.
Die Parlement
Ingevolge die Suid-Afrika-Wet bestaan die Parlement uit die Koningin, 'n Volksraad en 'n Senaat. Ingevolge die Republikeinse grondwet neem die Staatspresident die plek van die Koningin in. Die Volksraadslede word verkies in kiesafdelings van die Hooggeregshof, wat die afbakening doen met tussenposes van nie minder as vyf jaar en nie meer as 10 jaar nie, en volgens die aantal kiesers op die jongste kieserslys. Die Senaat was saamgestel op 'n federale basis; die parlementslede en die provinsiale raadslede in elk van die vier provinsies het agt senatore deur proporsionele verteenwoordiging gekies. Nog agt is genomineer of aangestel deur die Goewerneur-generaal-in-Rade, vier van hulle is gekies op grond van hulle deeglike kennis van die redelike wense van die nie-blanke rasse van die Unie.
Die grondwet is van 1910 tot 1961 progressief verander, en die Volksraad bestaan daarna uit 160 lede. Die Senaatswet van 1955 het die aantal senatore vermeerder tot 89, waarvan 65 op 'n meerderheidstemming deur die parlementslede en provinsiale raadslede van elke provinsie gekies is. Sestien van hulle is deur die Regering benoem, vier is in Suidwes-Afrika (nou Namibië) gekies en vier deur die naturelle van die Unie. In 1958 is een senator benoem as verteenwoordiger van die Kleurlinge in die Kaap, en in 1959 is die naturelleverteenwoordiging afgeskaf. Die aantal senatore is met die Senaatswet van 1960 verminder na 54, waarvan 11 in die Kaap verkies is, 14 in Transvaal, en agt elk in die Vrystaat en Natal deur proporsionele verteenwoordiging, twee in Suidwes-Afrika, twee genomineer deur die Regering uit elke provinsie en Suidwes-Afrika, en een benoem vir die Kleurlingkiesers.
Hierdie bepalings is weer ingesluit in die Wet op die Grondwet van 1961. Die Parlement moet ontbind word 5 jaar na sy verkiesing, maar kan vroeër ontbind word. Alle lede van die Parlement moes destyds blankes wees het.
Kwalifikasies van Kiesers
Die Suid-Afrika-Wet maak daarvoor voorsiening dat die kieskwalifikasies dieselfde moet wees as dié wat in die vier kolonies voor Unie bestaan het, en dat geen kieser gediskwalifiseer sal word slegs op grond van ras of kleur sonder 'n twee-derde meerderheid in 'n gesamentlike sitting van albei huise van die Parlement nie. Hierdie bepaling en 'n klousule oor taalgelykheid, wat ook nie sonder 'n soortegelyke meerderheid gewysig kon word nie, was bekend as die 'Verskanste Klousules'. Na 'n konstitusionele stryd het die Parlement in 1955 die aantal senatore tot die genoemde 89 vermeerder. Die Kaapse Kleurlingkiesers is in 1956 van die gesamentlike kieserslys verwyder en op 'n afsonderlike kieserslys geplaas waarvolgens hulle vier lede vir die Volksraad kon kies.
Daar was dus drie afsonderlike kieserslyste in die Unie: 'n kieserslys vir blanke kiesers wat regstreeks 150 volksraadslede vir die Unie en ses vir Suidwes-Afrika kies; 'n kieserslys vir spesiale naturellekiesers wat drie volksraadslede vir die Kaap en vier senatore vir die hele Unie kies; en die kieserslys vir die Kleurlingkiesers in Kaapland. Naturelleverteenwoordiging in die Parlement is in 1959 afgeskaf, en nou het alle blankes bo die ouderdom van 18 jaar stemreg. Sekere Kleurlinge in Kaapland wat die nodige kwalifikasies het, mag vier blanke volksraadslede kies.
Die Kabinet
Die Goewerneur-generaal was die verteenwoordiger van die Koningin en die grondwet van die Unie was geskoei op die lees van die Britse konstitusionele monargie. Die Staatspresident neem nou die plek van die Koningin en die Goewerneur-generaal in die grondwet in, maar afgesien daarvan bly die regeringsvorm dieselfde. Die Kabinet bestaan uit 16 ministers wat aan die hoof staan van staatsdepartement. Wanneer ons praat van die Staatspresident-in-Rade, bedoel ons die Staatspresident wat optree op advies van die Kabinet.
Die Eerste Minister tree as voorsitter op by kabinetsvergaderings, en die leerstelling van kollektiewe verantwoordelikheid van die Kabinet is van toepassing. Die ministers is aan die Parlement verantwoordelik en mag in albei Huise sit, maar dit is verpligtend vir enige persoon wat nie 'n parlementslid was toe hy as minister aangestel is nie, om binne drie maande van aanstelling 'n setel in enigeen van die Huise te kry. Voorsiening word gemaak vir aanstelling van agt adjunk-ministers.
Die Provinsiale Rade
Elke provinsie het 'n Provinsiale Raad wat gekies word deur die blanke kiesers. Die getalle was: Kaapland, 52; Natal, 25; Transvaal, 68; Vrystaat, 25. Daarbenewens het Kaapland twee blanke Kleurlingverteenwoordigers wat deur die Kleurlinge gekies word. Die Provinsiale Rade is wetgewende liggame met beperkte gesag binne hulle gebiede. Hulle het dertien onderwerpe onder wetgewende gesag, hoofsaaklik onderwys, hospitale, paaie en nasionale parke. Hulle moet binne die perke van hulle gesag optree, maar binne daardie grense het hulle volmag.
Die Parlement het egter die hoogste gesag beskik. Dit kon te eniger tyd die magte van die Provinsiale Rade beperk of selfs wegneem. Die Rade was in 'n groot mate afhanklik van die Parlement vir finansies by wyse van subsidies en ander inkomste. Die bestuursmagte van die provinsies is uitgevoer deur 'n Administrateur en 'n Uitvoerende Komitee van vier lede.
Die posisie in Suidwes-Afrika was soortgelyk aan dié in die provinsies, die wetgewende liggaam is genoem die Wetgewende Vergadering en nie 'n Provinsiale Raad nie, en daar was 18 lede. Suidwes-Afrika was nie 'n provinsie van die Republiek nie, maar die Parlement van die Republiek kon wette vir die gebied maak.
Die Howe
Daar was een Hooggeregshof vir die hele land, en die voormalige koloniale howe het provinsiale en plaaslike afdelings van die Hooggeregshof geword met 'n Appèlafdeling in Bloemfontein as 'n laaste appèlhof. Die reg van appèl tot die Geheime Raad is in 1950 afgeskaf.
Die gewone howe het hoofsaaklik uit landdroshowe en howe vir Bantoekommissarisse wat siviele en kriminele jurisdiksie het bestaan, maar sekere Bantoehoofmanne het beperkte regterlike magte gehad. Daar was ook Bantoe-Skeihowe en Bantoe-Appèlhowe. Regters van die Hooggeregshof is deur die Staatspresident-in-Rade aangestel en kon nie van hulle amp onthef word nie, behalwe op 'n aanbeveling van albei Huise van die parlement op grond van wangedrag of onvermoë. Sien ook Transkei.
Deur H.J. MAY, Q.C.
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: Sun Dec 22 13:04:01 UTC 2024
|