Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Gras
Gras [boodskap #122012] Vr, 14 Desember 2018 13:49
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Gras wat onder 'n boom groei.
Gras wat onder 'n boom groei.
Gras is eensaadlobbige plante. Dit het oor die algemeen hol stingels met knope en litte. Die smal blare het 'n skede en 'n bladskyf en tussen die twee is 'n vliesige longetjie of 'n randjie hare wat 'n belangrike kenmerk is op grond waarvan sommige spesies onderskei word. Die blomme is klein en onopvallend en kom as are (by koring), pluime (riet) of aarpluime (helmgras) voor.

'n Groot deel van die Suid-Afrikaanse veld is streng gesproke nie grasland nie, maar wel oop, bosagtige landskap waar klosagtige gras (nie borselgras nie) yl groei. In die Karoo is hierdie klosse hoofsaaklik eenjarig. Permanente kort, stomp gras word meer volop in die Hoëveld aangetref, groen in die somer en bruin in die winter. Die struikgewasse en bosse van die Laeveld word omring deur dik, lang gras. Die betreklike vrugbare Wes-Kaapland is vandag 'n gebied waar gemengde boerdery beoefen word en waar grasland 'n klein rol speel. Van Riebeeck het die hange van Tafelberg bedek met groen gras aangetref en die Hottentotte het elke seisoen met hulle vee van plek tot plek getrek. Tydens die 18de eeu het die setlaars wat ooswaarts met hulle eie vermeerderde vee getrek het, nog ryker weiveld binnegegaan. Die Oranje-Vrystaat, waarheen die Voortrekkers in 1836 getrek het, was bedek met weelderige gras. Die naturelle se gebruik van lente-brand - van geringe nadeel vir die swerwende stamme - het die primêre gras, Themeda triandra (rooigras) vernietig. Die Voortrekkers het hierdie gras as die beste weiding van alle soorte beskou. Dit was dan ook waaruit die oorwegende deel van die grasland in daardie tyd, in egalige, digte klosse bestaan het.

Permanente vestiging, ploeëry, brande en aanhoudende weiding het sekondêre en minder voedsame grasse, eenjariges en meerjariges van die Aristida, Eragrostis- en Sporobolus-tipes, tot gevolg gehad. Dit het gepaard gegaan met die rampspoedige verandering in gronderosie. Die plantegroeikaarte wat deur die Adviserende Komitee vir Botaniese Opnames saamgestel is, toon duidelik dat middelmatige grasland uitgebrei het ten koste van bosse, dat doringstruike die grasland binnegedring het, en die ergste van alles, dat die Karoo flora ooswaarts uitbrei. Vandag beslaan bosse en savanne 33 persent van Suid-Afrika, grasland 25 persent en woestynstruike 35 persent. Laasgenoemde bestaan hoofsaaklik uit renosterbos en fynbos wat gedurende drie eeue sowat 13 persent toegeneem het.

Die belangstelling in Suid-Afrikaanse flora deur individuele botaniste dateer terug na die dae van die Oos-Indiese Kompanjiestuin. In die 18de eeu was daar groot versamelaars soos William Burchell, C.F. Ecklon, en K.L. Zeyher. Die wetenskaplike studie van gras het egter nie voor 1858 begin toe dr. Ludwig Pappe aangestel is in die nuwe pos van Koloniale Botanis nie. Hy en sy opvolger eerw. John Croumbie Brown, was die eerste persone wat die aandag gevestig het op die ernstige gevolge van veldbrand op die waterbronne van die Karoo. Die pos van Koloniale Botanis is in 1866 afgeskaf en dit was eers in die laaste dekade van die 1800's dat proefnemings gedoen is in die afbrand en rus van veld deur dr. Schönland van die Universiteitskollege Rhodes, en dat daar gehoor is van die werk van sulke botaniste soos dr. J.M. Wood en die beroemde dr. R. Marloth. Dr. E.E. Calpin was 'n pligsgetroue versamelaar en het sy naam aan 'n grasgenus gegee. Ons het die gewildheid van die Rhodesgras aan Cecil John Rhodes te danke en die belangstelling wat dit onder eksperimentele boere gaande gemaak het. Een van hulle was sir Percy Fitzpatrick wat proefnemings met tonne ingevoerde saad gedoen het om geskikte gras vir winterweiding te vind.

Hy het ook Pasculum en Nieu-Seelandse stoelgras gewild gemaak. In 1905 het dr. I.D. Pole-Evans, verbonde aan die Transvaalse Landbou-afdeling met 'n studie begin oor die rol wat inheemse grasse in die land se ekonomie speel. Sy intensiewe navorsing het uitgeloop op die stigting van die Adviserende Komitee vir Botaniese Navorsing in 1918. In 1910 word dr. J.W. Bews hoof van die Departement Botanie aan die Universiteitskollege Natal. Die ywerige proefnemings van generaal J.C. Smuts op sy plaas naby Irene verdien ook vermelding. Een van die vinger-grassoorte (Digitaria) is na hom vernoem en hy het ook die inleiding van die bekende samevatting The Grasses and Pastures of South Africa, geskryf, wat na sy dood, in 1955 verskyn het. As gevolg van die verskil in temperatuur, reënval en hoogte in Suid-Afrika is die resultate van navorsing in voergrassoorte, kweek en bodem-binders uiteenlopend.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Graskop
Volgende onderwerp: Grass Ridge-dam
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Nov 01 02:20:49 MGT 2024