Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Goud
Goud [boodskap #121989] Do, 13 Desember 2018 18:40
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Goudstawe
Goudstawe
Goud is 'n gesogte edelmetaal met 'n heldergeel (goue) kleur. Goud se chemiese nommer is 79; met simbool Au (Latyns: aurum, vir "dagbreekglans"); atoomgetal 92 en 'n relatiewe atoommassa van 196,97. Die suiwerheid van goud word in karaat gemeet; 24 karaat word as suiwer geag.

Goudmynbedryf in Suid-Afrika

Hoewel die soektog na goud in Suid-Afrika reeds in die tyd van die vroeë Hollandse nedersetting begin het, is die eerste goud van werklike belang eers in die jaar 1870 ontdek. Dit bring mee die stigting van 'n goudveld in die Pelgrimsrus-Lydenburg-gebied in Transvaal vir die ontginning van neerslae op of na aan die oppervlakte. In 1883 begin H.W. Struben (1840-1915) en sy broer F.P.T. Struben (1851-1931) met prospekteerwerk aan die Witwatersrand. Dit lei tot die ontdekking van die Confidence-rif op die plaas Wilgespruit in September 1884. Die Hoofrif gouddraende reeks is in Februarie 1886 op die plaas Langlaagte naby die huidige Johannesburg ontdek. Hoewel die ontdekking uiters belangrik in die geskiedenis van Suid-Afrika is, is dit onbekend presies hoe die ontdekking gemaak is en verskeie mense het op dié eer aanspraak gemaak. Ontdekkingsregte is egter deur die Regering toegestaan aan George Walker en 'n Australiër, George Harrison. Een van hulle het glo oor die Hoofrif-dagsoom gestruikel en 'n stuk goudhoudende erts losegetrap. Sommige gesaghebbendes meen dat die ontdekking onvermydelik was as gevolg van die werk van die Strubens.

Daar bestaan ook verskillende menings oor die geologiese geskiedenis van dié rif, en ander wat later ontdek is. Hierdie riwwe is deel of uitbreidings van die Witwatersrand se rotsstelsel, 'n stelsel van lae afsettingsgesteentes sowat 25,000 voet dik. Aanvanklik het hierdie lae waarskynlik min of meer horisontaal gelê, maar opeenvolgende aardbewegings en kontraksies het dit die vorm van 'n piering gegee. Een teorie is dat goud in die vorm van fyn verdeelde stof deur riviere afgevoer is en neergelaat is op die bedding van 'n groot binnelandse meer wat binne in die piering gevorm het. Hierdie relatiewe swaar stofdeeltjies het op die bodem van die meer om klippies en gruis saamgepak en is bedek deur modder en sand wat uiteindelik skalie en kwartsiet geword het. Na tydperke toe ander rotslae wat nie goudhoudend was nie, gevorm het, is meer nou riwwe in die stelsel neergelaat soos goudblare in 'n baie groot boek. Toe is die hele stelsel gekantel en afgesny deur groot opheffings van die aardkors en die stelsel is geleidelik bedek deur jonger afsettingsneerslae. Toe sommige van dié jonger afsettingsneerslae gedeeltelik verweer is, is 'n gedeelte van die piering se gouddraende rant blootgelê as 'n dagsoom langs die sentrale Witwatersrand.

Die goudmynbedryf is van hierdie dagsoom af ontwikkel, eers in 'n reeks vlak ontginnings met skuins skagte. Later moes die ertsriwwe diep onder die oppervlakte gevolg word.

Om hierdie riwwe te bereik is skagte deur die barre rots gegrawe en tonnels, genoem dwarsgange, op verskeie vlakke horisontaal oopgeskiet om by die skuins vlakke uit te kom. Van die dwarsgange af word ander tonnels weer horisontaal gegrawe langs die loop van die rif. Tonnels op opeenvolgende vlakke word dan deur opwaartse tonnels op die vlak van die rif verbind, en afwaarts wanneer dit 'daalgange' genoem word sodat die rif in groot blokke verdeel word. Die erts word dan uitgehaal deur voortdurend die gange te vergroot. Die kamers wat sodoende gevorm word, word 'n afboufront genoem.

Rotsbreking in goudmyne - skaggrawing, die maak van tonnels en afbouwerk - word gedoen deur spring-ladings wat in masjien-geboorde gate geplaas word. Die gebreekte erts word na die skag vervoer en daarvandaan na die oppervlakte opgehys waar dit deur reduksiewerke gemaal word tot so fyn soos gesigpoeier en dan met water gemeng word om 'n pap te vorm.

Die myningenieur en metallurg herwin die goud deur die erts na 'n toestand te laat terugkeer wat ooreenstem met sy prehistoriese staat. Die pap word dan in 'n sianiedoplossing geroer en die fyner stof word deur die sianied opgelos.

Die volgende stap is om deur filtrasie die slyk van die gouddraende oplossing te skei en dan die gouddraende oplossing met sinkstof te laat neerslaan. Die goudneerslag is 'n swart slyk wat dan behandel word met suur, gefiltreer, gekalsineer en gesmelt word in kroese voordat dit in goudstawe gevorm word. Die stawe word deur die goudmyne by die Randse Affineerdery, Germiston - die grootse suiweringsinstallasie in die wêreld - afgelewer waar silwer en ander onedele metale wat nog in die goudstawe teenwoordig is, verwyder word en stawe fyn goud, wat elk sowat 400 onse weeg (en in die 1960's ongeveer R10,000 werd was) geproduseer word. In dié vorm word die goud bemark.

Organisasie van die Bedryf

Van die vroegste dae af is besef dat die gemeenskaplike belange van die goudmyne die beste bevorder kan word deur 'n sentrale koöperatiewe organisasie. So 'n organisasie is die Transvaalse Kamer van Mynwese, wat in 1889 gestig is.

Die Kamer van Mynwese, destyds die Transvaalse en Vrystaatse Kamer van Mynwese, is 'n organisasie waarvan die lede die goud, steenkool en uraan-produserende maatskappye is. Dit bied aan die lede die geleentheid om alle sake van gemeenskaplike belang te bespreek. Die Kamer tree op namens sy lede oor sake rakende die mynbedryf in geheel, soos die onderhandelings met vakbonde, die werwing van arbeid, die voorkoming van ongelukke, tegniese navorsing, die suiwering van goud en die voorbereiding van uraanoksied vir verskeping.

Die Kamer vorm ook 'n skakel tussen die groot finansiële mynkorporasies of groepe, en verbreed sodoende die veld van samewerking tussen die produsente.

Kort na die ontdekking van die Witwatersrandse goudriwwe het dit duidelik geword dat die ontginning op al hoe groter dieptes onder die oppervlakte veel meer geld en tegniese werkverrigtinge sal vereis as wat ooit tevore in die goudmynwese nodig was.

In die Groepstelsel word die myne onder 'n enkele korporasie of maatskappy saamgevat, en deur hulle idees en sekere dienste saam te gooi, word waardevolle tegniese hulp verkry teen 'n redelike koste - iets wat andersins nie moontlik sou wees nie. Die korporasies doen die aanstellings van bestuurs- en sekretariële personeel; raadgewende-, myn-, meganiese- en elektrotegniese ingenieurs; metallurge; geoloë en adviseurs.

In praktyk het elk van die sewe vernaamste myngroepe 'n verteenwoordiger in die Goudprodusentekomitee van die Kamer van Mynwese. Die Bestuurskomitee van die Kamer het magte aan dié liggaam gedelegeer om sake wat die belange van die goud- en uraanmynbedryf raak, te hanteer.

Die Goudprodusentekomitee bestaan uit die president van die Kamer, twee onder-presidente en vier ander lede.

Die Goudmyngebiede

Die goudproduserende myne, wat lede van die Kamer is, strek in 'n boog van sowat 350 myl van Evander aan die verre Oos-Rand tot in die Oranje-Vrystaat. Dit loop van Evander, die jongste goudveld aan die verre Oos-Rand, in 'n noordwestelike rigting na Springs en dan weswaarts deur die Wes-Rand tot by Randfontein. Na 'n kort afbreking begin die myne weer aan die verre Wes-Rand op die lyn wat rofweg suidwaarts na Potchefstroom en na die myne in die distrik Klerksdorp loop. Nadat dit die Vaalrivier oorgesteek het loop die boog suidwaarts deur die Vrystaatse goudveld tot by Virginia.

Langs die boog was daar in die eerste kwartaal van 1964 55 goudproduserende myne, wat lede van die Kamer van Mynwese was, en 'n paar kleiner myntjies. Nog 'n myn, Zandpan, het in Julie 1964 met produksie begin, terwyl nog twee, Kinross en Kloof, in die vroeë stadiums van ontwikkeling was.

In 1963 was die vernaamste syfers van lede van die Kamer soos volg: totale produksie, 26,911,963 fyn onse; inkomste - R677,514,883 en dividende - R117,038,513 (insluitende R2,679,154 terugbetaling van kapitaal en R1,467,396 tussen-maatskappy wins). Die arbeidsmag het bestaan uit 47,350 Blankes en 381,400 Bantoes, terwyl die jaarlikse lone en salarisse R 185,000,000 beloop het. Die myne het ook meer as R33,915,058 aan Suid-Afrikaanse plaasprodukte bestee. Nog R231,197,420 is bestee aan voorrade, waarvan 93.5 persent van Suid-Afrikaanse oorsprong was.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Goudini
Volgende onderwerp: Goudwet
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Nov 25 03:16:29 MGT 2024