Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Diamant
Diamant [boodskap #121623] Tue, 04 December 2018 06:54
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die Cullinan-diamante.
Die Cullinan-diamante.
'n Diamant is 'n klein kosbare, skitterende edelsteen. Dit is die hardste natuurlike materiaal wat daar is. Diamante se gewig word in karaat bepaal. Die grootste sierdiamant ooit gevind is die Cullinan-diamant van 3 024,75 karaat. Sien ook kunsdiamant.

Diamantbedryf in Suidelike Afrika

Diamante is in 1866 in Suid-Afrika ontdek en die diamantbedryf is in 1888 stewig gevestig met die stigting van die De Beers Consolidated Mines. Die bedryf beklee 'n belangrike plek in die Suid-Afrikaanse ekonomie en was die fondament van sy moderne industrialisasie. Die jaarlikse waarde van die gesamentlike opbrengs van die Republiek en Suidwes-Afrika (nou Namibië) is hoër as dié van enige land in die wêreld.

Suid-Afrika se vernaamste diamantpype is die in die Kimberley-gebied van die Kaapprovinsie, by die Premiermyn naby Pretoria, die Nuwe Jagersfontein-myn in die Oranje-Vrystaat en die jongste toevoeging is die Finsch-pyp wat naby Postmasburg in Noordwes-Kaapland ontdek is. Die vernaamste spoeldiamantgebied in Suidelike Afrika is naby die mond van die Oranjerivier. Spoeldiamante word deur die Consolidated Diamond Mines van Namibië (Suidwes-Afrika) ontgin by Oranjemund; by die Staatsdiamantdelwerye suid van die Oranjeriviermond; by Kleinzee aan die Namakwalandse kus van Kaapland; in die vallei van die Oranje benede die aansluiting by die Vaalrivier en in die Vaal-Hartsrivier-gebiede.

Benewens hierdie diamantbronne word diamante ook in die jongste tyd met behulp van 'n vragskuit of barg uit die see gehaal naby die kus van Namibië (Suidwes-Afrika). Prospekteerwerk word uitgevoer deur De Beers se prospekteerskip, die Rockeater.

Die vier myne in die Kimberley-gebied waar die Suid-Afrikaanse diamantbedryf begin het - Wesselton, Dutoitspan, Bultfontein en De Beers-produseer jaarliks ongeveer 1,600,000 karaat of nagenoeg 33 persent van die opbrengs van die Republiek en Namibië (Suidwes-Afrika).

Die werk by Kimberley se beroemde 'Groot Gat', wat in die 43 jaar van sy bestaan diamante ter waarde van nagenoeg R100,000,000 opgelewer het, is in 1914 gestaak. Die ou De Beers-myn, wat in 1908 gesluit is, is teen die einde van 1963 heropen vir produksie.

Die Premiermyn, waar die wêreld se grootste diamant, die Cullinan-diamant van 3,025 karaat in 1905 ontdek is, is een van Suid-Afrika se grootste diamantmyne. Teen 1965 het die myn nagenoeg 10,500,000 vragte (sowat 1,600 pond per vrag) blougrond per jaar gehanteer. Dit het 2,500,000 karaat opgelewer. Nywerheidsdiamante beloop sowat 80 persent van die myn se opbrengs.

By Oranjemund in Namibië (Suidwes-Afrika) en meer as 50 myl noordwaarts, word die diamantdraende neerslae onder die woestynsand ontgin deur die Consolidated Diamond Mines of Namibië (South West Africa). Die opbrengs, wat hoofsaaklik uit edelstene bestaan, was in 1965 sowat 1,400,000 karaat.

Mynontginning en herwinningsmetodes

Die diamante word uit die blougrond gehaal wat uit die pype by Kimberley, Nuwe Jagersfontein en Premier kom, nadat die grond fyngemaak en behandel is in 'n herwinninginstallasie. Die installasie by Kimberley maak gebruik van groot elektriese waspanne wat op dieselfde beginsel werk as die klein handwaspanne wat in die vroeë dae deur delwers gebruik is.

Die draaibeweging van die vloeistof in die panne laat die swaar materiaal of konsentraat in die blougrond, insluitende die diamante, na die kant beweeg. Die ligte materiaal of afval word weggevoer na afvalhope, terwyl die konsentraat na die ghriestafels gevoer word. Die diamante sit in die ghries vas en die res van die materiaal gaan oor die tafel en word weggegooi. Die ghries wat die diamante bevat, word afgekrap en gekook. Daarna word die diamante in suur skoongemaak en geskei van enige ander materiaal wat moontlik in die ghries kan vassit

In ander installasies word 'n swaar medium skeidingsproses gebruik wat op die beginsel werk dat diamantdraende konsentrate as gevolg van hulle groter soortlike gewig na die bodem van die vloeistof sal sink wat die vergruisingsmateriaal bevat, terwyl die ligter materiaal sal dryf en as afval weggevoer word. Vir die skeiding van klein diamante word elektrostatiese skeidingsmetodes gebruik op grond van die feit dat diamante nie-geleidend is, terwyl die afvalmateriaal elektrisiteit gelei.

By al die myne word die diamante na sentrale sorteerkantore geneem. Dit word gesorteer in verskillende kategorieë op grond van grootte, kleur, vorm en gehalte.

Die ontginningsmetodes langs die Namibiese (Suidwes-Afrikaanse) kus verskil van die in die pypmyne in Suid-Afrika. By die Consolidated Diamond Mines of Namibia (South West Africa) is die vernaamste ontginningstaak nie die opbreking van die blougrond nie, maar die verwydering van die miljoene tonne sand bolaag. Gemiddeld 18 ton sand en gruis word verwyder vir elke karaat diamant wat herwin word, of 'n verhouding van 80,000,000 dele vir een.

Diamantbemarking

Tot laat in die 19de eeu was daar geen stelsel om diamantverkope te koördineer nie. In 1892, ses jaar na die stigting van De Beers Consolidated Mines, Bpk., vind die handelsdepressie plaas en die mededingende diamanthandelaars van Kimberley vind hulleself in besit van groot voorrade wat 'n ernstige ineenstorting van die diamantpiys sou veroorsaak het as dit bemark sou word. In 1893 is die Diamantsindikaat, die kern van die Sentrale Verkoopsorganisasie, gestig.

Onder die hedendaagse bemarkingstelsel is die vernaamste diamantprodusente in Suid-Afrika en Namibië (Suidwes-Afrika), insluitende al die De Beers-myne, Consolidated Diamond Mines of Namibia (South West Africa), die Premier-diamantmyn, die Staatspoeldelwerye en die Diamantkorporasie almal lede van die Diamantprodusentevereniging, wat die bemarking van hulle sierdiamante koördineer. Die Diamantprodusentevereniging het sy hoofkantoor in Kimberley waarheen die Suid-Afrikaanse produsente hulle diamante stuur vir sortering en waardering. Die hoof-waardeerder bepaal die waarde van die slypbare sierstene en dit word dan op 'n kwotastelsel verkoop waarvolgens elke lid van die Vereniging geregtig is om 'n sekere persentasie van die diamante wat deur die mark benodig word, te verkoop. Eers word dit verkoop aan die Diamond Purchasing and Trading Company en dan aan die Diamond Trading Company, wat die diamante volgens 'n stelsel van maandelikse 'sights' in Londen en Johannesburg verkoop. Kopers word uitgenooi om om 'n 'sight' aansoek te doen; dit is om te spesifseer watter hoeveelheid en gehalte stene hy wil hê.

Afhangende van die beskikbare voorraad word die diamante dan in afsonderlike pakkies vir die kopers opgemaak.

Die verkoopsmaatskappye beskik oor voldoende fondse wat hulle in staat stel om van die kopers te koop selfs in resessietye. Daarmee verminder hulle die risiko aansienlik dat hulle gedwing word om diamante aan te bied as die mark nie na wense is nie. Dus kan 'n te groot aanbod nooit die mynbedrywighede tot stilstand bring nie, 'n feit wat van die uiterste belang is vir sowel die mynbedryf as diegene wat daarvan afhanklik is vir 'n lewensbestaan.

Nywerheidsdiamante word van sierstene geskei deur die sorteerders (van die Diamantprodusentevereniging in Kimberley en die Diamond Corporation in Londen en word dan na Johannesburg gestuur vir verdere sortering in verskillende nywerheidskategorieë. Die stene wat in Johannesburg ontvang word, is nie net van die nywerheidsdiamantmyne in Suid-Afrika afkomstig nie, maar van baie dele van die wêreld.

Na sortering word dit bemark deur Industrial Distributors (1946) Bpk. en deur Industrial Distributors (Sales) Bpk., in Londen en Suid-Afrika. Elke siersteen, klein of groot, moet individueel ondersoek word en dit kos ekstensiewe deskundige kennis en ondervinding om dit te waardeer. Diamante verskil in dié opsig van alle ander mynprodukte dat die finale ru-produk in meer as duisend verskillende kategorieë ingedeel kan word. Die gehalte van die diamant word bepaal deur die afwesigheid van glesse en deur die kleur, en die indeling is daarop gemik om aan elke steen 'n bepaalde waarde te gee. Deur hierdie indeling word 'pakkies' van duidelike gedefinieerde groepe diamante opgemaak. Die netto verkope van diamante deur De Beers se Sentrale Verkoopsorganisasie het in 1966 die rekordtotaal van R355,691,648 beloop.

Diamantnavorsing

Aan die buitewyke van Johannesburg is 'n unieke laboratorium wat uitsluitlik aan diamantnavorsing gewy word. Dit doen navorsing in diamantherwinningsprosesse en in metodes om nywerheidsdiamante te verbeter. Dit doen ook navorsing op alle aspekte van die diamant.

Die Diamantnavorsingslaboratorium is een van 'n kompleks laboratoriums, waaronder die De Beers-Diamantlaboratorium, waar Suid-Afrikaanse wetenskaplikes die eerste keer 'n metode ontdek het om kunsdiamante te maak na drie jaar van navorsing. Hierdie kunsdiamantmateriaal word nou vervaardig in fabrieke toegerus met Suid-Afrikaanse masjinerie op Springs aan die Oos-Rand en op Shannon in Ierland. Kunsdiamantmateriaal word op groot skaal in nywerheidswerktuie gebruik.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Kunsdiamant
Volgende onderwerp: Dias, Bartholomeüs
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sun Dec 22 08:48:55 UTC 2024