Tuis » Taal » Ensiklopedie » Beeldhoukuns
Beeldhoukuns [boodskap #121134] |
Vr, 23 November 2018 17:21 |
|
Inligting
Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
|
Senior Lid |
|
|
Beeldhouwerke word deur 'n beeldhouer gemaak van materiale soos brons, yster, beton, klei, was, gips, of deur 'n klipbeeldhouer van natuurlike steen soos marmer, graniet en sandsteen. Borsbeelde en standbeelde is gewilde voorbeelde van beeldhoukuns.
Die eerste Suid-Afrikaanse beeldhouer wat hom onderskei het, was Anton Anreith in die 18de eeu. Baie van sy kunswerke kan nog in die Kaap gesien word. Min verdienstelike werk is in die 19de eeu gedoen en die meeste beeldhouwerke is van oorsee ingevoer. Hoewel self van Hollandse afkoms, het Anton van Wouw 'n kenmerkende Suid-Afrikaanse styl ontwikkel en sy studies van Boere en naturelle is besonder treffend. Meer onlangs is 'n waardevolle bydrae gelewer deur wyle E. Mayerowitz, 'n uitstaande houtsneekunstenaar, asook deur Moses Kottler en Lippy Lipschitz, wat 'n verskeidenheid mediums gebruik het in sowel hout as klip. Kottler se werk wissel van teer akkuraat tot modern, terwyl dié van Lipschitz essensieel modern is. Nog 'n voortreflike Suid-Afrikaanse kunstenaar is I. Mitford-Barberton. Immigrantebeeldhouers wat hulle in Suid-Afrika gevestig het, onder andere Ernest Ullman, Zoltan Barborecki en F. Cuairan, was verantwoordelik vir treffende en pragtige studies van Suid-Afrikaanse onderwerpe.
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
|
|
|
Re: Beeldhoukuns [boodskap #132914 is 'n antwoord op boodskap #121134] |
Ma, 17 Augustus 2020 19:48 |
|
Inligting
Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
|
Senior Lid |
|
|
Beeldhoukuns is die kuns om figure uit te kap of te vorm, gewoonlik uit klip, hout of metaal. Die eerste beeldhouers was miskien manne uit die Steentyd. Die Egiptenare het kolossale figure 3500 v.C. gebeeldhou, ook beeldjies van mans, vroue, diere, voëls, ofskoon al hulle mensefigure in ’n regop houding voorgestel is en sonder ’n sweem van aksie was. Assiriese beeldhouers het oorlogstonele, krygsmanne, en diere met vlerke en mensekoppe uitgebeeld.
Die beste oud-Griekse beeldhouwerk dagteken uit die 6de eeu v.C. Myron was ’n beeldhouer bekend in die 5de eeu v.C. en onder sy beroemdste werk was die Discobolus, beeld van ’n jong man wat die diskus gooi. In die luisterryke eeu van Pericles (ca. 500 - 429 v.C.) was die grootste Griekse beeldhouer Phidias, die Athener. Aan hom is die taak opgedra om beeldhouwerk te versamel vir die versiering van geboue op die Akropolis, waar sy eie beeld van die godin Athena, oor die 40 vt. hoog, onder die skitterende meesterstukke van die Griekse kuns was; en sy reusagtige beeld (in ivoor en goud) van Zeus was ongetwyfeld van die wondere van die ou wêreld. Nog ’n Griekse beeldhouer was Praxiteles (oorl. ca. 340 v.C.), beroemd vir sy beeldegroep Hermes met die Jeugdige Dionysus. Onder die latere Griekse beeldhouwerk is die Gevleuelde Nike van Samothrace, Apollo Belvedere, Die Sterwende Galliër (bekend as Die Swaardvegter), en Die Laokoön, in Rome ontdek in 1506, ’n groep wat voorstel hoe ’n Trojaanse priester en sy twee seuns deur slange doodgedruk word.
Die Griekse beeldhoukuns wat nog nooit oortref is nie, besit ’n unieke skoonheid, en selfs vandag nog word die volmaakte menslike gestalte beskou as dié wat die Griekse beeldhoukuns ons getoon het, bv. Polycletus, of dié meester in sy vak wat in die 2de eeu die ongeëwenaarde Venus van Milo, gevind in 1820 op Melos (nou Milo), ’n Griekse eiland, gebeeldhou het.
Die Romeinse beeldhouers het veral uitgeblink in die maak van borsbeelde, d.w.s. alleen die kop en skouers. Die Renaissance in Europa (15de eeu) het ’n aantal beeldhouers van naam voortgebring, o.a. -
(a) Donatello (oorl. 1466),’n Italianer, geb. Florence, (moontlik die grootste beeldhouer sedert die klassieke tye) onder wie se werke daar ’n beroemde figuur van St. Georg is op die eerste perd wat ooit in brons gegiet is, ook ’n bronsfiguur van Dawid;
(b) Andrea del Verrocchio (1435 - 88), ook geb. Florence, ’n leerling van Donatello en leermeester van Leonardo da Vinci; veral onthou vir sy ruiterstandbeeld van Bartolomeo Colleoni, ’n Italiaanse soldaat;
(c) Michelangelo, die skilder, wat ook ’n beeldhouer sonder weerga was; sy marmergroep La Pietá (in die St. Pieterskerk, Rome) is wêreldberoemd.
Ander en latere beeldhouers van naam is Antonio Canova (1757 - 1822), ’n Italianer; die Engelse beeldhouers John Flaxman (1755 - 1826), en sir Francis Chantrey (1781 - 1841).
Die beeldhoukuns is van die stereotipe gered deur François Auguste Rodin (1840 - 1917), ’n Franse beeldhouer vol vitaliteit, wat naam gemaak het met sy ruwe, dramatiese en indrukwekkende beelde, bv. Burgers van Calais en Die Denker; Constantin Meunier (1831 - 1905), ’n Belgiese beeldhouer wat opspraak verwek het met sy beelde van myn- en fabriekswerkers, en ook plaasarbeiders; Jacob Epstein, seun van Russiese en Poolse ouers, geb. New York 1880, wat hom in 1905 in Londen gevestig het. Sy werke, veral sy borsbeelde, is dikwels pragtig, vol krag en karakter; dog sommige van sy stukke (bv. Nag, of Christus, in 1920 gemaak), is lomp van voorkoms, en het al groot verskil van mening onder kunskritici uitgelok. ’n Moderne beeldhouer van formaat is die Engelsman Henry Moore (geb. 1898), wie se werke diep gevoel uitdruk. Nog maar min vroue het sukses met die beeldhoukuns behaal; ’n uitsondering is Barbara Hepworth (1903).
Die grootste beeldhouwerk in die wêreld is die hoofde van vier Amerikaanse presidente (Washington, Jefferson, Lincoln en Theodore Roosevelt) uitgekap in ’n rotskrans, 3,000 vt. lank en 800 vt. hoog, Mt. Rushmore, Suid-Dakota.
In die reël begin ’n beeldhouer deur ’n kleimodel te maak, gebou op ’n ysterraarmverk (wapening); dit kan gebak word om ’n terra-cotta-model te vorm, of ’n gietvorm van gips kan daarvan gemaak word en nog ’n gipsmodel daarmee verkry word wat die beeldhouer dan in marmer uitkap. ’n Gietvorm word ook gebruik wanneer beelde in brons gegiet word.
Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: Do Nov 21 09:13:31 MGT 2024
|