Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Oupa Opperman se bywoner
Oupa Opperman se bywoner [boodskap #8425] Vr, 07 Februarie 1997 00:00
Leendert van Oostrum[2]  is tans af-lyn  Leendert van Oostrum[2]
Boodskappe: 264
Geregistreer: Februarie 1996
Karma: 0
Senior Lid
Gloudina skryf:
> Die Omius van Oostrum van wie ek geweet het, was
> as onderwyser aangestel op die plaas van die oupa van
> Dirk Opperman (in April 1903.)

Hy was my grootjie. Een van Paul Kruger se Hollandse
onderwysers wat in 1898 in die Transvaal begin skoolhou het.

Hy is saam met Cronje by Paardeberg gevang en na Ceylon
gestuur waar hy skoolgehou het vir ander gevangenes.

Sy vrou en kleuters is na etlike maande in die Potchefstroomse
krygsgevangenekamp na Nederland gerepatrieer - Op 'n
troepskip sonder wasgeriewe van Kaapstad deur die trope na
Southhampton. Van Southampton na London is hulle in 'n
skotskar vervoer met 'n kennisgewing "This is what the dirty
Boers look like". Vandaar na Nederland. Die vrou was 'n
Fries (soos haar man) en soos die Friese in elk geval manies oor netheid.
Sy het die rit in die skotskar nooit verwerk nie en is mettertyd tot waansin
gedryf deur die herinnering.

Na die oorlog het haar man geweier om die eed van getrouheid te teken,
en kon dus nie weer as onderwyser in die kolonies dien nie. Hy
het as "tallyman" in die Durbanse hawe gewerk totdat hy die pos
op Opperman se plaas aangebied is. Terwyl hy daar was het hy
weer die reg gekry om as onderwyser te werk - sonder om die eed
te neem - deur bemiddeling van 'n Britse offisier wat by Paardeberg
in die niemandsland tussen die linies gewond is, en wat hy en 'n
paar ander Boere uitsgesleep en verpleeg het.

Na die oorlog wou Brittanje nie sy Transvaalse burgerskap (verwerf
deur deelname aan die oorlog) erken nie en die Nederlanders het, om
dieselfde rede, nie meer sy Nederlandse burgerskap erken nie. Hy en
sy gesin was staatloos tot omtrent 1920.

> Hy het later 'n bekende
> opvoedkundige in Transvaal geword. In 1943 het hy 'n
> boek "Bestendige Onbestendigheid" geskryf.

Sy outobiografie - akkurate titel. Ek het enkele kopieë daarvan.
Hy het ook 'n paar dosyn skoolboeke ook geskryf in verskeie vakke,insluitende
wiskunde, sangonderrig en van die eerste grammatikaboekevir Afrikaansonderrig.

Hy het ook van die eerste Afrikaanse toneelstukke in Pretoria
op die planke gebring. Eugene Marais het goedkeurende
resensies daaroor geskryf.

Hy was ook lank die orrelis van die Grote Kerk in Bosmanstraat.
Sy eie orrel, sy boeke en ander besittings is deur die Britte verbrand
maar sy familiebybel het iemand jare na die oorlog uit Ierland vir hom
teruggestuur. Dit is saam met 'n groot aantal ander dokumente, fotos
en artifakte in die oorlogsmuseum in Bloemfontein. (Gewoonlik nie op
uitstalling nie.)

> Ek kry hier-
> die informasie uit die biografie wat Kannemeyer oor Dirk
> Opperman geskryf het.

Ek het altyd gewonder of die Opperman in Zoeloeland wat
hy in sy boek noem verwant was aan die een wat uit daardie
streke in Stellenbosch te lande gekom het. Moes daaraan
gedink het om in laasgenoemde Opperman se geskiedenis
te kyk :-)

Dankie vir die inligting.

Groete, Leendert
Vorige onderwerp: "Heksery" van ROSA SMIT
Volgende onderwerp: Logomachy
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Jun 02 05:10:36 MGT 2024