Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Afrikaans, ons taal » Tale en die grondwet
Tale en die grondwet [boodskap #120647] Vr, 29 Junie 2018 05:56
Jan die Man  is tans af-lyn  Jan die Man
Boodskappe: 523
Geregistreer: Mei 2018
Karma: 22
Senior Lid
deur A C Cilliers, Stellenbosch
(Professor emeritus aan die Universiteit van Port Elizabeth)

Die Grondwet bepaal enersyds dat alle amptelike tale in Suid-Afrika gelyk is en gelyk behandel moet word, maar eintlik is die grondwetlike bepalings só bewoord dat dit geleentheid skep vir een of meer tale om ander amptelik te verdring. Die oplossing van taalstryde in Suid-Afrika kan in 'n groot mate afhang van moontlike grondwetlike wysigings.

Die oorgangsgrondwet van 1993 het o.m. bepaal dat regte met betrekking tot taal en die status van tale wat by die inwerkingtreding van daardie Grondwet bestaan, nie ingekort word nie. Die huidige Grondwet bevat nie 'n soortgelyke bepaling nie. Sodanige regte kan dus wettiglik "ingekort" word, en dit geskied voortdurend.

Die huidige Grondwet bepaal in artikel 6 dat die nasionale regering en provinsiale regerings "enige bepaalde amptelike tale vir regeringsdoeleindes [kan] aanwend", met inagneming van sekere faktore, maar sodanige regerings moet minstens twee amptelike tale gebruik. Bogemelde faktore sluit in "gebruik, doenlikheid, koste, streeksomstandighede en die ewewig van die behoeftes en voorkeure van die bevolking ..."

"[G]ebruik" word eerste genoem. Dit is dus die belangrikste faktor. Koste word slegs derde genoem, ná doenlikheid. Munisipaliteite moet "die taalgebruike en -voorkeure van hul inwoners" in ag neem. Niks verder word in hul geval deur die Grondwet geverg nie: koste en doenlikheid word in hul geval nie eers genoem nie.

Die belangrikste en gemeenskaplike faktor by die aanwending van amptelike tale is "gebruik" (nasionale en provinsiale regerings) en "taalgebruik en voorkeure"( munisipaliteite), wat op wesenlik dieselfde neerkom.

Taal word geskep en leef in die volksmond. 'n Taal bestaan ter wille van 'n volk, nie ter wille van regerings nie. Daar is geen definisie van "amptelike taal" in die Grondwet nie. "[Taal]gebruik" beteken tog gebruik deur die bevolking, nie deur die regering nie. Die woorde van die Grondwet "vir regeringsdoeleindes" skep verkeerdelik die indruk dat 'n taal "amptelik" is ter wille van regeringsgebruik.

Die name van heelwat volke en hul vaderlande word ontleen aan die tale wat daardie volke praat en skryf. Die moedertaal van Duitsers is Duits, en die vaderland van die meeste Duitsers is Duitsland. Dieselfde geld vir Engelse, Franse, Italianers, ens. "Die taal is gans die volk" -- aldus Generaal Hertzog.

'n Enkele voorbeeld van dreigende taalverdringing, wat onder die oorgangsgrondwet van 1993 nie bestaan het nie, volg hier.

Die oorgangsgrondwet het in artikel 107 o.m bepaal dat 'n party by 'n geding, 'n beskuldigde en 'n getuie gedurende die verrigtinge van 'n hof
(a) die Suid-Afrikaanse taal van sy of haar keuse kan gebruik en
(b) kan eis dat die die verrigtinge van 'n hof waarby hy/sy betrokke is, in 'n taal wat hy/sy verstaan, vertaal word.

Die huidige Grondwet het 'n bepaling soos (a) hierbo geskrap. In 'n strafverhoor het 'n beskuldigde vandag ingevolge artikel 35(3) slegs die reg om verhoor te word in 'n taal wat hy of sy verstaan, of, as dit nie doenlik is nie, dat die verrigtinge in daardie taal getolk word.

'n Afrikaanssprekende beskuldigde kan byvoorbeeld gedwing word om, as hy/sy sou getuienis lewer, dit in Engels te doen en om aan die hofverrigtinge in Engels deel te neem net omdat hy/sy Engels verstaan. Is dit 'n "billike verhoor" (inleidingsin van artikel 35(3))? Is dit nie "onbillike diskriminasie" op grond van taal soos beoog deur artikel 9 van die Grondwet (sien hieronder) nie?

Op bogemelde wyse kan Afrikaans of menige ander inheemse tale grootliks deur Engels as hoftaal verdring word.

Ek stel voor dat artikel 6 van die Grondwet soos volg gewysig word:
  • Herverordening van die bepalings van die tussentydse Grondwet van 1993 -
    (a) wat die inkorting van sekere taalregte verbied het;
    (b) wat aan 'n persoon die reg gegee het om, waar dit uitvoerbaar is, in sy of haar betrekkinge met enige staatsadministrasie op die provinsiale regeringsvlak enige van die provinsiale amptelike tale van sy/haar keuse te gebruik en om daarin aangespreek te word, en, op die nasionale regeringsvlak, enige amptelike Suid-Afrikaanse taal van sy/haar keuse te gebruik en daarin aangespreek te word.

  • Invoeging van 'n bepaling met die volgende strekking: "Die reg van 'n persoon om in die taal van sy of haar keuse aangespreek te word, word nie deur enige wetgewer ingekort nie, behalwe deur 'n meerderheid van 90% van die totale getal lede van sodanige wetgewer, hoofsaaklik op grond van algemene streeksgebruik."

  • Omskepping van die huidige bloot aanbevelende magte van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad tot uitvoerende magte, met uitsluiting van regeringskontrole oor die samestelling en werksaamhede daarvan. Dit behoort verteenwoordigend van die verskillende taalgroepe in die land te wees, d.w.s 'n voorbeeld van "wigte en teenwigte" in die Grondwet, soos deur sommige groepe by CODESA beoog.
Moontlike daarstelling van bogenoemde voorgestelde wysigings verg die samewerking van die regering. Is hierdie voorstelle onprakties in soverre dit toepassing betref? As dit teoreties moontlik die beste oplossing is, is die praktiese toepassing daarvan 'n vraag van 'n tweede orde. In hierdie verband is artikel 9 van die Grondwet relevant.

Artikel 9 verbied die staat om regstreeks of onregstreeks "onbillik" teen iemand te diskrimineer, onder meer op grond van taal. Ingevolge artikel 9(4) is diskriminasie onbillik tensy daar vasgestel word dat dit billik is. Die onus is dus op die staat om te bewys dat taaldiskriminasie in 'n bepaalde geval billik is.

Die oorgangsgrondwet het in artikel 3(9) bepaal dat wetgewing, asook amptelike beleid en praktyk met betrekking tot die gebruik van tale op enige regeringsvlak onderworpe is aan en gegrond is op onder meer sekere beginsels. Hierdie beginsels sluit in die voorkoming van die gebruik van enige taal vir die doeleindes van uitbuiting, oorheersing of verdeling. Hierdie bepalings is nie herverorden in die huidige Grondwet nie. Hoekom nie?

Indien die Grondwet, in soverre dit tale betref, nie verbeter word nie, is dit moontlik vir die staat om, by wyse van finansiële kontrole van opvoedkundige en ander inrigtings, oorheersing van bepaalde amptelike tale te bewerkstellig in stryd met die hoë ideale beoog deur bogemelde artikel 3(9).

(Met erkenning aan De Rebus, Maart 2003)
Vorige onderwerp: Die ydelheid van ons woorde
Volgende onderwerp: Die oorspronge van Afrikaans
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Nov 21 08:32:17 MGT 2024