Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Afrikaans, ons taal » Kort oorsig oor die geskiedenis van Afrikaans (Vriende van Afrikaans)
Kort oorsig oor die geskiedenis van Afrikaans [boodskap #120643] Wo, 27 Junie 2018 10:38
Jan die Man  is tans af-lyn  Jan die Man
Boodskappe: 514
Geregistreer: Mei 2018
Karma: 22
Senior Lid
KORT OORSIG OOR DIE GESKIEDENIS VAN AFRIKAANS

Die geskiedenis van Afrikaans is een lang relaas van onderdrukking. Keer op keer moes ons op die swaar manier leer dat met mooipraat en 'n beroep op redelikheid net mooi niks bereik word nie.

Of ons daarvan hou of nie, ons as Afrikaanssprekendes word opnuut, teen ons wil, gedwing om vas te skop. Ons word gedwing om, teen ons aard, onaangenaam te wees. So nie, gaan ons onder. Mooipraat en redelikheid is nutteloos teen mense wat daarop uit is om ons taal onder te ploeg.

Wat kan ons doen? Ons is nie van nature onaangenaam nie, hoewel dit miskien die soort optrede is wat ons vyande die beste verstaan. Ons is in 'n situasie gedwing waar ons nie aan die ontvangkant kan bly nie. 'n Taalstryd is nooit lekker of maklik nie. Niemand hou daarvan nie.

Maar as die Afrikaner nie homself vasbeslote gaan laat geld nie, sal hy in sy eie land die slaansak bly, heel onder op die pikorde. Uiteindelik sal hy die prys vir sy beskroomdheid moet betaal.

Wat kan ons dan doen?

Miskien is 'n bietjie geskiedkundige perspektief op ons taal se eeuelange stryd nuttig.

Afrikaans is minstens 290 jaar oud, maar dit is tekenend van Afrikaans se nimmereindigende worstelstryd dat dit eers tweehonderd jaar na sy ontstaan amptelike erkenning gekry het.

Tekens van 'n nuwe taal wat gebore word, blyk reeds 33 jaar ná Jan van Riebeeck se koms. In 1685 maak H.A. van Reede van Oudtshoorn in sy joernaal melding van die "gebroken spraak" aan die Kaap.

'n Honderd jaar later het 'n nuwe volk met 'n eie taal reeds vorm gekry. In 1802 spreek J.A. Uytenhage de Mist sy kommer uit oor die swaar taak wat voorlê "eer wij die Caabenaars weder Nederlanders kan maaken".

Sedert die eerste Afrikaanse woorde in hierdie land gepraat is, was die taal onder beleg. Dit is onderdruk, geminag, verneder, bespot, en selfs deur die wet verbied. Die afgelope driehonderd jaar al. Dit is 'n wonder dat Afrikaans nog gepraat word.

Die eerste aanslae was afkomstig van die Hollanders. Hulle het nie daarvan gehou dat mense Afrikaans begin praat het nie. Die grootste aanslag het egter gekom nadat die Britte die Kaap in 1806 die tweede keer in besit geneem het.

Op 10 Januarie 1806 is 'n plegtige verdrag met die Britte aangegaan. Dit is onderteken onder 'n melkhoutboom in Papendorp, vandag Woodstock, 'n voorstad van Kaapstad.

Hierdie knoetsige ou boom staan vandag nog daar, afgekamp, langs die spoorlyn, taamlik verwaarloos, maar darem 'n Nasionale Gedenkwaardigheid.

In die verdrag word onder meer bepaal dat: "The burghers and inhabitants shall preserve all their rights and privileges."

Klink dit nie bekend nie? Het ons dit nie baie onlangs weer gehoor nie?

Toe die Oorgangswet meer as twee jaar gelede onderteken is, is 'n gelykluidende ooreenkoms byna woordeliks gesluit. Niemand se regte mag op enige wyse aangetas word nie.

Vier maande na die belofte wat in Januarie 1806 by Woodstock ná die slag van Blouberg onderteken is, word 'n proklamasie uitgevaardig wat bepaal dat alle dokumente aan die staat voortaan in Engels moet wees.

Klink dit ook bekend?

Die tydperk het begin waar alles in die stryd gewerp sou word om die Afrikanervolk te angliseer. Dié stryd duur steeds voort, tot vandag toe, byna twee eeue later.

Ons raak almal 'n bietjie moeg hiervoor.

Die geskiedskrywer George McCall Theal skryf oor hierdie eerste angliseringspogings:

Aanhaling:
"It seemed absurd that such a small body of people should be permitted to perpetuate ideas and customs that were not English in a country that had become part of the British Empire."
'n Dekade later, in 1814, word Lord Charles Somerset goewerneur aan die Kaap. Hy proklameer Engels as die land se enigste amptelike taal.

Nie een uit tien burgers kon die amptelike taal verstaan nie! Byna presies die situasie wat vandag in Namibië geld.

Oor Lord Charles se verbod op Afrikaans skryf Theal verder:

Aanhaling:
"Many requests were made to the government to annul it, but to no purpose, and upon the dates named, English became the official language of the country. It would have been difficult to divise a measure more calculated to irritate the Dutch inhabitants."
Die volgende neëntig jaar of langer was Engels die enigste amptelike taal. Twee eeue van onreg het begin, twee eeue van vernedering en verdrukking. Dit duur steeds voort. Die Afrikaner is 'n uiters geduldige mens.

Engelse onderwysers is ingevoer. In staatsondersteunde skole word net twee tale onderrig: Engels, en ..... Latyn!

Predikante word uit Skotland ingevoer en in die Kaapse Kerk aangestel. Politieke kommissarisse woon alle kerkraadsvergaderings by. Afrikaans word in die Kaapse Kerk verbied. Die Goewerneur self keur die samestelling van alle kerkrade goed, of af.

In alle NG Kerke mag net in Engels gepreek word! Een van die wonders van Afrikaans is dat dit vandag nog bestaan.

In die jaar 1857 is die anglisering van die Kaap feitlik 'n voldonge feit. Op 19 September 1857 verskyn die volgende hoofartikel in die Cape Argus:

Aanhaling:
"The language of the Cape! - As if the miserable bastard jargon, which is the vernacular of this country, is worthy of the name of language at all ... the language of this country is destined to be English; it is becoming more and more so every day .... And you, whom fate has ordained to become liege subjects to Her Majesty of England, may as well hasten to become English in language, sentiment, and feeling, for to that complexion you must come at last."
Die Cape Argus was verkeerd. Daardie "miserable bastard jargon", "not worthy of the name of language at all," word vandag, 145 jaar later, steeds deur meer mense in die land gepraat as Engels.

Toe gebeur 'n wonderwerk. Op Saterdag, 15 Januarie 1876, skaars twintig jaar ná die Argus se gewraakte artikel, verskyn die eerste Afrikaanse koerant, Die Patriot, uitgegee deur die Genootskap van Regte Afrikaners.

Dit het 'n opskudding veroorsaak. Ouers het hul kinders verbied om dit te lees. Leerlinge is gestraf omdat hulle die blad koshuis toe gebring het. Onderwysers is met afdanking gedreig as hulle op die blad inteken. Selfs predikante het daarteen gewaarsku.

Van die kant van Hollanders én Engelse het Die Patriot die wind van voor gekry. Maar Die Patriot het gegroei. Ander publikasies het gevolg.

En toe, skaars 25 jaar ná daardie eerste probeerslag, breek die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika uit. Dit het baie dinge vernietig, harte sowel as huise.

By Vereeniging het die gordyn gesak. Ook Die Patriot en die latere Ons Klijntji het in die politieke oorlogharwar verdwyn.

Na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog was die Afrikanerdom in sak en as. "Ons land lê in 'n puinhoop", het genl. Koos de la Rey in Desember 1901 aan pres. Kruger geskryf. Die Afrikaner was uiters verarm. Op die oog af het hy alles verloor.

Genl. J.B.M. Hertzog en pres. M.T. Steyn het die taalstryd gesien as 'n belangrike faktor om die Afrikaner sy selfrespek te laat herwin.

In 'n brief, gedateer 21 Januarie 1901, sit lord Milner die eentaligheidsbeleid netjies uiteen. Die doel is "absorbing and ultimately getting rid of them as a separate, exclusive caste."

So het die stryd om die voortbestaan van ons Moedertaal eeue lank gewoed. Ons voorouers, ons ouers, en vandag onsself, staan steeds in die branding van die bitter onaangename stryd.

"Die volgehoue om die Afrikaner sy taal en leefruimte te ontsê, word gewoonlik gedoen met die houding dat dit die denke van die Nuwe Suid-Afrika weerspieël en dat ons, wat Afrikaans verdedig, agterlik en uit pas is. Selfs dat ons rassisties is as ons dit wil doen," het Die Burger onlangs geskryf.

Op elke terrein word Afrikaans aangeval en bedreig. Die SAUK het SABC geword, die skole word volgeprop met andertaliges sodat Afrikaans geleidelik voor Engelse onderrig moet padgee. In die Parlement word skaars nog 'n Afrikaanse woord gehoor.

Selfs die tradisionele bakermat van Afrikaans, die Universiteit van Stellenbosch, "is besig om voor die oë van sy raad te verengels".

Wat het van die Afrikaner se durf geword?

Is dit ons erns? Wil die Afrikaner altyd die koeshoendertjie bly wat deur almal gepik word? Hieroor moet elke Afrikaner self besluit.

Afrikaans is nie iets waarmee ons gebore is of wat as geskenk vir ons gegee is nie. Dit is iets wat ons self oorspronklik stukkie vir stukkie geskep het, en gedurig, geslag na geslag, skeppend moet behou.

-- Vanaf vriende.za.net, 'n webtuiste wat ongelukkig nie meer bestaan nie, circa 2001.
Vorige onderwerp: Woordeboek
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Apr 19 07:09:16 MGT 2024