Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Afrikaans, ons taal » Die roem van ons werk (deur C.J. Langenhoven)
Die roem van ons werk [boodskap #120639] Ma, 25 Junie 2018 05:32
Jan die Man  is tans af-lyn  Jan die Man
Boodskappe: 514
Geregistreer: Mei 2018
Karma: 22
Senior Lid
DIE ROEM VAN ONS WERK

Maak vir die man wat nie omgee nie goeie werk. Die man wat omgee sal dit by hom sien en ook by jou kom bestel.

Moenie dink dat wat jy hoor alles is wat van jou gesê word nie. Nou en dan sal 'n man jou kom sleg-sê wat ontevrede is oor jou werk; maar hy is die uitsondering. Nou en dan sal 'n man jou kom prys wat jy voldoening gegee het; maar hy is ook die uitsondering. Jou werk gaan uit jou hande uit die wye wêreld in en jou roem of jou blaam gaan daarmee saam, maar jy bly agter. Net maar, more en oormore sal jy jou prys kan vra of jy sal bly wees om die prys van jou klandiesie te neem, naardat jou vorige werk in jou guns of teen jou getuig het. Begint maar klein en onbekend en onder baie teleurstelling en ontmoediging: diegene wat die dinge behoef wat jy kan verskaf, sal nie wegbly omdat hulle jou haat of toestroom omdat hulle jou liefhet nie; jy is vir hulle 'n werkman en niks anders nie, en as jy 'n goeie is sal hulle nie veel keuse hê nie want daar sal maar min wees van jou soort. As jy 'n slegte is sal hulle onder hulle eie vrinde en famielie genoeg van dié soort kan kry en liewer daar die voorkeur gee.

Ek het eenmaal by 'n ou veeboer gekom om 'n hamel te koop, en hy het my na sy kraal toe geneem en deur die trop geloop en weer agteruit, en heen-en-weer en kruis-en-dwars, en hy kon nie 'n slagding na sy sin kry om vir my te vang nie. "Maar Oom; ' sê ek, "die skape is almal so spekvet dat Oom nie hoef uit te soek nie. Vang voor die voet en ek sal tevrede wees." "Dis nie dit nie, Neef Kerneels. Ek gun jou 'n skaap en ek wil jou 'n goeie laat kry, maar hier is nie een wat ek dit oor my hart kan kry om af te staan nie." Hy was so gesteld op sy vee dat hy hulle te lief had om van die hand te sit. En so sal jy hier en daar 'n timmerman kry wat met liefderyke hand die klerekas, wat jy gekoop het, op jou wa laai, en dit staan en agterna kyk sover as hy die wa kan sien wegry. Hy is 'n ambagsman daardie: hy het sy handewerk lief. Elke artiekel wat hy maak is 'n nuwe skoonheid waarvan hy die skepper is: dis syne en 'n ander kon dit nie so gemaak het nie, want sy siel het hy daarin uitgegiet. Só 'n ambagsman is die gelukkigste mens op die aarde. Sy arbeid is sy lewenslus. Sy hardste werkdag is sy keurigste vakansie. Nie om die prys of die loon nie - die loon kry hy van die eerste krul wat hy afskaaf tot die laaste - maar om die heerlikheid van sy werk werk hy. Hy sal jou 'n harde prys vra, want die ding wat jy van hom neem gaan van sy hart af. Maar hy sal die prys kry want hy het 'n monopolie: daar is nie die gelyke van sy ware in die ope mark nie. En jy sal die prys gee want die duur ding sal vir jou 'n goedkoop ding wees.

Wat sou die wêreld wees as ons almal soveel eer sou stel in ons plig!

-- C.J. Langenhoven
Vorige onderwerp: Die betoning van ons eerbied
Volgende onderwerp: Die ledigheid van ons gewig
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mar 28 10:18:04 MGT 2024