apartheidsjare ens [boodskap #7753] |
Fri, 06 December 1996 00:00 |
Charl Durand
Boodskappe: 55 Geregistreer: January 1996
Karma: 0
|
Volle Lid |
|
|
re die bespreking van galjoen, gloudina en koos rondom die
apartheidsjare...
Verlede naweek haal ek my balsak* van die rak af, agter in my oorle pa se
stowwerige, donker stoor. Ek moes hom oopsny om die ongebruikte army
reënjas uit te vis, want die sleutel van die Tricircle slot was lankal
verdwene. Ek het op die wildekus staptog in Oktober papnat gereën, en al
het jy die army gehaat was die reënjasse darem die beste wat daar is. Al
het ek myself destyds belowe ek raak nooit weer aan enigiets weermag nie.
Selfs na twaalf jaar ruik ek nog die angstigheid van diensplig wat klou aan
die reënjas, blinkgestrykte stepouts, en die boshoed wat uit die balsak
kom. Ek was een van die slapgatte wat in Pretoria agter 'n lessenaar gesit
het, maar die rillerigheid het jou altyd bygebly. Jy was volkome onderworpe
aan sinnelose mag wat elke beweging, elke oomblik jou lot kon bepaal.
Watter tipe horror het die ouens deurgemaak wat met vol ammunisietrokke in
Angola verdwaal het, of gesien het hoe die krokodille in Caprivi Swapo lyke
verorber?
Waarna ruik hulle balsakke?
Paul Hardcastle het in sy liedjie "19" gesing: During World War two the
average combat soldier's age was 26, in Vietnam he was nineteen. In Angola
was hy agtien, of dalk jonger. En na tien jaar sit hy nou met 'n vrou en
jong kinders...
Soms as ons in die Full Stop in Melville sit en oor Amstels army stories
uitruil dan wonder ek hoe lank dit gaan wees voor die muisneste in die
average border combat soldier se kop aan die brand slaan. Of is al die
atrocities, soos in Milan Kundera se The Book of Laughter and Forgetting,
uit die foto ge-airbrush?
Die karma van apartheid gaan ons nie in hierdie geslag uitlos nie.
* 'n Balsak is 'n bruin, langwerpige seilsak, so bietjie langer as 'n
meter, waarin jy al jou army belongings gestoor het. Sy bek het jy met 'n
slot gesluit.
Charl
|
|
|