Die weelde van die vroeg-winter. [boodskap #7732] |
Sat, 30 November 1996 00:00 |
Izak Bouwer
Boodskappe: 463 Geregistreer: January 1996
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Wanneer iemand hier in Kanada hoor dat ek in Suid-Afrika
grootgeword het, dan vra hulle gereeld hoe ek die winters hier
kan staan. Hulle voel dan heeltemal verbysterd as ek vir hulle sê
dat ek hou van hulle winters, maar dat dit hulle somers is wat ek
nie kan vat nie. Die somers hier in die suidelike deel van Kanada
is glad te warm, te vol goggas. Al die groen om jou word ook na
'n rukkie effens eentonig. Dis eers wanneer die herfs kom, dat ek
weer geinteresseerd raak. Wanneer die herfs verby is, is daar dan
die verskillende fases van die winter, indien moontlik nog meer
verruklik as die herfs, net op 'n meer delikate manier.
As jy in 'n park rondstap, vind jy bome waarvan die blare nie
afgeval het nie, net ivoorwit verbleik het in die koue. Daar is bome
waar al die blare afgeval het, maar hulle dieprooi of helder oranje
sade skok jou as jy hulle teen die blou van die lug sien. Wanneer
jy nou verby struike loop wat net egalig groen was in die somer,
ontdek jy die geheime van die struik se binnekant, die hele somer
weggesteek deur 'n klomp groen blare.
In die somer is die immergroen bome so een met die algemene
groen dat jy hulle eintlik nie opmerk nie. Dis eers in die vroegwin-
ter dat jy bewus van hulle word, as hulle groen takke belaai word
met wit sneeu. En watter vreugde kan selfs 'n boom sonder blare
wees, as die mis van die rivier op hulle vries en hulle daar soos
wit spookbome staan. Of nog meer verruklik : as dit ree�n en die
bome word nat en dit kom vries dan in die nag, dan staan elke
boom in die oggend met 'n yslaag wat met al die kleure van die
ree�nboog vonkel.
Die Canada geese het toe verlede week op die Ottawa-rivier
gearriveer, 'n maand later as verlede jaar. Hoe weet hierdie voe�ls
wanneer die swaar sneeu kom, (verlede jaar vroeg, vanjaar laat)?
Dis so snaaks om hulle in die skemer (4:30) te sien. Al wat uit-
steek, is hulle stertvere. Hulle eet plante onder die water. As een
moeg word, klim hy op die ys wat langs die rivieroewer begin
vorm en sit daar ewe tevrede. Later spring hy van die ys af in die
water in en begin weer eet, stert in die lug. Een van die mooi dae
sal hulle suid-waarts vertrek in hulle tipiese V-formasies en met hul
kenmerkende honk-roepe, en so vir ons vertel dat hulle eintlik
maar net toeriste was wat vir 'n rukkie van ons gasvryheid gebruik
gemaak het.
Gloudina Bouwer
|
|
|