Afrikaans [boodskap #119882] |
Sun, 03 December 2006 10:35 |
lamp
Boodskappe: 2 Geregistreer: December 2006
Karma: 0
|
Junior Lid |
|
|
Suid- Afrika se grootste taalverwante probleem stel die vraag of
Afrikaans sy ampstaalstatus in die toekomstige bedeling gaan behou of
nie. Gesien binne die konteks van die taalverwante probleem van al die
inwoners van die land en die konteks van 'n ontwikkelende situasie
waarin geen statutêre diskriminasie op grondslag van ras, geslag of
godsdiens toegelaat gaan word nie, is hierdie siening
onverantwoordbaar.
Word daar oor Afrikaans in intellektuele kringe gepraat, word die
buitetalige bagasie van die taal meegesleep om die een of ander houding
teenoor die taal te demonstreer.
In die massamedia word die verskille oor en in Afrikaans binne
dieselfde taalgemeenskap oor en weer gegooi en dit impliseer dat daar
steeds nie 'n verenigde Afrikaanse spreekgemeenskap is nie.
Die stryd om die behoud van Afrikaans word op veral 'n intellektuele
en akademiese vlak bestry, daar waar daar vir Afrikaans gestem word en
dit die luidste gehoor kan word.
Dit in verwysing na die Afrikaanse geskiedskrywing, die politieke en
sosiale stigmatisering van die taal en die toenemende aandrang op
regstellende aksie rondom Afrikaans op alle vlakke. Sedertdien het die
situasie verander en kies veral regstudente Afrikaans omdat hulle wil
en nie omdat hulle kursus dit vereis nie. Dit is klaar 'n pluspunt
vir die Afrikaanse taal.
Johan Combrink, voorsitter van die Taalkommissie van die
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, het in 1996 'n
ontleding gemaak van die terreine waarop Afrikaans in die jongste tyd
terugslae beleef het:
* Die regering en administrasie
* Regstelsel
* Wetenskap en tegnologie
* Media en kommunikasie
* Onderwys
* Kulturele lewe
* Sport en ontspanning
* Die handelswêreld
Sy analise dra die boodskap duidelik oor dat die politieke maghebbers
gesorg het vir hierdie afskaling.
Dr. Rina Venter, 'n kenner van maatskaplike werk, meen dat die
posisie van Afrikaans baie kan verbeter as daar samewerking tussen
Afrikaanssprekendes en anderstaliges ontstaan.
In die nuwe Suid-Afrika het baie veranderinge Afrikaans in die
gesig gestaar. Afrikaanssprekendes wys dat hulle deel uitmaak van die
nuwe bedeling en dring sterk aan op hulle posisie, wat tot voordeel
strek van die mense wat die taal gebruik en graag sal wil aanleer.
Hierdie wonderlike en ryk taal kan baie deure oopmaak vir die
gebruikers van die taal.
Dit is dan ook natuurlik 'n feit dat Afrikaans as taal 'n kragtige
invloed het op alle vlakke van die samelewing. As huistaalgroep is
Afrikaans geklassifiseer as die derde grootste in Suid - Afrika.
Volgens die statistieke van 1997 word Afrikaans deur 15,2 miljoen mense
gebruik. Die sprekers van Afrikaans word in feitlik al die inheemse
bevolkingsgroepe aangetref. Op finansiële en ekonomiese vlak lewer
die Afrikaanssprekende taalgroep 'n belangrike bydrae.
Afrikaanssprekendes het 'n besondere hoë posisie as markgroep en
beklee twee kategorieë in die Suid - Afrikaanse kopers mark wat tans
in agt dele verdeel is. Afrikaans is dus 'n uiters aantreklike
markgroep vir adverteerders en bemarkers en beslis nie te versmaai nie.
Geografies is Afrikaans die enigste van die tien inheemse tale wat oor
die hele Suid - Afrika gebruik word terwyl die ander tale slegs
streekstale is.
As Afrikaans soos nou net vooruit boer, lê daar 'n blink toekoms
voor vir Afrikaans en Afrikaanssprekendes. As al die polemiek oor
hierdie sg verdrukkerstaal net tot ruste kan kom, sal hierdie taal
inderdaad floreer. Dit is tyd dat ons saam staan en ons enigste hoop
op 'n werklik ware reënboognasie voltrek. En as die taal so 'n
bietjie verander, moet ons die taal die kans gun om te groei en tot sy
volle potensiaal te ontwikkel.
Afrikaans ons trots! Lank lewe Afrikaans!!!
|
|
|