Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Troeteldiere » Hondjie sien hoe sy baas gesteek word
Hondjie sien hoe sy baas gesteek word [boodskap #119687] Do, 13 Mei 2010 16:11
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
Hondjie sien hoe sy baas gesteek word

2010-05-11 22:45
Virginia Keppler

Die dwergkees (toypom)-hondjie van mnr. Robert Botha (57), wat op sy
kleinhoewe in Kameeldrift-Wes by Pretoria vermoor is, het eergister op
sy bors gaan sit en by sy lyk gewaak totdat die polisie opgedaag het.

Die hondjie, Louis, het vermoedelik gesien hoe Botha se aanvallers hom
vyf keer in die hart gesteek het, maar kon niks doen nie.

Botha is ook in die gesig gesteek en daar is verskeie snymerke aan sy
arms, vermoedelik soos hy die aanvalle probeer afweer het.

Botha is in sy huis deur drie gewapende rowers aangeval. Louis was
gister nog baie bewerig en het nie eens geblaf nie.

Mnr. Eddie Horn (40), Botha se kleinneef, het gesê die voorval het
omstreeks 15:00 plaasgevind.

"Ek vermoed Robert het die drie sien aankom en het na sy kamer
gehardloop waar hy sy kluis oopgemaak het om sy .22-geweer uit te
haal.

"Hulle (die rowers) was vermoedelik te vinnig vir hom en het hom in
die kamer oorval net nadat hy die kluis oopgemaak het. Hulle het hom
daar oorrompel en in die kamer naby sy bed gesteek," het Horn gesê.

Volgens Horn vertel Botha se bloedspoor die verhaal van hoe hy van sy
aanvallers probeer vlug en plek gesoek het waar hy kon wegkruip.

"Robert het uit sy kamer gestrompel na 'n werkwinkel langs sy kamer.

"As 'n mens na die bloedspoor kyk, sien jy hoe hy na die werkplek
gehardloop het. Daar het hy gestruikel en is so onder sy skoene uit,"
het Horn gesê.

Volgens hom het Botha toe om die hoek na 'n afdak langs die werkplek
gestrompel waar hy op 'n ou matras tussen rommel en blare en takke
probeer wegkruip het.

"Dit is hier waar die hond op sy bors gaan sit het. Robert was baie
lief vir die hond, want hy het dit van ons oorlede ouma (mev. Louisa
Botha) geërf."

Mev. Botha is op 24 Desember verlede jaar oorlede.

Horn het gesê 'n ander man wat saam met Botha die huis deel, het tien
minute later op sy lyk afgekom en die polisie ontbied.

"Die polisie was gou op die toneel, maar kon nie die hond van Robert
afkry nie. My suster, Annetjie Enslin (33), moes toe kom om die hond
weg te neem."

Horn sien tans na die hond om.

Die polisie het tydens dié ondersoek ook 'n plas bloed wes van die
kleinhoewe se heining ontdek en vermoed dat Botha een van sy
aanvallers beseer het.

Me. Hettie Jordaan van die landelike beveiligingsektor het gesê hulle
vermoed dit is dieselfde twee aanvallers wat mnr. Jan du Toit (80)
twee weke gelede in sy bed geskiet het.

Volgens Jordaan teister dié aanvallers die Kameeldrift-gemeenskap die
afgelope sewe jaar.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Hondjie-sien-hoe-sy-ba as-gesteek-word-20100511
Vorige onderwerp: Ape oor die heining
Volgende onderwerp: Maer Hond
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Apr 24 23:29:46 MGT 2024