Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Emigrasie & buiteland » Die Pampoen-kultus van Noord-Amerika
Die Pampoen-kultus van Noord-Amerika [boodskap #7431] Di, 15 Oktober 1996 00:00
Izak Bouwer  is tans af-lyn  Izak Bouwer
Boodskappe: 465
Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
Senior Lid
In die middelste gedeelte van Noord-Amerika
is Oktober die maand van die pampoen. As jy uitry,
sien jy stawels pampoene langs die paaie. Hulle wag
daar vir die mense om hulle te koop vir "pumpkin
pies" vir Thanksgiving, wat ons in Kanada in die
middel van Oktober vier. (Die Amerikaners vier dit
eers in die laaste week van November.) Die mense
koop die pampoene ook om hulle uit te hol en 'n kers
daarin te sit om voor hul huise te sit vir Halloween,
wat die laaste dag van Oktober is. Oral in die winkels
sien jy plastiese pampoenemmertjies waarmee die kin-
ders die aand van Halloween "tricks or treats" gaan
vra in die buurte. En daar is lekkers in die vorm van
pampoene, en pampoene op die papiere om die lekkers
wat jy vir die kinders uitdeel Halloween-aand.
Op die televisie sien jy ook baie keer berigte van
kompetisies om te sien wie die grootste pampoen kan
kweek. Nou die dag het ek die pampoen gesien wat glo
hierdie seisoen die grootste is in Kanada. Dit staan om-
trent drie vier voet hoog, en vier mans moes dit uit die
land dra. Ek dink die prysgeld wat daardie pampoen
gewen het, was iets soos 50,000 dollars. Dis teen die
agtergrond van hierdie pampoen-kultus dat 'n mens die
Peanuts-cartoon moet verstaan, wat vertel hoe Charlie
Brown wag op "The Great Pumpkin." (So 'n noord-
amerikaanse "Waiting for Godot.")
Die pampoene hier is klein en intens oranje, nie
groenwit van skil soos in Suid-Afrika nie. In hierdie
maand lyk die hele landskap of dit ontwerp is om as
agtergrond te dien vir die oranje van die pampoene,
die groenrooi van die appels, die ligte geel pere, die
dieprooi tamaties, die geel wortels. Die kleure van
bome wissel van dieprooi na ligrooi deur talle soorte
geel, met hier en daar takke wat lemoen- en perske-
en appelkoos-kleure het, soms aan dieselfde boom. En
as dit 'n mooi sonnige dag is, is alles gehul in 'n soort
peinsende blou lug.
Ek dink die liewe vader het die maand Oktober uit-
gekies vir Sy maand. Want as die landskap hier by ons
vlamvat, is daar in die suidelike halfrond dele van die
aarde wat gehul is in die pers waas van die jakarandas.
As 'n mens nou die aardbol van ver genoeg in die ruim
kan bekyk, sou jy die herfskleure kon sien in die noorde,
en tegelyk ook die pers van die jakarandas in die suide?

Gloudina Bouwer
Vorige onderwerp: Julle moet my reken - al is ek in die buiteland!!!
Volgende onderwerp: Inligting Benodig New Zealand
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mei 03 23:40:43 MGT 2024