Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » paginamagina – Breyten Breytenbach
paginamagina – Breyten Breytenbach [boodskap #119183] Wo, 01 Julie 2009 06:27
Nou....@gmail.com  is tans af-lyn  Nou....@gmail.com
Boodskappe: 116
Geregistreer: Junie 2005
Karma: 0
Senior Lid
paginamagina
(verjaardagaantekening as Ode aan Ampie Coetzee)

Ouboet, ek sit my beste gesig op

om hierdie gedig vir jou te skrywe

want jy, liewe maatjie, word ‘n fris sewentig

(let daarop hoe spoor die rym na gewig)

en wanneer lig en lied ons laat staan

en ons skeef gaan lê met die stil kreet

van protesvreugde in die hart

is ons wat jonk is van dae en nagte

(meesal omdat ons die tyd se gewrigte vergeet het)

dit aan ons weggaan verskuldig

om mekaar van die wal in die sloot te help

en so die koei van verbeelding in die put te versuip

en omdat ek lief vir jou is

kom: ons drink die wyn en eet die brood

en tjoeftjaf is ons albei dood

na hoeveel plafonne het ons gestaar oor die jare

hoeveel bleek bergspitse hoeveel swerms voëls

soos wegvlieglyne aasvreterwoorde wat soek om vers te word

hoeveel verkleurmannetjes in die heining?

Ouboet, indien ons die almanak van dae

op hierdie aarde kon onthou

wat sou in tekens behoue bly?

sekerlik die wind as die kind se hand

wat versinde bergtoppe aai

en ’n kraai soos ’n oogknip van verganklikheid

die sneeu so ’n koue asem tussen bome

die nat as van laatsomernagte

die teer binneboudsvlees van die vrou

en dan van watter sin sou die letterspoeling wees

wanneer die hand van die kind

blind opgemaakte bergtoppe aai

en kraai die boomkruine kraak

soos ’n dooie skarnier tussen lewe en grond?

mik niks

maar wag stadig

kom ons drink die wyn en eet die brood

tjoeftjaf is ons albei dood

baie is aan ons gegee

voëlsang die maan

bo die nag se soom verse van Oom Wyk en Opperman

wors by die slagter en beskuit uit die oond

en af en toe ’n slukkie wyn in vergoeding vir voorbeeldigheid

op die dansbaan met die hemp oopgeslaan

oor die baadjiekraag het ons skaars ’n voet verkeerd gesit

met brylcreem in die hare was ons blink van boekgeleerdheid

kombuiskennis katelvaardigheid bekvernuf

hoe heerliker die passies van drank en idealisme

hoe meer kak het ons gepraat

en baie het ons weggegooi

ou baadjies en baaisiekels

dooie katte en historiese aandadigheid

en die gekyf en gekekkel van hulle

wat o so cool as tweetaaljakkalse

(maar ene gat)

op awesome agterente skuiwe

ons het die tafel vir mekaar gedek

met lig-gestyselde servette en glase vol son

op genadige dae ook ’n vleisie daarby

en deur die ruite gesien hoe bewe

die lewe in woordblare buite

hoe vlies binnelandswolke bo die spits

en die stof en muisdrolletjes nie raakgesien

die skaduwees in hoeke van kamers nie gewaar

onder beddens waar voorsterwers die tyd vasgelê het

op voorgestoeltes het ons gesit

en in agterbanke

en soms in die deur gestaan

vir aankoms of vertrek

of sommer om ’n ogie in die seil te hou

vir die bakleiery op straat

en gereis

of dan getrewwel

om op vreemde kuste uit te waggel

lotuseters en boknaaiers papierswape

en skeefskutters en perskediewe

in dese en gene wéét ons

hoé om op ’n stoep te sit onder ’n bloeisel

vuurspuwende naghemel

niks is uiteindelik ons s’n nie

en nêrens is ons tuis

want as die maan ’n misverstand is

is die son immers verstand

en daar is hoeka geen grond om op te staan

behalwe in dit wat verby is

droom is nagskrywe

wanneer die lyf

in ondergrondse riviere

van melancholie dryf

en die beelderyk ’n sintuig word

(maar ons eet die brood en drink die wyn

want tjoeftjaf gaan ons albei verdwyn)

ons oudstryders van ’n patetiese droom

gebleikte Afrikane

(in Tanzanië word albinos opgekerf vir muti)

moedswillig en moeg en stompsinnig gestruggle vir ‘n taal

wat eens geweet het van koekemakrankas en liewenheersbesies

om nou weg te syfer soos die water

wat mens in ’n sif aandra vir die donkie

wat klippers vreet in die Karoo

met woorde het ons skanse teen die smet van dood probeer bou

en toe het bevryding die land oorspoel

totdat ons krom soos brandsiek brakke

vir ons eie skaduwee moes loop koggel

natuurlik het ons kennis van alles geneem

en toe weer vergeet en die sin van ons wees

op die wêreld

het ’n duistere onsin geword

vir die skape van ons kennis

het ons ou stomp broodmesse in ruil gekry

want die lewe skil mens soos ’n ui

totdat daar niks oorbly

behalwe ’n waterigheid in die oog

kyk ons sal die kadawers van ons wysheid

oorlaat aan die alleswetendheid van wurms

en met die een goeie oog ’n laaste keer korrel

deur die trapdeur se sleutelgat

af in die kelder van ewigheid

maar fok hulle né Ouboet

die ou en die nuwe kapitaliste

vernaam gepoephol in hulle stralers en Mercedesse

die voorbankers en die kripvrate

die rassiste van weleer die huigelaars en die heiliges

en die werfbobbejane en die gatgabbas

die polisie en veral die veiligheidspolisie

(fok hulle)

en die bevryders met die botox gewetens

en dié wat anonieme briewe skrywe

fok die politici

fok baie spesiaal die staat

ek haal my bril af

maak die notaboek oop

sal ek geboordjie en gedas

pampoenwense vir jou skryf op papier?

nee! jy ken tog die metafoor

as stoorkamer van toor en van goël

waar die engel soos ’n voël wat wil nes bou

die wurms van betekenisvertering opgaar

’n wieg van oogverblindende sterrereise

teen die hemel se dak wanneer die nag so stil is

dat jy die donker kan hoor knetter

die oorstelpende wolkestapeling

waarvan ons woordstopseltjes maak

om die skoonheid te rook

totdat ons gedagtes soos voëlvlug vervaag

die berg se blou deining

die bome van kremetart tot flambojant

tot bloekom verby hoekom

(vinke wat fokol weet van die vergaanvolk

los visitekaartjes op die vensterbank

en vee hulle vere af aan die vat-so

sonder om ’n ooglid te verroer)

mens skryf gedigte

sodat die woorde

met mekaar kan praat

wie sê die ark is ’n wrak?

wie gee voor Noag was ’n vark

in Palestina te gesuip om te hoor

hoe swaar dra die brak waters

aan die vrag verdronktes

toe dit nog nat soos nag was oor die aarde?

og og dis tog net strontstories by die trog

hulde hulde

vrot van skulde

skilpaddop is eerliker

die lewe is ’n tweede vrou, Ouboet

jy ontdek haar eers later

raak tot oor jou ore verstrik in haar sjarme

jy dra vir haar soetkoek aan

skarlaken lak vir haar toonnaels

’n kettinkie van Koptiese goud

om haar middel in geheime te lyf

maar in die nag voel jy soms

haar trane teen jou beaarde hand

kom agter sy begin staar na haar gesig in winkelglas

dat sy ’n geheue dra aan parfuum wat jy nie ken nie

en wanneer jy na ’n wêreldreis

voor dooiemansdeur te staan klop

wéét jy sy het lankal ’n ander minnaar

Ouboet, solank ek nog die een woord

agter die ander kan pas

en jy nog voldoende die aanlas-las

van lees kan bemeester

ter wille van ontlasting

sal ons onthou

om die rug teen die wind te keer

want ons het geen ander keuse

as om te maak met oog en hand

dankbaar om soos die slang

nog net beweging te wees

grawe jy solank die kortpad oop

en ek sal al agter jou loop

want ons drink die wyn en eet die brood

en tjoeftjaf is ons albei dood

maar intussen maak ek staan

as enigste klip bo die gat van die maan

hierdie glasie steen

en kyk hoe span die skip haar seile!

vryheid broer vryheid!

– Breyten Breytenbach
26 Junie 2009
Vorige onderwerp: IW vs. IV
Volgende onderwerp: Stil Staan - Langenhoefen
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mei 02 00:00:48 MGT 2024