Oor die geskiedenis van die Kakamas-nedersetting [boodskap #7155] |
Vr, 30 Augustus 1996 00:00 |
Izak Bouwer
Boodskappe: 464 Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Wanneer ek terugdink aan die eilande van die
Oranje waar ek grootgeword het, wonder ek dikwels
oor hoe daardie eilande gelyk het voor die witman
daar aangekom het. Het die Eynikwa (of Riviervolk)
permanent op die eilande gebly? Hoe het hulle die
somtyds breed en altyd gevaarlike strome oorgesteek
sonder die brue wat ek in my kinderdae daar gevind
het? Hoe het die eilande daar uitgesien voordat die
witman dit oorgeneem het en al die bome uitgehaal
het om plek te maak vir die lande en kanale wat daar
vandag is?
In 1896 en 1897 was daar 'n verskriklike droogte
in die Noordkaap, gevolg deur die runderpes. Om die
mense te help wat heeltemal uitgeboer was, het die N.G.
Kerk besluit om op sommige van die eilande van die
Oranje 'n besproeiingskema te stig. Mense het uit alle
oorde aangestroom. Hulle is grond gegee teen nominale
pryse, op voorwaarde dat hulle ook help met die verwy-
dering van die bome, en die graaf van die kanale wat die
volop water van die Oranje op die lande sou bring. Wat
die Eynikwa van hierdie dinge gedink het, is seker nooit
ten boek gestel nie.
Die besproeiingskema was 'n reuse-sukses. Op die
vrugbare eilandgrond kon 'n mens bykans enige ding
plant en dit het floreer. Baie het, soos my pa, sultana-
wingerde gehad waar hulle rosyntjies gemaak het. Hulle het
altyd gejuig as dit 'n slegte jaar in Australia was vir rosyn-
tjies, want dan het hulle geweet die pryse vir hulle eie pro-
duk sou hoog wees daardie jaar.
Die N.G. Kerk het die Kakamas nedersetting beskou as
'n sosiale eksperiment, 'n kruis tussen kommunisme en 'n
diktatorskap. Geen boer was toegelaat om meer as een "erf"
te besit nie. Die kerkwinkels het die monopolie gehad vir alle
verkope. Geen hotelle en geen alkohol is toegelaat nie. Alle
besluite is geneem deur die Sinode van die N.G. Kerk. Meeste
van die dorpies het geheet na die lede van die Hoofkommissie,
daardie predikante wat belas was met sake van die skema. Dit
is ook interessant om te weet dat Kakamas die eerste plek in
Suidelike Afrika was waar onderwys verpligtend gemaak is.
Vir wit kinders natuurlik. Die afstammelinge van die Eynikwa
het 'n integrale deel van die intensiewe boerdery geword wat
op so 'n besproeiingskema aangaan. Maar hulle was gehuisves
in die riete op rivierwalle, of in "kroeke" in die heuwels buite
die dorpies wat na predikante vernoem was.
Eintlik was dit 'n bietjie van 'n wit paradys. Maar stadig
het 'n slang in die gras sy kop begin uitsteek. Veral na 1945
het meer en meer mense begin agiteer dat die koloniste self
meer van 'n aandeel moet he in hoe die plek regeer word.
Eers het die N.G. Kerk geweier om gehoor te gee. Later het hul
ingegee en drie koloniste uitgekies om op die "Hoofkommissie"
te dien. (My pa was een van die drie.) Hierdie konsessie het
nie eintlik gehelp nie. Die agitasie het aangegaan. Dit was be-
spreek in die Parlement. Meer en meer konsessies is toegestaan.
Ek neem aan daar is nou hotelle en drank daar op Kakamas.
Ek wonder of die mense daar nou gelukkiger is.
Ek wonder ook hoe dit lyk daar op die eilande van die
Oranje in die nuwe bedeling. As ek een wens kan kry, is dat
die nasate van die Eynikwa ook nou toegelaat moet word om
grond daar te besit, te deel in die eilandparadys waaruit hulle
so onregverdiglik uitgedryf is in die laaste eeu.
Gloudina Bouwer
|
|
|
|