Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » BlouWillemMaandag
BlouWillemMaandag [boodskap #109545] Tue, 07 March 2006 19:40 na volgende boodskap
Annette  is tans af-lyn  Annette
Boodskappe: 11112
Geregistreer: August 2003
Karma: 1
Senior Lid
Blou Willem is 'n rubriekskrywer in Beeld:

Blouwillemaandag: En almal soek steeds na die Koeiberg-moer
Mar 05 2006 11:30:24:430PM - (SA)

Blou Willem

Nou ja, die verkniesing het gekom en die verkniesing het gegaan en
miljuisende rande later weet ons net een ding en dis dat alles nog dieselfde
is en dat die Kaap van Stormers nog steeds nie krag het nie.

In die verkniesing het die vinnige skepe vinnig gevaar en die stadige skepe
stadig (net asof ons nou gedink het dit gaan anners wees!) en ek weet nou
amper 'n week later nog nie mooi of ek reg gestem het nie, want ek het my
bril by die huis vergeet. As ek dalk vir die verkeerde party gestem het, is
dit seker ook nie so erg nie. Ek het nog altyd geglo van party kan jy maar
verander, net nie van kerk of rugbyspan nie. Verder weet ek ook 'n week
later steeds nie hoekom ek twee keer vir dieselfde party moes stem nie, want
een keer was al vir my moeilik genoeg. Soos dit is het ek gevoel ek staan
tou om vir 'n kandidaat te stem wat ek nie ken nie, vir 'n party waarmee ek
nie heeltemal gemaklik is nie en dit alles in 'n stad met 'n nuwe naam wat
my dwars in die krop steek. 'n Regte vreemdeling in Jerusabethlehem as daar
ooit een was. Gelukkig het die krag darem gehou daar by ons stemlokaal by
die laerskool. Hoewel, niks wat ek daar gesien het, het vir my gelyk of daar
elektrisiteit voor nodig was nie. Ons kon net sowel by kerslig gestem het.
Geen rekenaar of eierklitser in sig nie. Ongelukkig ook toe nie 'n enkele
pannekoek nie. Nee, selfs ek kon daai stelsel verstaan, behalwe toe die oom
by die derde tafel my naam met sy lang liniaal doodtrek en ek so luidrugtig
beswaar gemaak het dat die hoofverkiesingsbeampte en twee polisiehonde
nadergestaan het (ek het gedog ek word geskrap van die kiesersrol). En al
wat ek het om te wys , is 'n swart kolletjie wat die eerste dag of twee soos
'n oorvreette bosluis op my duim gesit het en nou besig is om so vinnig soos
'n verkiesingsbelofte te vervaag. Ten minste nie weer daai verwery van laas
waar hulle jou hele hand met 'n roller bygekom het sodat dit lyk of jy vir
"Die Swart Hand" gestem het nie. Ek "touch" nou maar elke oggend voor werk
daai bosluis so 'n bietjie op met 'n koutjiepen dat my vriende en vyande kan
sien dat ek 'n mens is wat my burgerlike verpligtinge nakom.

Ou Frikkie in die Kaap laat weet dat hulle elke dag hulle oë opslaan na die
Berg, maar nog steeds nie weet waar hulle krag vandaan gaan kom nie. In die
Kaapse verkniesing was die groot ligpunt Tant Patrysie se mooi vertoning met
haar ID-party (Innie Donker) teen die ANC (Another Night by Candlelight),
die DA (Donker na Agt) en die HNP (Hier's Nog Paraffien).

Ou Frikkie sê die grootste statussimbool daar by hulle is 'n ou wat sy eie
private "generator" besit. Nie 'n halfmiljoen rand se 4x4, 'n strandhuis in
die ou deel van Hermanus of 'n elektriese tandeborsel nie. Nee, net 'n ou
"generatortjie" wat so "put-put-put" deur die duistere nag soos destyds daar
op jou oupa se plaas. Oom Johnny sê hy't gehoor die Stormers gaan hierdie
week wit truie kry sodat hulle behalwe hulle dagwerk, saans na ure kan
"moonlight" op Nuweland. En nog steeds soek die regering, die Skerpioene en
Eksdom vergeefs na die moer wat Koeiberg gesaboteer het!

Sterkte en krag, julle! "Power to the piepols!"
Re: BlouWillemMaandag [boodskap #109548 is 'n antwoord op boodskap #109545] Tue, 07 March 2006 21:20 Na vorige boodskap
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4791
Geregistreer: December 2003
Karma: 0
Senior Lid
Annette skryf

> Blou Willem is 'n rubriekskrywer in Beeld:
>
> Blouwillemaandag: En almal soek steeds na die Koeiberg-moer
> Mar 05 2006 11:30:24:430PM - (SA)

Dankie Annette. Ek het dit geniet.

Gloudina
Vorige onderwerp: Block sender
Volgende onderwerp: MG
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wed Jan 08 02:56:49 UTC 2025