Ferdi Greyling se oorspronklike artikel [boodskap #109058] |
Tue, 21 February 2006 01:24 |
bouer
Boodskappe: 4791 Geregistreer: December 2003
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Beeld-forum: Los Kempton Park se wonderwerk uit
Feb 03 2006 01:23:21:183AM - (SA)
Ferdi Greyling
Suid-Afrika in sy huidige demokratiese formaat is gebou op 'n
historiese ooreenkoms wat in die begin van die 1990's tussen omtrent al
die politieke groepe in die land aangegaan is.
Die ANC en die destydse NP-regering was die hoofvennote in die ge
skiedkundige ooreenkoms om ons samelewing voortaan nie meer op 'n
rasgrondslag te organiseer wat negatief diskrimineer nie en ook om nie
die weg van burgeroorlog in te slaan nie.
Dit was 'n ooreenkoms wat aan alle kante goed deurdink en uitgepraat
is. Dit is nie ligtelik aangegaan nie. Die kwaliteit van die ooreenkoms
en die diepe erns van alle partye wat vennote daarin was, het die
buitewêreld in so 'n mate geïmponeer dat hulle dit as die
"Suid-Afrikaanse wonderwerk" bestempel het.
Dit was egter nie 'n wonderwerk soos in stories nie. Daar was nie 'n
besoek van buite wat op geheimsinnige wyse ons probleme hier kom oplos
het nie. Die ooreenkoms was bloot nugtere besluite deur mense met goeie
verstande en 'n bereidwilligheid om tot die beste vergelyk moontlik vir
almal te kom.
Daardie ooreenkoms is 'n politieke heiligheid en is vandag die kern van
omtrent ons hele samelewing. Dit is die fondament van versoening en
samewerking tussen verskillende etniese groepe en dit vorm ons visie
vir die toekoms.
Pres. Thabo Mbeki het met reg die afgelope jaar al ten opsigte van
grondverdeling na die ooreenkoms verwys. Deel van die ooreenkoms wat
meer as tien jaar gelede in Kempton Park aangegaan is, was dat die
onregverdige verdeling van grond op rasgrondslag reggestel sou word.
Só 'n verdeling, is besluit, moet aan die hand van die reg en kenbare
reëls gedoen word. Dit word tans só gedoen, maar sommige wit
grondeienaars is halsstarrig en onwillig om die ooreenkoms in gees na
te kom, het Mbeki gesê.
Hy was reg toe hy gesê het die ooreenkoms waarop ons samelewing en
Grondwet gebou is, moet eenvoudig nagekom word.
Daardie ooreenkoms kan afgelei word uit die openbare onderhandelings
voor 1994 en uit die besluite wat tydens die onderhandelings geneem is,
soos vasgevang in die eerste weergawe van die Grondwet (wat basies die
Grondwet in sy huidige weergawe is).
Daar was egter ook die meer formele aanvaarding van grondwetlike
beginsels wat as oorspronklike grondslag vir die onderhandelings gedien
het. (Dit kan as 'n aanhangsel by die 1994-grondwet gekry word.)
Dit lyk nou ontstellend of die ANC besig is om daardie ooreenkoms te
ontrafel.
Hernieude praatjies oor 'n derde termyn vir Mbeki (wat hy self gerus
duidelik in die openbaar kan veroordeel) is 'n verbreking van die
ooreenkoms.
In Kempton Park is helder en duidelik besluit om presidente tot twee
termyne te beperk as 'n demokratiese teenbalans vir moontlike korrupsie
en swak bestuur wat só baie keer volg op lewenslange termyne in pas
onafhanklike state.
Dan is daar die klaarblyklike aanslag op regsprekende onafhank likheid
deur me. Brigitte Mabandla, minister van justisie, en haar adjunk, mnr.
Johnny de Lange.
Hulle wil wetgewing maak wat die regering administratiewe en
begrotingsbeheer oor die howe sal gee .
Die grondwetlike beginsels verklaar onder meer dat wetgewende (die
parlement), uitvoerende (die regering) en regsprekende (die howe) gesag
geskei sal wees in die demokratiese Suid-Afrika. Dit verklaar dat die
howe onafhanklik sal wees en dat hulle die gesag sal hê om die
Grondwet en die regte verskans in die Grondwet te beskerm en dat hulle
die beskerming sal kan afdwing.
Die Grondwet bepaal (art. 165) dat die howe onafhanklik is, slegs aan
die Grondwet onderworpe is en dat geen persoon of staatsorgaan op die
funksionering van die howe inbreuk mag maak nie.
Die minister wil onder meer die volgende subartikel byvoeg: "(7) The
Cabinet member responsible for the administration of justice exercises
authority over the administration and budget of all courts." Met ander
woorde die minister sal dié aspekte beheer.
As die wetgewing deurgaan en as Mbeki boonop nog sy derde termyn kry,
gaan die ooreenkoms van 1994 nog staan? As die ANC hom nie daarby hou
nie, hoekom moet die ander politieke groeperinge?
Sulke vrae is bitter gevaarlik.
|
|
|