Tuis » Taal » Afrikaans, ons taal » Afrikaans Huppel
Afrikaans Huppel [boodskap #103479] |
Ma, 30 Mei 2005 12:10 |
Annette
Boodskappe: 11112 Geregistreer: Augustus 2003
Karma: 1
|
Senior Lid |
|
|
Uit " Die Burger "
28/05/2005 21:15 - (SA)
80 jaar amptelik...en die antie dans nou éérs
ANASTASIA DE VRIES
Vandeesmaand tagtig jaar gelede het Afrikaans een van Suid-Afrika se twee
amptelike tale geword. Die tweede lesing van die nodige wetgewing was op 8
Mei 1925 in die parlement en op 27 Mei is Afrikaans amptelik as landstaal
erken. Vandag deel die taal daardie status met nog tien tale, en party meen
die taal voer 'n nuwe oorlewingstryd. Maar ANASTASIA DE VRIES het ook bevind
die taal is nog die ene bruisende lewe.
Tagtig jaar is nie vandag se kind nie, maar Afrikaans kan dit nog lekker
uitkap. Die taal se klanke bly by met askoek trap, kotiljons, wals of kwêla
op die ritme van Afrika, Europa en die Ooste. En blê homself vernuwe.
Die man wat van 1914 af die dryfveer was agter die parlementêre stryd om
Afrikaans se status amptelik te maak, C.J. Langenhoven, die geliefde
Neelsie, het seker geweet waarvan hy praat toe hy in 1914 Afrikaans se
groeipotensiaal met 'n "snelstygende boog" vergelyk het.
"Om ons één eie taal tot nut te gebruik, is groter kuns as om sewe by te
leer," het hy gesê.
Snelstygende boog? Inderdaad. Langenhoven sou hom verwonder het aan die
seggingskrag, die verskeidenheid en léwe van Afrikaans in die 21ste eeu. Aan
'n verbysterende prosad's soos Marlene van Niekerk, 'n digter soos Antjie
Krog, 'n punk-band soos fokofpolisiekar - en boweal die taal wat die mense
in hul verskeidenheid praat.
Terwyl die land worstel met wie nou waar watse soort Afrikaans moet praat,
sê die digter Ronel Nel in 'n onlangse rubriek baie dankie vir hulle "wat
met musiek 'n met bevange poësie net aangaan. Aangaan en kos gee, in
Afrikaans, vir die ouens op straat en voor die CD-speler en by Bekgevegte en
oor RSG."
Luister maar na die lirieke van die nuwe geslag Afrikaanse musikante, wat
deur sommige as ons nuwe digkuns bestempel word.
Soos Kobus!, wie se lede hul ding vir Afrikaans doen as hulle onder meer
"Gee raat!" op Afrikaanse verhoë uitgalm:
Sê my Gelowige Grysaard wat staan jou te doen
As 'n huilende vrou jou nagtelik kom soen?
Wanneer skaduweekindertjies in jou kamer kom speel
En in kindertuinrympies hul lekkers met jou deel?
Vertel my Verkalkte Kwak wat moet ons drink
Om die silhoeëtte te kuur wat aan die voetenent wink?
Het jy 'n resep of 'n blaartjie te kou?
Wat die dooie gesigte uit my drome sal hou?
"Op ons wat skrywers is, wat die voorreg van verligting gehad het - op ons
rus die las van die roeping om stemme van die volk te wees vir die geestelik
blindes van 'n arme, onbevoorregte volk," het Langenhoven destyds gesê.
Sê jy wat tanne het, sê fokofpolisiekar onder meer in sy "Hemel op die
platteland":
Kan iemand dalk 'n god bel
En vir hom sê ons het hom nie meer nodig nie
Kan jy apatie spel?
Reguleer my, roetineer my
Plaas my in 'n boks en merk dit veilig
stuur my dan waarheen al die dose gaan
stuur my hemel toe ek dink dis in die platteland.
Arikaans is sy priester, bieg die sanger Jan Blohm onlangs in 'n onderhoud
met Rapport. Dis die taal waarin hy "tienerangs beleef, huil, kots, doodgaan
en soms liefde maak". En terwyl die "wit agterkleinkinders van Van Wyk
Louw", onder wie Karen Zoid en Gert Vlok Nel, volgens die digter Antjie Krog
in haar N.P. van Wyk Louw-lesing verlede jaar by die Universiteit van
Johannesburg, hul ding op LitNet, CD's en rockfeeste doen en vir hulle 'n
genre en 'n verskeidenheid temas "oopgeveg" het, is daar diegene wat die
laaste jare in Afrikaans se oorvloedige skatkis van digkuns na lirieke gaan
soek het.
En die oes was groot, bewys die opgaaf van Afrikaanse gedigte wat reeds
getoonset en gesing word. Afrikaanse verse kry sê 'n tweede lewe in
ballades, rock, kletsrym
(rap), reggae, die blues, Afrika-ritmes en die tango.
Ewe groot is die verskeidenheid van die taal. Daar is ruimte vir almal om
hul sê te sê.
Van die Kaapse Vlakte tot die land se binnestede kon lafenis vind by
Afrikaans se syferfonteine met Brasse Vannie Kaap, Anton Goosen, Duusman en
Battery 9 se toonsettings van Breyten Breytenbach se digkuns.
In Marita van der Vyver se Griet skryf 'n sprokie het die land ontdek dat
vroue die dinge van die lyf aan hul lyf wil voel en die erwe van die vadere
behoorlik omgedolwe in Kleinboer se Kontrei.
En in die digkuns is dit veral met Krog se "Met woorde soos met kerse",
waarvan die titel inspeel op die bede "maak vi' ons lig moet hierie woorde
soes moet kerse" uit Adam Small se "Kô lat ons sing" dat Afrikaans haar lê
geloop kry het tussen die ander inheemse amptelike tale in Suid-Afrika.
Resensente besing dié bloemlesing as 'n testament van dit wat ons
(Afrikaanse) ore nie in die ander tale kon hoor nie, "dit het Krog gaan
vertaal, en skielik val die skille van die oë, lê die wetes en sienings, die
ritmes van sê, die lyflike van sien soos 'n blink en lewendige ding tussen
ons. Om van te geniet. Om deel aan te kan hê."
En die meester-prosawerk van verlede jaar, Marlene van Niekerk se Agaat,
reeds bekroon en waarskynlik nog bekronings wat wag, is naas alles wat van
die verstommende roman gesê kan word ook 'n kragtoer van die taal. Vanweë
die besinning oor taal in die teks, maar boweal vanweë Van Niekerk se
taalvermoë.
Soos: "Vuis in die mond, vuis uit die mond sit sy daar, sit en wik en weeg,
'n ewigheid het dit gevoel. Trapsoetjieshand aan die lip van die sak. Wik
met die vingertoppe op die goiingrand, toe die rafels van die sak tussen
duim en voorvinger. Toe trek sy haar asem skerp op. Oop is die hand, in glip
die hand, kruipmol in die sak!"
Ja-nee, sê die resensent Michael Morris in sy bespreking van die nuwe
tweetalige woordeboek wat onlangs by die uitgewer Pharos verskyn het,
Afrikaans was eens 'n stowwerige en streng "antie", wie se stemmigheid in 'n
outydse leksikografie gebalsem is.
"Maar (nou) is daar seker geen taal in Suider-Afrika wat so vindingryk en
uitdruklik inheems soos Afrikaans is nie," sê hy en raak gaande oor woorde
soos brugkettie (bungee), vuvuzela, gay en lekgotla wat nou in dié
woordeboek pryk.
Sien, op tagtig sit Afrikaans lekker gemaklik genoeg in haar eie lyf om die
kinders aan haar boesem te koester wat in hul straattaal eerder praat van
"outie" of "die ou" pleks van "dude", wat "Heita!" sê vir "Hi!" en "kwa(a)i"
of "kwailappies" as die res van die wêreld "cool" verkies.
Want sy weet in g'n ander taal kan jy "ja-nee", "bredie" of "bobotie"
vertaal nie, nêrens is koesieste 'n speseryagtige oliebol met klapper terwyl
haar koeksister 'n stroopvlegsel is, of is koffie en boeretroos een en
dieselfde ding nie.
En het sy ruimte vir 'n antie Raggie in Ravensmead se Dertiende Laan wat
lai-lai raak (kla) oor "dieselle ou kwesties waarvoor dieselle ou reserpte
(doktersvoorskrifte) verskaf word".
Afrikaans, sê Joan Kruger, joernalis wat sêlf kan toor met die taal, is sy
sprekers se magtigste kulturele of tradisionele wapen. "Wat jy ook al in
Afrikaans wil verkoop - die taal, jouself, 'n produk - as dit goed wil
verkoop, moet dit goed wéés."
En Afrikaans, sê sy, is nie velskoene en tuitkappies nie. As jy mooi kyk,
sal jy sien dié antie dáns!
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: Do Nov 21 12:57:36 MGT 2024
|