Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » Rubriek uit Beeld - deur Ferdi Greyling
Rubriek uit Beeld - deur Ferdi Greyling [boodskap #100501] Tue, 30 November 2004 13:55
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4795
Geregistreer: December 2003
Karma: 0
Senior Lid
Tussen kwotas en transformasie moet 'n mens probeer aflei hoe die ANC oor
ras en rugby dink.

Dit is nie in die aard van dié regering om sy gedagtes bekend te maak nie en
boonop vermoed 'n mens die ANC sal om taktiese redes nie sê wat sy planne
presies is nie.

Dit is omdat hy waarskynlik reken hy moet die rugby-gemeenskap (lees "wit en
Afrikaans") met 'n wortel-en-lat-speletjie oorreed om sy rasse-visie vir die
land binne te stap.

In die proses is die kans natuurlik daar dat die ANC nie besef nie dat die
rugbygemeenskap grootliks reeds in die land van funksionele nie-rassigheid
gearriveer het.

By gebrek aan inligting (en sulke eksotiese dinge soos deursigtigheid en
verantwoordbaarheid) is 'n mens vandag wat dié kwessie betref oorgelaat aan
afleidings en raaiskote en dit lyk asof die ANC inderdaad die
wortel-en-lat-speletjie speel.

Die wortel is die herhaalde aankondigings dat daar nie meer kwotas is nie en
dat meriete al is wat op topvlak tel. Dit word versoet deur periodieke
positiewe uitsprake en glimlaggende gelukwensings, veral wanneer die
Springbokke gewen het.

Die lat is die parlementêre sportkomitee en die ANC se jeugliga.

Die speletjie werk dan so: Daar word duidelik gesê daar is nie meer kwotas
nie. Daar is net transformasie, maar transformasie word nie verduidelik nie.
Die implikasie is egter dat transformasie meer 'n proses as 'n syfer is. Dus
sal dit genoeg wees as mense se houding verander het en hulle funksioneel
nie-rassig optree.

Daarvan hou die rugby-gemeenskap want dit is 'n ander manier om "meriete" te
sê. Hulle verloor dan hul bitterheid en gooi weer hul gewig agter ons
rugbyspanne. Die sport lyk of hy weer floreer.

Maar dan kies Jake White weens omstandighede net een nie-wit speler in die
Bok-span en die "lat" tree in werking.

Die jeugliga reik woedende en rasgelaaide verklarings uit. Die parlementêre
sportkomitee gooi speelgoed dat dit van die mure hop en dreig met wetgewing
en ignoreer uitsprake dat wetgewing dalk nie 'n slegte plan is nie, want dit
sal helderheid bring.

White kies onder druk weer vir Breyton Paulse, die jeugliga doen wat dit ook
al is wat jeugligas in aftye doen en die parlementêre komitee dreun sag soos
'n yskas in die nag voort oor ander kwessies.

Hulle dink waarskynlik hulle "speel" die rugby-wittes in die proses soos 'n
banjo.

Maar hulle moet miskien weer dink. Dalk is hulle nie heeltemal so op hoogte
van wat op grondvlak aangaan nie.

Dit is dalk net die geval dat rugbyondersteuners (lees wit en Afrikaans) 'n
tyd gelede reeds die nuwe Suid-Afrika omarm het - kort nadat Nelson Mandela
die no. 6-trui gedra, Chester Williams mooi drieë gedruk en Louis Luyt die
aftog geblaas het.

Neem byvoorbeeld Gcobani Bobo. Verlede seisoen was hy op vorm en sy grootste
aanhangers in Gauteng was hardebaard-ondersteuners met wit velle. Party
selfs met boeppense ook. Hulle hou van spoed en talent - mits dit die regte
kleur trui dra.

Vanjaar was hulle teen Bobo se insluiting in die Bok-span bokant Ettienne
Botha, nie omdat Bobo swart en Botha wit is nie, maar omdat Botha op
briljante vorm en Bobo totaal van vorm af was.

Dieselfde Johannesburgers was Bryan Habana-ondersteuners. Hulle gaan hom nou
egter bietjie met die nek aankyk, want hy is Pretoria toe.

Maar kyk watter held gaan hy onder die manne met die horinghoede raak.

Dit het nie met hulle velkleur te doen nie, gaan vra maar vir die
Paulse-ondersteuners in die Kaap; dit het met die kleur trui wat hulle dra
te doen en met spoed en 'n swenk.

Wit, Afrikaanse rugby-ondersteuners is opgewonde oor die soort talent wat
Habana verteenwoordig.

Hulle is baie nuuskierig oor Jonghi Nokwe. Hulle het gekraai van die plesier
toe Tonderai Chavanga vir Joe Rokocoko ore aangesit het en hulle volg
Chavanga se vordering met sy been-probleem en Suid-Afrikaanse burgerskap
sedertdien noukeurig.

Met rede, want hulle kan nie wag dat dié spelers drieë vir die Bokke druk
nie. Hulle is natuurlik ewe opgewonde oor Botha, Jean de Villiers en Schalk
Burger. Hulle is reeds in werklikheid nie-rassige voorstanders van meriete.

Om met hulle die wortel-en-latspeletjies te speel, gaan dalk 'n ongewenste
uitwerking hê, veral as hulle deur die speletjie begin sien.

Deur ras in hulle gesig te vryf, word hulle dalk net weer oorbewus van ras
gemaak, en deur anti-wit te wees, of so voor te kom, word hulle dalk net
pro-wit gemaak. Dan is hulle uit nie-rassigheid gelei terug na die plek wat
hulle verlaat het.
Vorige onderwerp: Uit " Joernaal van Jorik " deur D.J. OPPERMAN
Volgende onderwerp: " Vir N wat op Mosselbaai agtergebly het" deur FERDI GREYLING
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sun Dec 22 02:48:17 UTC 2024