Die Klein Karoo [boodskap #6517] |
Sun, 02 June 1996 00:00 |
Koos[1]
Boodskappe: 745 Geregistreer: January 1996
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Op my Web-blad (www.icon.co.za/~ferdig) kan 'n foto of wat van die
berg ook gesien word.
Droe Waterval
______________
In die Klein Karoo vertel ek my kinders
van die werklikheid wat Oudtshoorn was.
Hier waar tyd
stadig uit die skerp lug
'n lewe om my gedrup het.
Hier was nagte soos koue yster
met die veraf klank van aankomende treine
spierwit velde ryp vroegoggend
om die huis
en my ma
wat soos 'n vreugdevolle wetenskaplike
uitvind
in die nag
het die water 'n klein gletsertjie van ys
by die tuinslang uitgedrup
mense wat veraf in koerante sterf
die geweerskote plat letters op papier
name wat sag weerklink
tussen die beiering van die vier heilige seisoene deur
...Poqo...Mandela...
en aande in die agterkop gaan le^
op die beeld van bruin Hermaans die verwer
'n goeie man
wat bakhand voor die agterdeur
die see"ning van werk by ander met wit velle moes vra
skoonheid wat onverskillig in 'n meisie brand
terwyl die rook van houtvure
vroegaand oor die blou dorp neersak
en net oor die berge die see
'n reuse blou woud vol gevare en geheime
waatlemoene wat rooi in die somer oopbreek
soos soet halfedelgesteentes
klonte baugainvilleas wat in die warmte
teen die dorp se bome gloei.
Ons ry oor die Swartberge
na waar die Groot Karoo wyd en oop le^.
Ek en my kinders.
Hulle luister verveeld uit hulle helder lewens
na die eggo's van my verlede.
Op die berg - uitgeplof deur vulkane
en geplooi deur gletsers -
staan ons soos ander toeriste
en kyk na:
Droe"waterval.
'n Mindere geologiese gebeurtenis;
swart oervlekke in strepe teen die rots.
Soos die skaduwee van water.
As jy lank genoeg na die klip staar,
kan jy jou verbeel.
Jy hoor water,
'n dun, verbrokkelde stroom
wat soos vloeibare koelte
in spattende eggo's val.
My kinders dink die naam Droe"waterval is snaaks.
Ek weet dis laf.
Donker vlekke op rots is nie water nie.
Ons klim in die kar en ry.
My kinders giggel om verveling te besweer.
Agter hulle oe", diep in die toekoms,
bruis hul dade reeds onkeerbaar oor dae.
(Kyk!
Hulle ry alleen uit oor die oop Karoo
en los my by die gevlekte rotse
van my berg!
Op die dun pad
na Beaufort-wes
en verder noord,
verby Zimbabwe
tot oorkant Olduvai
waar die horing van Afrika
afsplit in 'n nuwe land
ry hulle reeds!
Dit pla hulle nie
dat vroee" mens en dier
uit die tye van die groen Karoo,
vergete in die gestolde klippe le"
waarmee die dun pad gepak is!)
|
|
|