Bainskloofpas [boodskap #89464] |
Wo, 21 Januarie 2004 19:13 |
bolander
Boodskappe: 27 Geregistreer: Maart 2004
Karma: 0
|
Junior Lid |
|
|
Andrew Geddes skryf op 23 April 1847 in ‘n brief aan C H Ginsbrook van
Graaff-Reinet van sy besoek aan die Karoo en die groot hoeveelheid
fossiele wat hy daar gevind het. Hy vertel daar hoedat hy van mening is
dat groot dele van die Karoo vroeër oordek was met vars water. Vandag is
dit ‘n bekende feit, maar in daardie dae is dié teorie soms skepties
ontvang.
Hy noem ook daarin dat die kruine van Tafelberg, Bainskloof en
Mostertshoek almal van dieselfde gesteente was. Hy was juis besig om in
dié tyd die pad deur die Skurweberg by Mostertshoek te bou. Dit is nou
die Michelspas wat deesdae by Ceres deur die berg herbou word.
Bain het sy eerste pas, die Oubergpas, in Graaff-Reinet se wêreld gebou.
Ander bedrywe wat hy beoefen het, was dié van skrywer,
ontdekkingsreisiger, saalmaker, boer en soldaat.
Ook sy geologiese kaart van Suider-Afrika was ‘n merkwaardige
nalatenskap. Hy vertel ook in die brief aan Ginsbrook dat daardie kaart
die grootste bydrae van ‘n ongesubsideerde individu tot die fisiese
wetenskap in Suid-Afrika is. Die kaart is in 1852 voltooi.
Stories oor Bain is daar heelwat. Wat vir ons hier plaaslik van belang
is, is dat die Bainskloofpas na amper 140 jaar se gebruik nog net so is
soos wat die Bains dit in 1853 voltooi het.
Die bou van die pas is ‘n storie op sy eie. Sommige Wellingtonners
vertel vandag nog hoedat Bain die berg eers te voet verken het, toe eers
‘n voetpad deur die berg laat bou het en selfs probeer het om twee
tonnels daar te bou. Die harde arbeid is deur bandiete gedoen. Daar is
natuurlik baie min oor dié mense bekend, maar hulle stories lê versteek
tussen die weeklikse verslae van die pasbouers en in die uitgawes van
"The South African Commercial Advertiser and Cape Town Mail", wat in die
Kaapse Argiefbewaarplek lê. As jy dié bronne gaan lees, ontvou ‘n storie
van sy eie voor jou.
Die superintendente wat onder toesig van Bain gewerk het, moes gereeld
verslae en statistieke byhou. Thomas Bain was superintendent by die
Wolwekloof bandietstasie. Dit is nou waar die Tweede Tol kampeerterrein
vandag is. Vandag nog word vertel hoedat die berugte perdedief van
daardie tyd, Scotty Smith, daar by Tweede Tol aan ‘n klip vasgeketting
moes word.
Ek glo nie dit was Scotty nie, maar wel Kwaai Smit, wat volgens die
verslae juis tydens die opening van die pas ook ‘n spreekbeurt probeer
kry het. Daar is vooraf aan dié wat aan die pas gewerk het belowe dat
hulle afslag van hulle vonnis sou kry en Kwaai Smit wou toe daardie dag
maar net hoor of die afslag nou sou realiseer.
Dit is juis Tweede Tol wat vandag nog vir my ‘n onopgeloste raaisel
inhou. Reg bokant die bruggie wat daar oor die rivier loop het daar eens
op ‘n tyd ‘n groot houtgebou gestaan. Ek vermoed dat daar iewers ook
vroeër ‘n hotel moes gestaan het. Was dit nie juis daardie houtgebou
nie? Die bekende hotel op Die Nek by Eerste Tol is tog eers in 1926 gebou.
Met die druk verkeer na en van die diamant- en goudvelde in die
binneland moes Bainskloof sy glorietyd rondom 1880/1890 beleef het. Die
transportryers van destyds sou dus ‘n uitspanplek ná of voor die
moordende tog deur die berg gesoek het. Die idee van ‘n hotel in die
omgewing van Tweede Tol klink dan glad nie te vergesog nie.
Al my navrae en ondersoeke oor daardie vraag het egter nog niks
opgelewer nie. Ek het nog steeds net ‘n enkele sinnetjie uit ‘n koerant
van 1915 wat die enigste leidraad is. Miskien is dit een van die geheime
wat Bainskloof vir altyd van my gaan weerhou.
click to go to top of page
|
|
|