16 Desember 2003 [boodskap #87946] |
Vr, 05 Desember 2003 10:19 |
Frikkie Potgieter[2]
Boodskappe: 439 Geregistreer: November 2000
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
16 Desember 2003
Geloftedag is vir talle Afrikaners die sentrale gebeurtenis in ons
volk se geskiedenis. Prof Adriaan Pont het dit tereg as die hartklop
en onmisbare koersbepaler van die Afrikanervolk beskou. Dit word as
dié belangrikste gebeurtenis in ons volkswording gesien. Daar is
selfs diegene wat dit as die heiligste dag in die geskiedenis van ons
volk beskou.
Tog is daar diegene, mense wat Afrikaans praat, wat onverskillig en
selfs afwysend teenoor Geloftedag staan. Baie vrae is dan ook in die
verlede oor Geloftedag gevra. Sommige se venyn was skerp en
meedoënloos. Dit was een van die redes waarom daar 'n toenemende
afwesigheid van volksgenote was by Geloftefeeste. Vandag spreek talle
bedenkinge uit oor die voortdurende viering van Geloftedag. Van
hierdie vrae was of die Voortrekkers die bevoegdheid of selfs die
bedoeling gehad het om elke Afrikaner tot in die verste toekoms deur
die Gelofte te bind en of die bedoeling nie was om slegs daardie
Voortrekkers wat teenwoordig was by Bloedrivier en hulle kinders
daardeur te bind nie. Dit is nodig om hierdie saak in die reine te
stel.
By die viering van Geloftedag moet in die allereerste plek onthou
word dat dit om die lof van God gaan en oor Sy groot dade en oor die
feit dat daar voor Hom 'n gelofte afgelê is. Daarom dan ook die
benaming Geloftedag. Om 'n gelofte voor die aangesig van God af te lê
is 'n baie ernstige saak. In die Bybel, in Prediker staan dat dit
beter is dat 'n mens nie belowe nie as wat 'n mens belowe en nie
betaal nie. By die aflegging van 'n gelofte gaan dit naamlik daaroor
dat God as die getroue getuie ingeroep word en onder aanroeping van
sy Naam 'n eed voor Hom afgelê word. Die erns van enige gelofte word
verskerp indien ons nie net vóór God 'n gelofte aflê nie, maar ook
áán God. Dan is dit nie net 'n belofte wat ons voor Hom maak nie,
maar 'n belofte wat aan Hom gemaak word. Dit was die aard van die
Gelofte van 16 Desember 1838. Hierdie erns was dan ook deur die
Voortrekkers, en Sarel Cilliers en Andries Pretorius by name, besef.
Met die aflê van die Gelofte het hulle dan ook enigeen wat beswaard
daardeur sou voel, gevra om nie deel daarvan te wees nie. Die woorde
van die Gelofte wat stel dat hulle "voor die Heilige God" staan,
bevestig hoe ernstig hulle die saak beskou het.
'n Belangrike vraag is vir wie hierdie Gelofte van 16 Desember 1838
geld. Professor Ben Engelbrecht het hierdie saak in 1958 reeds
uitnemend belig. Daar is geloftes voor God wat persoonlik kan wees.
Voorbeelde daarvan is die gelofte van Jakob by Betel en die gelofte
van Paulus. 'n Gelofte kan ook tydelik begrens word soos die gelofte
van die nasireërskap waarvan in Numeri 6 gelees word. Maar 'n gelofte
kan ook ander mense insluit, soos die gelofte van Hanna wat aan
haar 'n verpligting opgelê het om die nog-ongebore Samuel vir sy hele
lewe lank aan die Here op te dra. Ook die doopbelofte verbind nie
alleen die ouers nie, maar ook die kinders wat dit nog nie verstaan
nie.
Geloftes kan ook ander geslagte bind soos wanneer 'n volk beloof dat
daardie volk en daardie volk se nageslag die Here sal dien. Daarvan
lees ons dan ook in Jeremia 34. Die aard van die Gelofte van 16
Desember 1838 maak dit baie duidelik dat elke lid van die
Afrikanervolk en wat as 'n lid van hierdie volk beskou wil word, deur
die Gelofte gebind word. Die Voortrekkers by Bloedrivier het bedoel
om die ganse nageslag te bind met hulle daad. Elkeen wat homself
Afrikaner wil noem en hom verbonde met die Afrikaner ag, is daardeur
gebind. Indien 'n persoon nie hierdie binding en draagkrag van die
Gelofte wil aanvaar nie, moet hy homself ook nie as deel van die
Afrikanervolk beskou nie. Trouens dit gaan sover dat die
verantwoordelikheid om deel te wees van hierdie Gelofte, die
belangrikste element van Afrikanerskap is.
Die Voortrekkers het nie 'n besigheidstransaksie met God gesluit nie,
maar het ons voorvaders besef dat God in sy soewereine genade die
geskiedenis sou laat verloop het soos wat Hy dit goed geag het, of 'n
Gelofte gesluit is, of nie. Al wat hierdie Voortrekkers belowe het,
was dat indien God in sy soewereine genade hulle tog welslae sou laat
ervaar, hulle dan uit dank vir sy genade sekere dinge wat hulle
beloof het, tot sy eer sou uitvoer. Dit is verder opvallend dat die
Voortrekkers nie iets kon belowe wat hulle in elk geval sou moes doen
nie. Hulle kon byvoorbeeld nie belowe het dat hulle Sondae gereeld
kerk toe sou gaan nie, maar moes hulle iets buitengewoons belowe en
daarom het hulle belowe dat hulle die dag en datum as 'n Sabbatdag
sou vier, al sou dit nie op 'n Sondag val nie. Dit sou verseker dat
die dag deurgaans met gewyde atmosfeer herdenk word. Geloftedag het
nou nie net "Versoeningsdag" geword sodat die klem op die betekenis
van die dag vervaag het nie, maar het die gewydheid van die dag ook
verlore gegaan. Dit was twee berekende stappe om die dag se betekenis
af te breek.
Op ons rus die taak om opnuut hierdie saak reg te stel sodat 'n mens
op Geloftedag allereers in dankbaarheid en lofprysing teenoor God sal
wees. Dit sal die gewydheid van die dag herbeklemtoon. Daarom behoort
die erediens die toespraak vooraf te gaan. Enige verwysing na die
geskiedenis tydens die viering van Geloftedag moet teen daardie
agtergrond gesien en gedoen word. Die betekenis van Geloftedag moet
steeds deur middel van die toespraak aan ons kinders vertel word. Ons
geskiedenis moet egter nooit verafgod word nie, maar as genade uit
God se hand gesien word. Wat ook besef moet word, is dat die
verhoring van die gebed op 16 Desember 1838 nie as waarborg vir 'n
verdere onfeilbare volksgeskiedenis van die Afrikaner gesien kan word
nie. So het NP Van Wyk Louw dan ook gestel dat ons toekoms nie veilig
op onbreekbare tafels geskrywe staan nie, maar elke dag opnuut deur
wil en daad geskep moet word. Daarom moet klem gelê word op die feit
dat die Afrikaner deur gebed én daad die Gelofte in stand moet hou.
Dr Verwoerd het in 1958 daarna verwys dat ons (deur ons dade) as volk
moet bou op die enigste fondament van volke, naamlik die geloof.
Die geskiedenis het die Gelofte in 'n historiese ruimte geplaas wat
kennelik nie met mensehande gemaak is nie. Andries Pretorius en Sarel
Cilliers was onbewus van die ingrypende betekenis van hulle daad. Die
geskiedenis sou dit eers later openbaar dat hulle deur God se
beskikking in die brandpunt geplaas is om namens die ganse
Afrikanervolk só op te tree.
Paul Kruger was in 1881 van mening dat die oordele van God oor ons
volk gekom het vanweë die verwaarlosing van die Gelofte. Vandag kan
dit weereens beaam word. Persone wat bedenkings het oor Geloftedag
word dikwels deel van die verwoede aanslag op ons volk se geloof, sy
waardes en sedes, en sy geskiedenis. In die benouenis van 'n volk is
daar by die randeiers altyd die begeerte om nie met die bedreiging
slaags te raak nie, maar eerder aan te pas by die eise van die vyand.
Daardeur bring hulle 'n oordeel oor hulleself en sluit hulle
hulleself daarvan uit om Afrikaner te wees.
Die les van 16 Desember 1838 is die beste opgesom deur die
Afrikanervolk se grootste profeet, Jaap Marais. Hy het dit soos volg
opgesom:
Rondom die Gelofte is daar vir ons tyd 'n les: in teëspoed en
teleurstelling word mense se karakters beproef, en bring dit die
beste na vore; word moed en volharding 'n hoë deug; word trou aan
plig en eer en waarheid 'n mag; en kan met geloof in God 'n daad
verrig word wat uitkring oor die jare en 'n volk vir geslagte
begeester.
Laat 16 Desember Afrikaners opnuut begeester om in die jare wat kom
onder die besef van ons afhanklikheid voor God doelgerig vir ons
vryheid te werk. Die moed wat daarvoor nodig is, kan net deur geloof
verkry word.
www.hnp.org.za
|
|
|