Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » Uit " Joernaal van Jorik" deur D.J. OPPERMAN
Uit " Joernaal van Jorik" deur D.J. OPPERMAN [boodskap #82846] Mon, 25 August 2003 01:30 na volgende boodskap
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4795
Geregistreer: December 2003
Karma: 0
Senior Lid
Uit JOERNAAL VAN JORIK
D. J. Opperman

En Wiesa met haar hare wit soos brak,
kyk na die vuurtjie binne alle dinge;
sy laat die rook van vlam en kole sak
tot voorbodes en ou herinneringe;

en sy vertel hom mymerend van 'n volk
in windoop ruimtes van 'n land gevorm
wat opstyg uit die see tot in die wolk
waar God praat in die weerlig en die storm;

sy noem hul opstand teen die vreemde ras;
roep ou gesigte voor haar uit die vlam,
van vegters, vryburgers soos Adam Tas,
dorpies soos Graaff-Reinet en Swellendam.

En sy vertel hom van die heuninggat
waarin Frederik Bezuidenhout
met sy geweer aanlê en weier dat
vier Hottentotte en 'n Kakieskout

en nog 'n hele boel daarby hom vang.
"En soos jy weet, my seun, die tou was vrot
waaraan die vier opstandiges moes hang;
party sê dis toeval, maar ons sê dis God."

Vertel hom van die vlam en donker mens
wat in die ooste om die huise saans
ou liedere van impi's sing, die grens
van kinders en 'n volk se lang stoet waens.

"Hy het ons van verdrukking afgesonder
.... kwyldrade van die osse blink oor gras....
dat ons in stiltes weer opnuut die wonder
van Hom sou ken, soos Hy hier eenmaal was."

En sy vertel hom van die leed en angs,
verraad en moorde soos op Piet Retief,
van nagte soos by Weenen en Bloukrans,
en liggame met assegaai deurklief.

"Hy was met ons die nag by Bloedrivier
toe lang sweepstokke met lanterns swaai,
Hy was ons eerste lig oor die visier
toe die kruitdamp oor Amajuba waai.

En volke het om hierdie land van ouds
gevaar en in gruisgate rond gesoek
soos erdvarke; maar die Stad van Goud
moes óns klein volkie later vind... tot vloek!

En hulle het ons huise afgebrand.
Hóé kon die rykes van 'n ryk ooit weet
dat ons sou veg vir ruimtes van ons land
al moes ons in die veld rysmiere eet?

En soos mens snags in dieptes van die Baai
se waters sien hoe skommel ster en lampe,
sê in 'n donker kol van hierdie volk, swaai
beelde nog van Konsentrasiekampe.

Ek stap een oggend uit die Kamp en sê:
'Kyk, sien ek vanoggend 'n duisend skaap
wat op die vlaktes so in hopies lê?
Maar nee!' sê ek. 'Dis mos waar dooies slaap.'

En nou waar miershoopkamers en rotstuine
staan, en skepsels koekepanne laai,
lê hulle stil: ou vegters in die bruin
komberse van die aarde toegedraai."
Re: Uit " Joernaal van Jorik" deur D.J. OPPERMAN [boodskap #82865 is 'n antwoord op boodskap #82846] Mon, 25 August 2003 14:16 Na vorige boodskapna volgende boodskap
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4795
Geregistreer: December 2003
Karma: 0
Senior Lid
@rogers.com wrote
> Uit JOERNAAL VAN JORIK
> D. J. Opperman

Elaine, ek het hierdie stuk uit " Joernaal van Jorik"
spesiaal geplaas vir jou, sodat jy kan sien wat
Opperman as die kultuur van die Afrikaner sien.
Wat dink jy daarvan? Ek dink " Joernaal van Jorik"
is een van die beste stuk letterkunde wat daar in
Afrikaans bestaan. Mens kan miskien vir Opperman
beskuldig dat hy teveel die " nasionalistiese" hoek
op die Afrikaner verteenwoordig ( - hy was after
all 'n Broederbonder - ) maar ek word nog altyd
ontroer deur die manier waarop hy van die Afrikaner
se geskiedenis praat. As jy vir jou een Afrikaanse
digbundel wil koop wat regtig die moeite werd is,
as jy dit nie alreeds het nie, is dit Joernaal van Jorik.

Gloudina
Re: Uit " Joernaal van Jorik" deur D.J. OPPERMAN [boodskap #82869 is 'n antwoord op boodskap #82865] Mon, 25 August 2003 15:11 Na vorige boodskap
Elaine  is tans af-lyn  Elaine
Boodskappe: 2948
Geregistreer: December 2003
Karma: 0
Senior Lid
Ek hou van D.J. Opperman se werk. Dis ook een van daai gedigte wat aan jou
hart raak. Ek probeer gewoonlik nie om 'n gedig te ooranaliseer nie, want
dit vat die "mooi" en emosie uit die gedig - vir my in elk geval. Ek het op
hoërskool agtergekom dat 'n gedig 'n baie subjektiewe ding is. Dis soos 'n
liedjie, elke ou gaan iets anders in 'n gedig sien, en elkeen gaan anders op
die gedig reageer.

Ek het dit tog geniet om die gedig te lees - miskien as ek bietjie meer tyd
het, sal ek dit weer lees en vir jou 'n beter verduideliking gee :)

E

"@rogers.com" wrote:

> Elaine, ek het hierdie stuk uit " Joernaal van Jorik"
> spesiaal geplaas vir jou, sodat jy kan sien wat
> Opperman as die kultuur van die Afrikaner sien.
> Wat dink jy daarvan? Ek dink " Joernaal van Jorik"
> is een van die beste stuk letterkunde wat daar in
> Afrikaans bestaan. Mens kan miskien vir Opperman
> beskuldig dat hy teveel die " nasionalistiese" hoek
> op die Afrikaner verteenwoordig ( - hy was after
> all 'n Broederbonder - ) maar ek word nog altyd
> ontroer deur die manier waarop hy van die Afrikaner
> se geskiedenis praat. As jy vir jou een Afrikaanse
> digbundel wil koop wat regtig die moeite werd is,
> as jy dit nie alreeds het nie, is dit Joernaal van Jorik.
>
> Gloudina
>
Vorige onderwerp: " Bloedrivier, 1938 " deur D.J. OPPERMAN
Volgende onderwerp: " Winterpad " deur ANDRE LE TOIT
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sun Dec 22 14:54:23 UTC 2024