Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Legende van die drie versoekinge " deur D.J. OPPERMAN
" Legende van die drie versoekinge " deur D.J. OPPERMAN [boodskap #78702] |
Mon, 02 June 2003 22:56 |
|
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com
D.J. Opperman
Legende van die drie versoekinge
Nou moet Hy van die dorpies Hom bewus
afsonder na waar die duiker en die das
weet dat die luiperd en die valk nooit rus,
om dag en nag te peins en bid en vas
totdat Sy duister hart suiwer die doel
in grootse samehang met God: van wolk,
van lelie, tier en van die dorp, aanvoel
en met 'n daad vir alle eeue tolk.
Diep in 'n grot sit Hy vergeefs en wag
dat al Sy troebel menslikheid moet sink
en vorms duidelik word soos soms bedag
as klip en krap in helder waters blink.
Dan smeek Hy God: "Wees sterker Heer óm my
as die verwarring en die duisternis
oor palm, krans en kraai in die Vallei
van Duisend Heuwels onder nag en mis."
Maar as geen vlamme van 'n engelvlerk
of wolk-groot visioen aan Hom verskyn
wil Hy een nag onwaardig vir die werk
tussen soldaat en visser weer verdwyn
as 'n gewone mens, wat hom opdring
deur sy gebede en gepeins aan God,
soos visse teen 'n waterval opspring
maar telkens nietig van die almag stort.
Want wat kan Hy alleen vanuit die ruigtes
aan elke lewe deur die eeue bied
dat alle harte na Sy leer toe buig
soos sewejaartjies vroeg na die verskiet?
Dors en honger kom Hy in die grot orent,
'n stofkring om Sy mond; Hy sal Hom klein
en nederig na die naaste dorpie wend . . .
maar duisel... en 'n visioen verskyn:
Hy hoor hoe styg waar half-geklede mans
stoomketels met skopgrawe steenkool voer
en uit oop oonde 'n skarlaken glans
oor riffels van die ribbebene roer...
Hy hoor van vrouens met hangskouers styg
terwyl hul glasig na die niks uitstaar
en kindertjies aan leë borste suig
en huil en snikkend in hul slaap bedaar...
hoor van krom ou ooms wat stil op pikke leun
en sweet afvee in dieptes van die sloot,
altyd die bittere gebed: "O Seun
van God, maak van die klippe vir ons brood!"
As Hy voldoen aan hierdie bitter bede
sal Hy, soos Saterdags die mark se klok,
Sy boodskap luid deur elke huis laat bewe
en deur die eeue skares na Horn lok...
skares, skares wat dan nie na Hom
uit suiwerheid en stuwing van geloof
maar soos na elke aardse leier kom
wat aan die mensdom net sy brood beloof.
Tog, uit groot medelye met die mens,
buite die rus gesluit deur vlamme-swaarde,
wil Hy voldoen aan hierdie eerste wens...
maar die skepping styg deur jagter én gejaagde
Hoog van 'n kruin staar Hy oor die Vallei
na luiperd en die das, en ver en klein
die struise en die stede uitgesprei,
staar... en 'n tweede visioen verskyn:
Hy sien die mis-grou aarde, 'n moeras
waaruit die biesie, riet en angelier
die drilvis en die likkewane tas
en kruip, oplig tot die volmaakte dier
wat snuiwe aan die sterre met 'n lens,
bedags die aarde tonnel en snags speel
in rooi arenas waar hy elke wens
vervul en waar Salome hom beveel
as sy met saksofoon en goue ringe
hom na haar wil betower tot 'n moord:
"O Seun van God, aanbid die aardse dinge
en die hele wêreld sal aan U behoort!"
As Hy voldoen aan hierdie bitter bede
sal Hy, soos Vrydags soms 'n kermisklok,
Sy boodskap luid deur elke huis laat bewe
en deur die eeue skares na Hom lok...
skares, skares wat dan nie na Hom
uit suiwerheid en stuwing van geloof
maar om die vreugdes van die aarde kom
en die belonings wat Hy mag beloof.
Tog, uit groot medelye met die mens,
verlei deur appel, Eva en die slang,
wil Hy voldoen aan hierdie tweede wens...
maar die gees moet groei deur selfbedwang.
Wanhopig watter boodskap Hy moet bring
flits die versoeking deur Sy hart: Verdwyn
deur skielik van die kranse af te spring!
Hy duisel... en 'n derde visioen verskyn:
Hy hoor waar mense saans hul deur sluit
en nagpolisie in die skadu's stap,
as ambulanse deur die strate fluit
met liggame nog bloederig en slap
na waar die geur van chloroform in sale
sprei oor rye beddens, hoog-gepoot en wit,
oor vase malvas in die son se strale
waar vrouens staar en ou mans prewelend sit...
hoor, uit stadspuine en rookdampe,
van volke knielend in hul laaste nood
die nag met die wit spel van lampe:
"O Seun van God, beskerm ons teen die dood!"
As Hy voldoen aan hierdie bitter bede
sal Hy, soos Sondae die kerk se klok,
Sy boodskap luid deur elke huis laat bewe
en deur die eeue skares na Hom lok...
skares, skares wat dan nie na Hom
uit suiwerheid en stuwing van geloof
maar uit 'n vlug van die drie angste kom
na die beskerming wat Hy mag beloof.
Tog, uit groot medelye met die mens,
deur God eens uit die Paradys vervloek,
wil Hy voldoen aan hierdie derde wens...
maar dood laat na die sin van lewe soek.
Dan staan Hy op, verhelder en versterk:
vir God in hierdie skepping vasgevang
in mens en kiepersol en kiewietvlerk
sal Ek as voorbeeld aan die kruishout hang
en Hom verlos - die Son wat brandend sprei
oor valk en das en mis, en in die blou
Ãopstyg van kreits na kreits waar die Vallei
van Duisend Heuwels brokkig vou en vou.
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: Sun Dec 22 14:19:06 UTC 2024
|