Die skaam trotse Afrikaner [boodskap #77002] |
Vr, 02 Mei 2003 07:23 |
Annette
Boodskappe: 11112 Geregistreer: Augustus 2003
Karma: 1
|
Senior Lid |
|
|
Hieronder 'n selektiewe opsomming deur iemand van 'n berig in Beeld. Miskien
moet mens maar die volle berig self gaan lees.
Beeld-forum:
Afrikaner het rede om trots te wees
Leopold Scholtz
Die oorgang na 'n demokrasie in Suid-Afrika nege jaar gelede het talle
positiewe dinge vir sowel die land as die Afrikaners beteken. Maar dit het
wel een groot nadeel gehad: Dit het baie Afrikaners skaam gemaak vir hul
geskiedenis.
Die onthullings van al die vuil truuks wat die vorige regering in hul naam
gepleeg het, die martelings, moorde en menseregteverkragtings oor 'n breë
front, het talle Afrikaners diep geskok.
Nog ander het hulle as't ware van hul eie identiteit, agtergrond en
geskiedenis afgekeer, alles wat na die begrip "Afrikaner" (met inbegrip van
die taalstryd) ruik met agterdog bekyk, of politiek afgeskakel en apaties
geword.
Vir diegene wat na lig soek, is daar nou by wyse van spreke 'n helder
gloeilamp. Dit is die boek van Hermann Giliomee, The Afrikaners: Biography
of a people, wat pas by Tafelberg verskyn het.
Daarin kan belangstellendes die jongste stand van ons kollektiewe kennis oor
die Afrikaners se geskiedenis op 'n verrassend objektiewe en onideologiese
wyse aangebied, lees. Sonder dat die skrywer dit eksplisiet so stel, blyk
dit tog dat daar - naas die onbetwisbare vrot kolle - ook verskeie elemente
in die verlede was waarop hedendaagse Afrikaners, met inbegrip van die jong
geslag, trots kan wees.
Een baie belangrike element is die feit dat die huidige Afrikaners se
voorouers die eerste anti-koloniale vryheidsvegters in Afrika was.
Die Anglo-Boereoorlog was 'n legitieme vryheidstryd teen 'n verdrukkende,
imperialistiese moondheid. Wat in die teenswoordige tyd met sy
skuldgevoelens oor apartheid natuurlik veral belangrik is, is dat dit die
stryd van goed teen kwaad was, al was die goeie ouens verreweg nie
vlekkeloos nie en die slegtes ook nie sonder goeie hoedanighede nie.
Dit word trouens bewys deur die feit dat mense soos pres. Paul Kruger en
Christiaan de Wet ook vir belangrike individue in die ANC 'n inspirasie was.
In sy outobiografie vertel oudpres. Nelson Mandela heel openlik daarvan.
Nog 'n saak waarop Afrikaners met reg trots kan wees, is die wyse waarop
hulle teen die bittere armoede van die eerste dekades van die 20ste eeu
geveg het. Dis 'n armoede wat eintlik al in die laaste dekades van die 19de
eeu begin het, maar wat teen die jare dertig 'n klimaks bereik het.
Dit was 'n tyd dat Afrikaners saamgestaan het - nie noodwendig politiek nie,
maar hulle het na mekaar omgesien. Afrikanermaatskappye soos Volkskas,
Sanlam en die Nasionale Pers (laasgenoemde het in 'n stadium selfs alle
salarisse laat sak, eerder as om mense af te dank!) het 'n groot gevoel van
maatskaplike verantwoordelikheid teenoor mede-Afrikaners aan die dag gelê.
Onder meer daardeur, deur harde en inisiatief-ryke werk 'n deur die staat as
werkgewer in te span het die Afrikaners mettertyd dié probleem oorwin.
Toegegee, daardie maatskaplike solidariteit het nie eintlik buite die grense
van die volk gestrek nie, en dit was baie paternalisties. Maar daar was
nietemin 'n egte betrokkenheid by die hulpeloosheid van arm Afrikaners wat,
soms weens omstandighede buite hul beheer, nie vir hulself kón sorg nie.
Dít kan ook vir die huidige Afrikaner-jappies, wat net in blink motors en
steeds groter winste belang stel, 'n inspirasiebron wees.
Ten derde kan Afrikaners trots wees op die wyse waarop hul voorouers in die
ontwikkeling van Afrikaans belê het. Om die waarheid te sê, die momentum uit
die ou bedeling wat Afrikaans steeds dra, was regstreeks aan dié belegging
te danke.
Afrikaans was, saam met moderne Hebreeus, Hindi en Maleis-Indonesies, die
enigste taal wat homself in die 20ste eeu van "kombuistaal" tot hoogstaande
wetenskaplike en letterkundige taal opgewerk het.
Dit het nie vanself gebeur nie. Dit het 'n klipharde stryd gekos.
Daarom maak dit 'n mens so hartseer dat sommige Afrikaners deesdae so
minagtend is teenoor dié wat bekommerd is oor die huidige agteruitgang van
Afrikaans as openbare, handels- en wetenskaplike taal.
Maar al is daar ook baie in die verlede om op trots te wees - en baie om oor
skaam te wees - kan die verlede nie dien as rigiede rigsnoer nie, slegs as
inspirasiebron. Die Afrikaners moet nou vorentoe kyk.
Dit beteken dat hulle voluit deel van die nuwe Suid-Afrika moet wees en
vrede moet maak met sowel die swart meerderheid as hul bruin taalgenote.
Hulle kan nie 'n gevangene van die verlede bly nie.
|
|
|
Re: Die skaam trotse Afrikaner [boodskap #77013 is 'n antwoord op boodskap #77002] |
Vr, 02 Mei 2003 13:09 |
|
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com
Annette wrote:
> Dit word trouens bewys deur die feit dat mense soos pres. Paul Kruger en
> Christiaan de Wet ook vir belangrike individue in die ANC 'n inspirasie was.
> In sy outobiografie vertel oudpres. Nelson Mandela heel openlik daarvan.
Ja, Mandela het gereeld Afrikaanse boeke
uit die biblioteke laat kom Ek dink hy het
heelwaarskynlik 'n taamlike goeie kennis
gehad van die Afrikaanse letterkunde.
Gloudina
|
|
|