Mediese navorsing in trurat [boodskap #55514] |
Wo, 16 Januarie 2002 03:49 |
david
Boodskappe: 35 Geregistreer: Oktober 2001
Karma: 0
|
Volle Lid |
|
|
Die gehalte van sy mediese navorsing is een van die maatstawwe waaraan 'n
land se graad van ontwikkeling gemeet word. Suid-Afrika het 'n lofwaardige
geskiedenis van hoëvlak-kundigheid en wetenskaplike prestasie op die gebied
van geneeskunde.
Ons was die Verenigde State inderdaad voor met die ontwikkeling van 'n
veilige entstof teen polio. Die eerste hartoorplanting op 3 Desember 1967
deur dr Chris Barnard was 'n epogmakende gebeurtenis in die geskiedenis van
die geneeskunde. Dit het nie net baie lyding verlig nie, maar nuwe deure in
die ontwikkeling van oorplantingtegnologie oopgemaak.
In 1987 het Suid-Afrika die twaalfde plek ten opsigte van mediese
navorsingsuitsette wêreldwyd beklee.
Vandag lewer die land min of geen bydrae op die gebied van mediese
navorsing. Prof. Anton van Niekerk, direkteur van Etiek aan die Universiteit
van Stellenbosch, stel dit op bedeesde wyse dat daardie tradisie tans onder
sterk druk is. In 'n artikel in Aambeeld, meningsblad van die Randse
Afrikaanse Universiteit, wys hy daarop dat fondse vir navorsing oor die
algemeen sedert 1994 drasties besnoei word.
Nog 'n belangrike rede vir die afname in tegnologies gesofistikeerde mediese
navorsing in Suid-Afrika is volgens prof Van Niekerk die toestande in die
openbare hospitale waartoe ook die tersiêre inrigtings behoort en waar die
navorsing wat mediese skole doen, steeds plaasvind.
Die geriewe by openbare hospitale het sedert 1994 drasties agteruitgegaan en
gruwelverhale word daagliks vertel oor die toestande daar. Op die koop toe
word al meer hospitale feitlik vol beset deur vigs-pasiënte.
Mediese skole ondervind die afgelope jare 'n volgehoue dreinering van
personeel na die private sektor of na die buiteland.
Van owerheidsweë word aangevoer dat primêre gesondheidsorg voorkeur moet
geniet. Uit ondersoeke blyk dit egter dat die situasie by klinieke, veral
die platteland waar dit die massa agtergeblewenes moet bedien, meesal ook
maar haglik is.
Mediese navorsing verskuif al meer na die private sektor waar die
belangrikste oogmerk finansiële wins is en die etiek van gemeenskapsbehoefte
nie so 'n sterk faktor is nie.
Op die koop toe is die owerheid antagonisties gesind jeens die groot
farmaseutiese maatskappye, selfs waar laasgenoemde wil saamwerk. Talle van
hierdie maatskappye beweer dat hulle in alle geval bereid is om middels
verniet of teen erg verlaagde pryse in 'n land soos Suid-Afrika beskikbaar
te stel, maar dat hulle nie die samewerking van die regering daartoe kry
nie.
Daar is hier en daar Boere-Afrikanergemeenskappe wat al sover gekom het om
eie klinieke op te rig en self verantwoordelikheid vir gesondheidsorg te
neem. Hulle is egter min en die omvang van Afrikanergeborgde
gesondheidsdienste klein.
Die situasie met mediese navorsing benadruk die noodsaaklikheid van 'n eie
Boere-Afrikaneruniversiteit met die nodige mediese navorsingsgeriewe,
hospitaal inkluis. Daarvoor is geld nodig want die owerhede is nie so 'n
inrigting of navorsing goedgesind nie. Daardie geld sal uit die
Afrikaner-private sektor moet kom. En daar sal genoeg oortuiging en moed
wees om probleme soos wetlike beperkinge te bowe te kom.
|
|
|