Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Zimbabwe: Suid-Afrika se regering steun Mugabe se vernietigende beleidsrigtings
Zimbabwe: Suid-Afrika se regering steun Mugabe se vernietigende beleidsrigtings [boodskap #54995] |
Fri, 28 December 2001 03:37 |
david
Boodskappe: 35 Geregistreer: October 2001
Karma: 0
|
Volle Lid |
|
|
Zimbabwe: Suid-Afrika se regering steun Mugabe se vernietigende
beleidsrigtings
In...@groep63.org.za
Niks het Suider-Afrika die afgelope jare soveel skade berokken as pres.
Robert Mugabe se skending van die demokrasie in Zimbabwe en die steun van
die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) vir hierdie noodlottige
beleidsrigtings nie.
Wat die situasie vererger, is Suid-Afrika se steun aan pres. Mugabe. Die
Suid-Afrikaanse regering het byvoorbeeld op 11 Desember 2001 as lid van 'n
afvaardiging van ministers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap
(SAOG) sy volmondige steun aan pres. Mugabe toegesê.
Daarmee is die ideaal van 'n Afrika-Renaissance en die ekonomiese opbou van
Suider-Afrika waarskynlik die ergste terugslag in jare toegedien. Die
Suid-Afrikaanse rand het onder andere as gevolg hiervan in wat genoem word
in 'n "vryval" gegaan met verreikende ekonomiese gevolge vir alle
Suid-Afrikaners. Op een stadium het dit 40% van sy waarde sedert die begin
van die jaar verloor.
Met sy optrede van 11 Desember en in die weke daarna het die Suid-Afrikaanse
regering vir die eerste keer amptelik en openlik sy gewig op hierdie hoë
vlak by die despotiese pres. Mugabe ingegooi wat elke denkbare beginsel van
die demokrasie in sy land ondermyn het en nou besig is om 'n eens florerende
ekonomie ten gronde te rig.
Veral fataal was die Suid-Afrikaanse regering se instemming met pres. Mugabe
se wanvertolking dat die Zimbabwiese kwessie oor grond gaan - terwyl dit
duidelik is dat grond bloot misbruik word as instrument vir sy
herverkiesingsveldtog.
Suid-Afrika se steun aan Zimbabwe is daarna bevestig met 'n besoek van die
ANC aan Zanu-PF en 'n verklaring deur die ANC wat ontken het dat daar enige
verdeeldheid tussen hulle bestaan. "Pres. Mbeki is 'n vriend van pres.
Mugabe en sal dit bly," het die ANC gesê.
Veral belangrik is dat die SA Regering hiermee volledig bevestig het dat die
Groep van 63 gelyk gehad het toe hy op 5 Mei vanjaar in 'n omvattende
strandpuntinname verklaar het:
"Die Suid-Afrikaanse regering verleen, volgens alle aanduidings, steun aan
die regering van Zimbabwe, en oefen geen 'stille diplomasie' uit om die
bewind van pres. Robert Mugabe tot ander insigte te bring nie."
Die Groep was vir 'n baie lang tyd die enigste wat die oënskynlik weifelende
en lukrake optrede van pres. Thabo Mbeki korrek vertolk het as steun aan die
Zimbabwiese regering.
In teenstelling hiermee het 'n groot groep Suid-Afrikaanse waarnemers
volgehou dat pres. Mbeki met sogenaamde "stille diplomasie" probeer om pres.
Mugabe tot ander insigte te bring. Selfs die Minister van Justisie, dr.
Penuell Maduna, se uitlating op 7 Maart vanjaar dat Zimbabwe die oppergesag
van die reg in ere hou - wat heeltemal onwaar was - het hulle nie van
standpunt laat verander nie.
Om verstaanbare redes wil veral 'n minderheid soos die Afrikaners maar graag
glo dat pres. Mbeki gekant is teen pres. Mugabe se beleid.
Na die jongste gebeure kan die Groep van 63 se vertolking egter nie meer
weerlê word nie. Die ondertekening deur die Suid-Afrikaanse lid van die
SAOG-afvaardiging, mnr. Membathisi Mdladlana, van 'n SAOG-verklaring van
vier bladsye waarin al die versekeringe van die Zimbabwiese regering sonder
meer aanvaar is, is die verdoemendste getuienis tot dusver en geheel en al
oortuigend.
In die verklaring word geen kritiek teen die Mugabe-regime uitgespreek nie,
maar eerder "besorgdheid" oor die "verwronge" en "negatiewe" persepsies wat
deur die internasionale en streeksmesia uitgedra word" - 'n dag voordat die
Zimbabwiese opposisieleier, mnr. Morgan Tsvangirai, deur pres. Mugabe se
polisie gearresteer is op 'n klaarblyklik kunsmatige klag.
As vernaamste streeksmoondheid het Suid-Afrika met sy steun sodoende
meegehelp om die Abuja-ooreenkoms van 6 September, waarvolgens die
Zimbabwiese regering wet en orde moet herstel en die demokrasie moet
handhaaf, verder te ondermyn.
Die SAOG-verklaring en die ANC se besoek aan Zanu-PF is opgevolg met 'n
waarskuwing deur die Statebond dat dit sal oorweeg om Zimbabwe te skors as
gewelddadige plaasbesettings en politieke viktimisasie nie gestop word nie.
Hierdie verklaring toon maar net weer hoe uit pas Suid-Afrika is met die
siening van die Statebond, waarvan hy 'n lid is.
In plaas daarvan om die stem van rede en 'n baken vir die demokrasie in die
streek te wees, het die Suid-Afrikaanse regering hom gevoeg by diegene wat
met hulle optrede besig is om die demokrasie en alle vooruitsigte van
ekonomiese herstel te vernietig.
Hiervoor gaan alle Suid-Afrikaners, maar veral die armes, in die volgende
maande 'n duur prys betaal.
Soos tydens die apartheidsjare, het Suid-Afrika met sy houding standpunt
ingeneem teen die fatsoenlike demokratiese internasionale mening. Die
volgende instellings het byvoorbeeld die Mugabe-regime oor die afgelope
maande veroordeel:
Die VN se kommissaris vir menseregte, mev. Mary Robinson
die Internasionale Balieraad
die Statebond
die Internasionale Kommissie vir Juriste (ICJ)
die president van Suid-Afrika se Konstitusionele Hof en die waarnemende
Hoofregter van Suid-Afrika
die Zimbabwiese Balieraad
die Zimbabwiese Prokureursorde
die Amerikaanse Kongres
die Europese Unie
'n groot aantal menseregtegroepe soos Amnesty International, Human Rights
Watch en soortgelyke organisasies binne Zimbabwe en
die International Crises Group.
Veral insiggewend is dat die Amerikaanse president, pres. George W. Bush, op
Vrydag, 21 Desember 2001 die Zimbabwe Democracy and Economy Recovery Bill
onderteken en dit gevolglik 'n Amerikaanse wet gemaak het. In die betrokke
wet word voorsiening gemaak vir sanksies teen Zimbabwiese leiers.
In die SAOG-verklaring het Suid-Afrika egter die betrokke strafmaatreël
gekritiseer!
Die Europese Unie is ook in 'n gevorderde stadium om sanksies teen Zimbabwe
in te stel. 'n Vergadering tussen die EU en die Zimbabwiese regering word
binnekort in Brussel, België, gehou volgens 'n EU-meganisme wat voorsiening
vir laaste gesprekke maak voordat sanksies ingestel word.
Die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank, asook etlike
individuele Europese regerings, het reeds opgehou om Zimbabwe geldelik te
help.
Intussen weier die Mugabe-regering om internasionale waarnemers vir Maart se
presidentsverkiesing toe te laat in stryd met etlike verklarings van die
Statebond en EU wat pres. Mugabe reeds onderteken het.
Terwyl 'n Amerikaanse hof reeds beslis het dat pres. Mugabe se Zanu-PF
verantwoordelik was vir intimidasie en geweld tydens verlede jaar se
parlementêre verkiesing, het menseregte-organisasies soos Human Rigts Watch
duidelik gesê dat die Zimbabwiese regering menseregte skend. Oorgenoeg
getuienis bestaan dat die vlak van geweld, wat politieke moorde,
viktimisasie en geweld insluit, geensins afneem nie.
Die gesaghebbende International Crisis Group (ICG) wat onder leiding van 'n
gewese president van Finland, mnr. Martthi Ahtisaari, staan, het onlangs, na
'n ter plaatse ondersoek, 'n lywige verslag vrygestel waarin hy verklaar het
dat Zimbabwe hom in 'n "baie ernstige krisis" bevind en dat die staat aan
die leiding van die geweld in die land staan.
Die ICG het aanbeveel dat die internasionale gemeenskap sanksies teen
Zimbabwe instel as pres. Mugabe nie tot besinning kom nie.
Suid-Afrika se steun as SAOG-lid aan Zimbabwe het feitlik volledig saamgeval
met 'n uitspraak deur die Amerikaanse onderminister van buitelandse sake,
mnr. Walter Kansteiner, vroeg in Desember in Pretoria dat Amerikaanse
kongres, pres. Thabo Mbeki (sic!), die Europese Unie en die Statebond dit
eens is dat die situasie in Zimbabwe nie goed verloop nie, dat dit nie in
die regte rigting beweeg nie en dat die internasionale gemeenskap en die
streekbure beswaar moet maak.
Intimidasie, regeringsgesteunde geweld en 'n verbod op buitelandse
joernaliste in die land is deel van 'n patroon wat aandui dat ons nié te
doen het met 'n deursigtige, oop proses nie, het hy gesê.
Kort nadat Suid-Afrika as SAOG-lid sy steun aan Zimbabwe se regering
uitgespreek het en voordat die ANC se afvaardiging Harare besoek het, het
Zimbabwe se inflasiekoers tot hoër as 100% gestyg. Pres. Mbeki en die
Suid-Afrikaanse Regering het egter verkies om hieroor te swyg.
Pres. Mbeki het tot op hede elke denkbare geleentheid verspeel om die skade
wat sy Zimbabwiese ampsgenoot die sub-kontinent berokken, te versag of teen
te werk. In plaas daarvan het sy onbeholpe beleidsrigtings die ontwrigtende
en vernietigende gevolge van die beleid vir Suid-Afrika eerder verhoog.
Dit was nog altyd die Groep van 63 se standpunt dat die Zimbabwiese situasie
relevant vir die Afrikaanse minderheid is omdat minderheidsbelange daar
wesenlik ter sprake is. Pres. Thabo Mbeki se optrede sou beslis as
belangrike toets dien om sy houding oor minderhede te probeer peil.
Die Afrikaanse minderheid behoort tot aansienlike ongerustheid gestem te
word as hy waarneem hoe Suid-Afrika se staatshoof 'n beleid van intimidasie
en vervolging teen 'n magtelose klein minderheid in 'n buurland goedkeur.
Nie net gee Suid-Afrika sy steun aan die manipulering van die regbank en die
skending van die oppergesag van die reg nie, maar ook aan die aanhoudende en
stelselmatige rassistiese viktimisering van 'n lojale, maar magtelose klein
minderheid.
Vir die Suid-Afrikaanse Regering is sy standpunt so belangrik dat hy bereid
is om die internasionale mening teen te gaan en oor 'n lang tydperk self 'n
ekonomiese offer te bring met die verlaging in die waarde van sy
geldeenheid.
Dit beloof nie goed vir die toekoms nie.
Werkkomitee van die Groep van 63
Pretoria, 26 Desember 2001.
Navrae: Koos Malan 082 3722 045
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: Sun Dec 01 01:19:20 UTC 2024
|