Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » " 'n Nuwe Vers uit Jesaja" deur ELMARIE OTTO
" 'n Nuwe Vers uit Jesaja" deur ELMARIE OTTO [boodskap #53215] Sa, 10 November 2001 18:29
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @home.com

'n Nuwe Vers uit Jesaja
Elmarie Otto

Op sewentien skryf ek vir my matriekkêrel:

'Ek wil by jou voete lê
om 'n Rut te wees vir jou
as jy ween by alleen Maras
of worstel by 'n Jabbok
wil ek agter jou loop
om die pyn te gerf soos graan
en uit te wan op die dorsvloer van my vrou-wees
die dorsvloer waarheen jy my gelei het
toe ek die Moab van kindwees
verlaat het om vir altyd
te gaan waar jy mag gaan'

nou freak dit my uit
hierdie metaforiese oorgawe en uitgewande gedienstigheid
vele jare en 'n huwelik later
het dié pad my reguit in my moer in
die hel in ook dat ek kon dink
die sekerheid van algebra
vrouwees = ek sal gaan waar jy mag gaan
plus (+) 'n pakhuis vol graan
sal my van 'n hongersnood red

toe die droogte kom
en daar nie meel in die erdekan
of olie in die kruik meer was
het ek uitgegaan om buite die stadsmuur te sterf
'n uitgedorde karkas langs die hoofpad
van binne deur maaiers verteer
'n blinkgevrete songebakte skelet
met los beentjies wat klingel in die wind
plek-plek tot kalk verpoeier waar roofdiere snags
aan bekken en borsbeen kom aas

toe eers het die ou vrou
wat aan die kant van die aardbol woon
gekom die beendere bymekaargemaak
en in die lig van die vuur haar doepa gemeng:
fynbos se kruie boegoe en mebos
papawersaad en rosyne vir al die krismiskoeke
wat ek oor die jare uit die oond moes lig
sy't woorde bygegooi
klontjies eensaamheid rond en glad soos neute
'n knypie snuif van die swart hond op my spoor
koppie vir koppie voeg sy by
verlore menstruele bloed baarmoederwande
moedersmelk estrogeen progestoroon
die sweet van my aanskyn
en al die wensbeentjies wat oor eettafels uitmekaar gebreek is

op 'n mandala se slimste patroon
pak sy die bene op die sand
en die heel tyd sing sy
Soos 'n hert in dorre streke
Kent gij dat volk en Parigi o Cara
sy sing soos Sibongile Khumalo soos
Vusi Mahlasela soos Grace Bumbry
wyl sy dansend die wêreld se alleen
vroue aan haar wye boesem wieg

so begin die stram bene
spartel soos karp op droë oewers
inmekaar kliek met spier en neuronetwerke
tot dit pasklaar is vir die skulplyf
van 'n vrou-mens wat oor die mandala
en oor die as nuwe mantras maak:

as jy kom sal ek nie bang wees vir verskrikking
sal ek sterk wees soos die vlerke
van voëls wat migreer en ons sal vlieg
oor die deurweekte aarde oor torings van robyne
huise met fondamente van saffiersteen
ons sal koop - wyn en melk en in die plek
van doringbos sal sipresse opskiet
as jy kom sal ek sterk wees soos 'n mantra
soos 'n nuwe vers en ons sal vlieg
Vorige onderwerp: Die pompdonkie en die villanelle
Volgende onderwerp: Dit was in 'n saaltjie in Joburg
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Nov 24 17:36:42 MGT 2024