"Trans-vaal" deur PETRA MULLER [boodskap #50327] |
Di, 18 September 2001 20:20 |
|
Oorspronklik gepos deur: @home.com
TRANS-VAAL
Petra Muller
In die land van die kosmosvelde
is dit tans
met pienk en wit blomme uit sjina
en met ekstatiese skoenlappers
somer
In daardie land se hemel
is daar omgekeerde
aarde.
Storms sak bestraffend
vyfuur in die middag,
swaarweer van 'n moeder
op die kinders uit.
In daardie land van geel gras en van lou reëns
is my vriende tans leeus.
In hulle oë is 'n veldbrand aan die groei.
Die reënvoëls styg loodreg as hulle aankom;
hulle verbaster en word bruin en roep na Afrika
en sy kom na hulle aangeloop soos 'n gewapende man.
Die mooi seuns met die blou-blou oë wat ek byna ken,
het tans hul meesterlike speelgoed in die hand.
Daar slaap die groot masjiene met die een oog oop
(blits kom tweebeen aangestap) en die ander oog,
die karbied-oog van die jagter
soek dorstig na sy prooi.
Ek ken die land. Daar is ek 'n vreemdeling
met blou en wit gekleurde fabels in my hand -
n delfse dogtertjie wat kwyn.
O Afrika
hoe maklik is die klanke van jou naam nie,
Afrika, en
onuitspreeklik om te sê.
|
|
|