Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » COPLA in Afrikaans
COPLA in Afrikaans [boodskap #30303] Di, 02 Mei 2000 00:00
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @home.com

“Die sakdoek het 'n punt,
ja, die sakdoek het 'n punt,
die boerklong se baadjie.
staan so styf in die wind.”

‘n Mens hoor baie hierdie soort tradisionele
volksliedjies in Afrikaans. Randall Wicomb
sing hulle met liefdevolle aandag. In J.C. Steyn
se biografie van N.P. van Wyk Louw word
daar oor hierdie soort liedjies geskryf.

“Louw het begin om onder hul vriende die ou
soort poësie van die dansliedjies te prys. Daar
het 'n mode onder hulle ontstaan om self versies
met dieselfde struktuur te maak….vier kort reëls
waarvan die tweede telkens met 'n “o” begin en
dan verder 'n herhaling van die eerste een is. Hulle
het, deur self sulke verse te maak…die “wette”
van die soort ontdek: die derde en die vierde reëls
mag geen logiese, duidelike verband met reëls een
en twee hê nie. Wanneer daar wel so 'n verband te
sien is, was die geheel te berekenend en het die
spontaneïteit ontbreek…..

In een van sy werkboeke gebruik Louw die Spaanse
term COPLA vir hierdie soort vierreëlige gediggie
wat uit een strofe bestaan en gewoonlik gesing word.
Die Spaanse coplas word uit folkloristiese oogpunt
as belangwekkend beskou, omdat die denke van die
Spaanse volk vir 'n groot deel daarin neerslag gevind
het.”

In Steyn se biografie noem hy verskillende coplas
wat deur NP persoonlik opgeteken is. Soos byvoorbeeld

“die kelkie sonder voet,
o, die kelkie sonder voet,
‘n glimlag op my lippe
maar verdriet in my gemoed.”

Mens kom hierdie coplas telkens teen in die
sang van Randall Wicomb. Hy sing hulle
gewoonlik met 'n besadigde en amper elegiese
toon. Hier volg nog 'n paar wat hy sing.

“Die botteltjie Terleton.
o, die botteltjie Terleton,
vanmore lê klein Miena
met haar voete in die son.”

“Die breedte van die slang,
o, die breedte van die slang,
as ek aan my bokkie dink
rol die trane oor my wang.”

“Die lampie brand so klein,
o, die lampie brand so klein,
maak maar oop die venster
dat die maanlig oor my skyn.”

Wie ken nog ander Afrikaanse coplas?

Gloudina Bouwer
Vorige onderwerp: dasy ?
Volgende onderwerp: Re: Pietman en Liefie
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Sep 28 12:17:59 MGT 2024