Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » VLIEGENDE PIERINGS, MARSMANNETJIES EN SULKE SNOTSTORIES
VLIEGENDE PIERINGS, MARSMANNETJIES EN SULKE SNOTSTORIES [boodskap #9893] Vr, 04 Julie 1997 00:00 na volgende boodskap
gal...  is tans af-lyn  gal...
Boodskappe: 191
Geregistreer: Mei 1996
Karma: 0
Senior Lid
Nou weet die mense wat so gewonder het hoekom die VSA se
weermag die gevalle van "vliegende pierings" geheim gehou het.

Hulle het uiteindelik met 'n amptelike verslag gekom: dit was al
die tyd toetsvliegtuie, dummy vliegeniers ens. Ja, die waarheid is
uiteindelik uit:
Jammer mense, daai vliegende pierings en vaal mannetjies met
peervormige koppe en groot oe was toe al die tyd 'n snotstorie !
En daai mense wat kamma seks gehad het met buite-ruimtelike wesens
moet miskien liewer 'n terapeut gaan sien.

Dink net hoe lekker geld het baie mense hieruit gemaak. Die dorpie
waar die VSA/weermag/piering-geval begin het, is nou 'n moerse
toeriste-attraksie. (Ja, hul verkoop poppe met peervormige koppe
en groot groen oe! ens ens.).

Maar party piering-geesdriftiges wil nie die waarheid hoor nie.
Hulle laat my dink aan die mense wat glo Elvis Presley, Hitler en
daai ouens leef nog. Elke jaar word hulle iewers "gesien".

Vir die wat nie weet nie: Daai ding oor die plat merke in die
koringlande het ook al lankal op die lappe gekom. Dit was ouens
wat die gek geskeer het. Daar was 'n hofsaak daaroor.

Daar is nogal baie poepholle, maljanne en geldmakers agter stories
soos oor die aarde plat, en nie rond is nie, of 'n wilde teorie
oor die piramides, Stonehedge ens.
Ons leef mos nou in die eeu van X-files.
Mense hou van sulke snaakse goeters. Interessante stories.

Net jammer dat baie mense nie die onderskeid kan maak tussen
'n regte snotstorie en iets wat wetenskaplik gegrond is nie.
Ek is mal oor wetenskap fiksie, en wie weet, miskien
is daar iets wat leef of beef (of groei of knoei)
wat die skepper op 'n ander plek gemaak en laat staan het,
maar intussen bly ek skepties.
Ek het nog nie die brandmerke van 'n VVV in my tuin gesien nie...
..maar ek wag in spanning.

Vriendelike groete!
|
| ___/////
| / \ /|
| / O \ \/ |
J > / /\ |
\_________/ \|
\\\
Re: VLIEGENDE PIERINGS, MARSMANNETJIES EN SULKE SNOTSTORIES [boodskap #9894 is 'n antwoord op boodskap #9893] Vr, 04 Julie 1997 00:00 Na vorige boodskapna volgende boodskap
Leendert van Oostrum  is tans af-lyn  Leendert van Oostrum
Boodskappe: 1880
Geregistreer: Julie 2000
Karma: 0
Senior Lid
gal...@ibm.net wrote in article ...

> Maar party piering-geesdriftiges wil nie die waarheid hoor nie.
> Hulle laat my dink aan die mense wat glo Elvis Presley, Hitler en
> daai ouens leef nog. Elke jaar word hulle iewers "gesien".
>
> Vir die wat nie weet nie: Daai ding oor die plat merke in die
> koringlande het ook al lankal op die lappe gekom. Dit was ouens
> wat die gek geskeer het. Daar was 'n hofsaak daaroor.
>
> Daar is nogal baie poepholle, maljanne en geldmakers agter stories
> soos oor die aarde plat, en nie rond is nie, of 'n wilde teorie
> oor die piramides, Stonehedge ens.
> Ons leef mos nou in die eeu van X-files.
> Mense hou van sulke snaakse goeters. Interessante stories.
>
> Net jammer dat baie mense nie die onderskeid kan maak tussen
> 'n regte snotstorie en iets wat wetenskaplik gegrond is nie.
> Ek is mal oor wetenskap fiksie, en wie weet, miskien
> is daar iets wat leef of beef (of groei of knoei)
> wat die skepper op 'n ander plek gemaak en laat staan het,
> maar intussen bly ek skepties.
> Ek het nog nie die brandmerke van 'n VVV in my tuin gesien nie...
> ..maar ek wag in spanning.

Ek het vanmiddag die brandmerke van die Waarheids- en Versoeningskommissie
in my kantoor gesien.

Stewige jong man met 'n Nguni-voorkoms kom hier in en vra vir my by naam -
iemand het hom verwys, want hy het gevra hy soek 'n "christen".

Sit, en vertel sy storie. Effense Amerikaanse aksent, uitstekende
taalgebruik en gesofistikeerde woordeskat. Een uur lank.

Op elfjarige ouderdom in 1976 uit Langa nadat sy pa en broer deur die
veiligheidspolisie gemartel en voor sy oë doodgeskiet is (alles in
grieselige detail). Botswana toe geneem deur mense by wie hy gaan hulp soek
het. Rusland toe vir militêre opleiding. Militêre opleiding gestaak na
inmenging van die VN op grond van sy jeug. Zambië toe na 'n Katolieke
skool, koste van die ANC (Nie na die Solomon Mhlangu College nie, maar ons
het nie by die rede uitgekom nie). Drie onderskeidings vir matriek.

Harvard toe met een beurs van die VN en een van Danish childrens aid. BA en
regsgraad. Bekeer terwyl hy daar was. Angola toe om administratiewe dienste
in die ANC-kampe te verrig. Sy gewete bring hom in stryd met sommige dinge
wat daar gebeur. Iemand wat gestuur is om hom dood te maak (met 'n 350 kg
"Limpet mine"!!!) waarsku hom en hy vlug na SA - dis nou 1993.

Hy word gehuisves in 'n woonstel vir expats in Wynberg. Die ANC wil hê hy
moet terug Angola toe om die "sake daar op te ruim". Omdat hy onwettig in
die land is, verraai iemand hom, en die veiligheidspolisie omsingel die
gebou. Hy word gevang en gemartel (grieselige detail - die soort waaroor
die radio-omroepers berig met 'n snik in die stem na 'n baie goeie middag
voor die WVK). 'n Jaar lank in detensie.

Hy kry nie werk nie, want sy regskwalifikasies is nie geldig in SA nie en
die groot firmas wat sy kundigheid kan gebruik is almal ingekruip by die
ANC.

Hy spoor die huis op waar hy sy weduweemoeder agtergelaat het toe hy gevlug
het. 'n Oom van hom woon daar en vertel dat sy ma na drie jaar se gereelde
besoeke deur die veiligheidspolisie eendag dood gevind is aan inwendige
beserings. Die bure het die huis oopgebreek toe hulle die reuk begin kry.
(_Egte_ trane in groot hoeveelhede).

Die oom dra die huis aan hom oor en sy vrou ('n Afro-american) en
dogtertjie (6) kom woon by hom. Hy kry steeds nie werk nie en die "grant"
wat hy as expat van die AN gekry het word gestaak. Sy laaste geld gebruik
hy om die afhanklikes terug te stuur na skoonma in Amerika. Hy kan nie die
huis afbetaal nie, waaraan sy ouers hul lewe lank betaal het. 'n Buurman
gee hom kos, in ruil vir werk in sy tuin.

Weens die Masakane-veltog gaan hulle sy huis onteien as hy nie begin betaal
nie. Uiteindelik bied 'n "indiër"-prokureur hom geleentheid om by hom te
artikel. Die prokureur gaan egter eers weg op pelgrimstog na Mecca, en is
nie daar nie. Hy kort dringend R290 vir die huis, anders trek die council
die streep.

Die ANC se hoofkwartier in Kaapstad kan wil nie help nie. Maar as hy Shell
House toe kom, sal hulle hom daar help - daar is 'n LP op pad van Kaapstad
na Johannesburg, en hy kan saamry. By Shell House eis hulle weer dat hy die
werk in Angola moet gaan klaarmaak - hulle kan hom goed gebruik - hy kan
selfs 'n minister van jusitisie word. Sy christelike oortuigings verhoed
hom. Hy word uitgeskop op straat nadat hy 'n lesing kry oor hoe sy
christelike oortuigings hom duur te staan sal kom.

Hy het net genoeg geld om in Pretoria te kom - 'n plek waar hy nog nooit
was nie, en waarvoor hy bang is weens die hardvogtige reputasie daarvan.
Maar 'n medestudent van hom by Harvard, 'n Afrikanerseun wat diensplig
ontduik het, woon nou in Brooklyn. Sy nommer is nie gelys nie, want hy werk
vir "die ANC" se intelligensie-afdeling. Hy het die Afrikaner in Amerika
met $4000 gehelp. Net die tuinman is daar, nee die kontak en sy vrou is vir
twee weke in Swede. Nou moet hy voor sesuur in JHB kom (R12-50) om 'n
deurnagtaxi na Kaapstad te kry (R195). Daar moet hy voor twaalfuur die
huispaaiement vir twee maande betaal (R290) - weens Masakane is die kantoor
ook Saterdagoggend oop. Maandag is die prokureur terug van sy Hadj en dan
kan hy begin werk as artikelklerk.

By 'n parkeeterrein klim 'n dame in 'n rooi motor met "Jesus loves you" of
die buffer. Hy nader haar en sê hy soek dringend 'n christen om meet te
praat. Sy het nie tyd nie, maar verwys hom na my - naam en kantoornommer.

Alles in veel groter detail - soos 'n private vertoning van 'n WVK-verhoor
(die vertel het 'n uur geneem).

Nee, ek het nie soveel geld nie, maar ek sal bietjie rondbel. Nee, dis reg.
Ek moet net nie iets van sy storie oordra nie, ek moet net sê dat 'n vriend
van my geld nodig het.

Ek bel 'n bejaarde vriendin met 'n oop hart en 'n skerp kop (rare
kombinasie). Bespreek die saak van die "sensitiewe saak". Die "sensitiewe
saak" vra om met haar te praat (welsprekend, maar gee geen detail nie). Ek
neem weer die foon oor, en die tannie sê sy ken die stem. Ongeveer 'n jaar
gelede was daar iemand by haar wat as elfjarige uit Langa moes vlug na die
buiteland - regsopleiding - Shell House- ens. Haar man, 'n baie suksesvolle
ge-oktrooieerde rekenmeester het die man tot by die taxistaanplek in JHB
geneem en vierhonderd Rand oorhandig. Toe hy terugkom, sê hy vir haar sy
moet nie verwag om die geld weer te sien nie - hulle het ook nie.

In elk geval, ek het toe maar vir "Joseph" gesê dat die dame my vertel het
dat sy 'n jaar tevore dieselfde storie gehoor het, en dat ek hom nie kon
help nie. Na twee ure is hy toe hier weg.

Net daarna vertel ek die storie vir 'n kollega verder in die gang af. Nee,
sê hy. Dit was nie 'n meisie in 'n rooi Volksie wat vir hom my naam en
kantoornommer gegee het nie. Die man het hom by die hysbak gekry en gevra
hy soek 'n "christen".

Drie opmerkings:

Die gehalte van die vertoning was so goed, as ek R500 gehad het, sou ek dit
met graagte betaal het. Ek weet van groot Afrikaanse dagblaaie sou dit op
die voorblad gehad het as dit nie so gereeld in die WVK gehoor word nie.

Ek wonder hoeveel mense in die Brooklyn/Hatfield/Lynnwood-omgewing het al
op 'n Vrydagmiddag R500 uitgehaal vir die vertoning.

Nou is die WVK vir my vir ewig gespoil. Net soos die marsmannetjies.

Groete, Leendert
Re: VLIEGENDE PIERINGS, MARSMANNETJIES EN SULKE SNOTSTORIES [boodskap #9902 is 'n antwoord op boodskap #9893] Sa, 05 Julie 1997 00:00 Na vorige boodskap
Vyg  is tans af-lyn  Vyg
Boodskappe: 40
Geregistreer: Augustus 1996
Karma: 0
Volle Lid
ha ha ha,

aai maar die mens wil so graag weet of hul
alleen is in die heelal ?

dis seker hoekom hulle in sekere sprokies
glo.

;-0,

ek het te vinnig gepraat ek het nou net 'n
vvv gesien !

dammit, dit was 'n neon seevoël !!

ek wonder wie die arme ding geverfspuit het ?
...nou weet ek, Bill Gates !

hy soek net rede om nog vensters te verkoop.
--regte skelm verkoopsman ,, goebaai

groete,
'n effe * ? !# * ~@% Vyg
Vorige onderwerp: Welkom vir Amerika
Volgende onderwerp: Re: Dimensies, Chaos en nog wat.
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Mei 15 09:35:19 MGT 2024