Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "Ou Non" deur D.J. OPPERMAN
"Ou Non" deur D.J. OPPERMAN [boodskap #8850] Vr, 21 Maart 1997 00:00
Izak Bouwer  is tans af-lyn  Izak Bouwer
Boodskappe: 465
Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
Senior Lid
OU NON
D.J.Opperman

Ek het as meisie kaalvoet in 'n moerbeiboom
van tak tot tak geklim en toe die blare roer
en 'n lemoengeel lig my duiselig binnestroom,
was ek bokant die klein wit dorpie heen vervoer -
die pit binne sy vlam, die slaper in sy droom.

Dikwels as ek my oë sluit, bly U verskyn,
nabeelde van die moerbeiboom se blare,
maar as die fluister en groen flikkering verdwyn
met vloere vee, koors meet, die naald en gare,
ken ek net U afwesigheid, ken ek die pyn.

Hoe kan die pikkewyntjies, die jong bende
ooit verstaan dat hierdie koors wat my deurstu
en duiselig afsluit in die onbekende
vuur van blare en die sluimering in U,
veel meer is as die branding van my lende?

Tussen U besoek en U besoek, 'n wye
land word wyer en alles skerper afgegrens
met windswaels en die wisseling van getye;
en tussen klip en klip, en tussen mens en mens
hoe vreeslik, God, die stiltes en die swye.

O laat ek tak na tak weer styg in so 'n droom
wat kruin in U heelal... Ook die twyfel, Heer, verjaar.
Kom nog eens met U lig, breek nog eens deur my skroom.
Ek is geen meisie meer, herken 'n blaar as blaar,
die flikkering van U ligkolom as moerbeiboom.

(gepos deur gloudina bouwer)
Vorige onderwerp: "Kappertjies" deur Ferdi Greyling
Volgende onderwerp: "Dietrich Bonhoeffer:brief aan homself" deur I. L. DE VILLIERS
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mei 10 19:56:46 MGT 2024