Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Skeepsverslag : Titanic " deur M.M. WALTERS
" Skeepsverslag : Titanic " deur M.M. WALTERS [boodskap #87714] Sa, 29 November 2003 01:27
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
M.M. Walters

Skeepsverslag: Titanic

Hollanders het die skip beplan, maar dit was
Engelse wat gebou en uiteindelik geloods het -
en almal is tog ou kenners van die water.
Nietemin te veel was die geloof en selfversekering
dat niks hom kon laat sink nie:
het die beskermheer van skepe dan nie self
die projek gewil nie, dié invaar in die donker,
dié wit eiland van lig en glansende weerkaatsing .

Agterna gesien, was die toerusting onvoldoende.
Die skokkendste erkentenis: geen verkykers of soekligte.
Maar luukses was volop en uitspattig: marmer-
vuurmaakplekke, dubbele toilette, miniatuurgholfbane,
swembaddens, rye kroeë en hemelbeddens
waarin die rykes kon hoereer, selektief, privaat,
terwyl hul voortvaar na die beloofde land,
hulle skatte veilig in die kluise.

Senders van kleiner skepe het gewaarsku:
julle vaar in 'n gevaarlike seisoen, daar's 'n kilte
in die lug, ysberge in die onbekende water
en vol verandering is die warrelende winde.
Maar die luuksereus was doof, sy antennes
ingestel op uitstraal, nie interpreteer nie.
Bowenal wou sy kaptein hom nie laat steur nie,
nié deur kapteintjies wat nie kaarte ken nie.

Die ysrots was nie sigbaar in die nag nie
en die staal móés skeur toe dit nie meer kon buig nie.
Chaos het geheers in offisierskajuite - reddingsbote
is nie eens almal neergelaat nie,
wanhopige passasiers het in die see gespring
en dié wat nie die moed had of bly hoop het,
het op die agterstewe saam met die orkes
bly sing: Nader my God by U - onverstaanbaar
sê enkele oorlewendes, omdat die woorde in Afrikaans was.
Vorige onderwerp: " Ou Foto " deur FERDI GREYLING
Volgende onderwerp: " Apocrypha XII " deur M.M. WALTERS
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 16 13:18:53 MGT 2024