Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "Lied van die Fascistiese bomwerpers " deur UYS KRIGE
"Lied van die Fascistiese bomwerpers " deur UYS KRIGE [boodskap #79072] Di, 10 Junie 2003 00:32
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

Uys Krige
Lied van die Fascistiese bomwerpers

Aan Petronella

Ons gons uit die blou.
Ons dreun bo die aarde.
Luister! Luister!
Ons is die stem van die nuwe Spanje
en van die nuwe kruistog
in hierdie jaar '37 van ons Liewe Heer
is ons die wit vaandels,
die baniere, die pluime ...
Ons waai op al die winde.
Ons stroom uit alle oorde.
Ons wapper in triomf
teen die blou balkonne van die lug,
bo die wit terrasse van die hemel;
en ons stem is één kreet
van vreugde en oorwinning:
Lewe Christus, die Koning!
Ons is mooier as die albatrosse,
ons is witter as die seemeeue,
ons is vinniger as die mens se gedagte:
nog voor julle ons sien,
as julle ons nog skaars gehoor het,
val ons skaduwee op julle,
staan ons hoog bo jul kop,
skiet ons oor jul stad
en van 'n hoogte van twee myl
lê ons ons eiers
in die goue nes van Spanje.

Ons vlerke is dié van die engele,
hoor hoe ruis hulle, hoor hoe druis hulle!
Luister! o luister
hoe sing ons ons lied van liefde,
hoe prewel ons ons vrome gebede.
Want ons is die rosekrans
van die biskoppe en die hoëpriesters.
Ons glip deur hul gebenedyde vingers.
Geduldig ryg hulle ons uit,
tel hulle ons af
en langsaam
die een na die ander
deur die blou kalmte van die dag
val ons swart krale
af na die aarde
op die stede
en die dorpe
en die plase ...
Want ons, ons is die redding,
ons is die skans, die setel,
die veilige heilige vesting
wit en hoog bo-op die berg se top.
Ons is die stem, die woord van God
wat bom en staal en lood en vlees en bloed geword het:
Lewe Christus, die Koning!

Hoor julle ons lied, hoor julle dit?
Ons vlerke druis dit,
ons motore ronk dit,
ons skroewe soem dit,
ons masjiengewere stotter dit
en ons bomme
bulder dit
soos donder wat dreun
wyd en syd
oor die aarde ...
Dis 'n nuwe lied
en dis 'n ou-ou lied.
Dis die lied van die wêreld,
dis die lied van die mens.
Die Pous sing saam
en al die rykes van die aarde,
die uitskot van Europa
in ons Vreemdelinglegioen
en die More uit Marokko
waarheen ons hul verdryf het
ná sewe eeue van verdrukking
in die naam van die Verlosser,
en wat ons nou weer terugbring
in die naam van die Verlosser.

Hoor julle dit? o hoor julle dit?
Hoe die lied klim en klim
hoër, al hoe hoër
soos duisende leeurike
styg na die son;
hoe dit groei en swel,
groei en swel
soos 'n koor
van siters en skalmeie,
luider, al hoe luider
tot oplaas dit die ganse hemel vul,
'n golf, 'n stroom, 'n vloed van klank
wat soos 'n wolk van wierook rol
tot teen die wit troon aan
van God, die Allerhoogste,
'n jubellied, 'n lofsang
met één aanhef slegs,
één tema,
één refrein:
Lewe Christus, die Koning!

Want ons is die sprinkaanplaag van God,
die gésel vir die ongelowiges.
O kyk na ons, kyk na ons,
hoe ryk ons is en hoe geseën:
ons staan, verheerlik, teen Sý Hemel,
Hy bekroon ons met die stralekrans van Sý lig,
silwer op ons vlerke skitter die son!
Ons kom oor die oop see,
oor die goue vlaktes en die grys sierras.
Uit Palma de Majorca en Burgos,
uit Duitsland en Italië
swewe ons in swerms
en swart en skoon
skuif ons skaduwee
oor die grond.

O hef jul gesigte na bo
vanwaar jul hulp sal kom.
Kyk na ons! O kyk na ons
met jul wit verwonderde gesigte
waar jul sit gepak in jul trems,
waar jul loop deur die strate van jul stad,
waar jul drentel Sondagmôrens
oor die pleintjies van jul dorp in die son
of onder die koel platane
afstap langs die alamédas,
waar geskaar om die gloriétas
julle stil en bedees
luister na die musiek
van die skoenmakersgilde.
Kyk na ons, kyk na ons!
Julle wat die rooi lemoene
pluk in die boorde.
Julle wat op bruin donkies
mark toe ry deur die wit stof
van die slingerpad oor die berge.
Julle wat buk-buk gaan
al tussen die goue koring
en dan as julle ons hoor,
jul sekels half laat hang
oor die knikkende are
terwyl julle die sout sweet vee
uit jul donker oë.
Kyk na ons, kyk na ons,
sodat julle ons sien
en ons julle sien,
opdat ons julle verdelg
soos onkruid van die aarde!
Want ons, ons is die grys sekels
wat suis en wat suiwer
en die koring skei van die kaf.
Ons is die belofte en die voorspelling
en ons is die vervulling.
Ons is die verskrikking en die straf.
Ons is die vergelding en die toorn van bo,
ons is die basuin van God wat skal
luid uit die goue sale van die son:
Lewe Christus, die Koning!

Ora pro nobis ...
Bid vir ons! Bid vir ons:
dat ons afstort op die stede
soos arende op hul prooi,
dat ons moed ons nie begewe nie,
dat ons spoed ons nie faal nie,
dat ons motore nie stok nie,
dat die afweergeskut ons nie tref nie,
dat die fabrieksfluite en -sirene
die kinders nie waarsku nie,
dat ons die vrouens oorval
voor hul die kelders bereik,
en dat ons die oop see haal
- waar die visse ons nie kan torpedeer nie -
voor die vliegmasjiene van die vyand
mag opstyg uit die stede
soos brommers uit 'n lyk;
dat ons dan mag terugkyk
hoe die dag daar breek
bo die goue dorpies
en die wit stede
in vlamme feller, woester
as dié van die rooidag.

Sic transit gloria mundi ...
alle vlees is gras.
Te Deum laudamus ...
Laat ons bly wees! Laat ons bly wees
dat Sy ryk nou kom,
dat ons ryk nou kom,
Sý Koninkryk in die hemele,
óns koninkryk op die aarde:
Lewe Christus, die Koning!

Stort in puin, o hospitale
en skole en klinieke.
Verteer in ons vlamme,
biblioteke en gestigte.
Ons wil julle gelyk maak met die grond
opdat 'n nuwe Spanje
opstyg uit sy as.
En julle wat arm is en nederig,
julle wat gras eet en smeek om brood,
julle wat nie kan lees of skrywe,
julle wat veg
in die sneeu en ys van Teruel,
teen die hange, kaal en koud, van die Somosierra,
in die modder van die loopgrawe voor Madrid,
op die dorre vlaktes van Extremadura,
langs die rooibruin oewers van die Guadalquivir,
in die skroeiende son bo Córdoba,
julle wat veg
vir leie en griffels,
penne en boeke,
sodat julle mag lees en skryf,
sterf, o sterwe
in jul nood en ellende
en seën ons
want jul erf:
die Koninkryk van die Hemele!
Sterf, arbeiders in jul krotte!
Sterf, gitaners in jul grotte!
Sterf, boere sonder grond,
want nou gee ons jul 'n stuk grond:
'n swart gat in die grond
ses voet by drie
as julle gelukkig is.
Sterf, demokrate, republikeine!
Sterf, anargiste, godloënaars!
Sterf, rooi gespuis!

Sterf, Katolieke
wat nie wil saamsing
in ons heilige koor nie!
Sterf, vrouens en kinders
in jul duisende en tienduisende!
Sterf, saad wat nog slaap in die baarmoeders!
Lewe Christus, die Koning!

(Daar hang 'n jonkman aan die Kruis,
Hy dra 'n doringkroon.
Sy oë is droewig,
droewer as die reën,
en Sy wonde bloei aanhoudend.
Altyd sonder ophou
drup-drup Sy warm bloed
af op die wêreld.
Wend julle na Hom.
Hy sal verstaan.
Hy sal vergewe ... )

Sterf, toekoms! Sterf, hoop!
Sterf, liefde en medelye!
Sterf, Spanje!
Lewe Christus, die Koning!
Vorige onderwerp: " my lewerik wou te hoog " deur DOLF VAN NIEKERK
Volgende onderwerp: " Satan-Helios " deur N.P. van Wyk LOUW
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Apr 19 09:50:39 MGT 2024