Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » DIE VYF SWEMMERS - 'n storie uit die Boere-oorlog
DIE VYF SWEMMERS - 'n storie uit die Boere-oorlog [boodskap #7471] Ma, 21 Oktober 1996 00:00 na volgende boodskap
Izak Bouwer  is tans af-lyn  Izak Bouwer
Boodskappe: 465
Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
Senior Lid
Een van die interessantste boeke in ons besit is
"Die Vyf Swemmers," van C.J. Barnard. Dit vertel
die geskiedenis van Willie Steyn en vier ander wat
in die middel van die Tweede Vryheidsoorlog in
Junie 1900 in die Vrystaat gevange geneem was
en uiteindelik as bannelinge op 'n Britse skip na
Ceylon gestuur is. Aangekom in die hawe Colombo,
het hulle vyf egter in die water gespring in 'n poging
om te ontsnap. 'n Russiese skip het hulle opgepik en
hulle teenwoordigheid geheim gehou selfs toe die skip
by die hawe van Aden aangedoen het. So het die vyf
op die Russiese skip deur die Suez kanaal en deur die
Dardanelles gereis tot by Feodosia op die Krim-eiland.
Daar aangekom, het die plaaslike mense 'n hele
ophef gemaak van die vyf Boere. Die Duitse konsul en
gesin het hulle onthaal, en uiteindelik gesorg vir hulle
reis oorland na die hoofstad van Tsaristiese Rusland in
daardie tyd : St. Petersburg. Daar aangekom, is ook daar
'n hele ophef van hulle gemaak. Hulle het konserte byge-
woon en hulle is op baie partye onthaal. Uiteindelik is
hulle gehelp om hulle weg te vind na Nederland.
Op die stadium was President Kruger al in Nederland,
waarheen hy gebring is deur die Nederlandse regering, toe
dit duidelik word dat die Boere die oorlog gaan verloor.
Die vyf manne het 'n onderhoud met hom gehad. Later is
hulle, met vals paspoorte, terug na Suidelike Afrika, waar
hulle die vasteland binnegegaan het deur die toentertyds-
genoemde "Duitswes." Hulle het vir 'n ruk herwaarts en
derwaarts geswerf in die Noordkaap, in 'n poging om die
bruin Engelse soldate te ontsnap, wat orals daar was. Hulle
wou aansluit by die manne van Conroy, die jong rebelle-
kommandant, wie se hoofkwartier by Kakamas was. Hulle
was nie hierin suksesvol nie. Uiteindelik het hulle egter wel
aangesluit by die kommando van Manie Maritz en daar het
Willie Steyn op sy staf gedien. Later, toe Generaal Jan Smuts
aangestel is as opperbevelhebber van die kommando's in
die Noordwes-Kaapkolonie, het Willie ook op sy staf gedien.
(My pa, toe 'n seun van 16 jaar, het altyd die storie vertel van
hoe Gen. Smuts vir hulle jong seuns gevra het hoekom hulle
nie kom help veg nie.)
Uiteindelik het die Boere die oorlog verloor en is Willie
Steyn terug na sy tuiste toe.
Die storie van Willie Steyn en sy makkers is in 1932
vertel in 'n boek "Terug na Kommando.." geskryf deur L.A.
Visagie. Johan Barnard is egter in die laaste dekades deur
Tafelberg-Uitgewers genader om meer navorsing te doen en
'n uitgebreider boek te skryf oor die manne se eskapades. In
1988 het "Die Vyf Swemmers" toe verskyn.
J.C. Barnard was, voor sy aftrede, onder andere hoof-
geskiedskrywer (Landmagte) in die afdeling Oorlogs-
geskiedenis van die Eerste Minister se Kantoor (1950-1958);
kulturele attache in London (1959-1961) en van 1962 - 1985
Geskiedenis-professor by UNISA. Hy was ook op sy dae 'n
baas tafeltennis-speler. Ons het vir vier jaar in Pretoria in die-
selfde straat gebly (Lunnon). As ek dink aan ware Afrikaners,
dan is hy op my kortlys, saam met natuurlik manne soos Willie
Steyn en sy makkers, en Paul Kruger en Generaal de Wet, en
Komm. Conroy en Manie Maritz en nog veel meer - die lys
sal lank wees.

Gloudina Bouwer
Re: DIE VYF SWEMMERS - 'n storie uit die Boere-oorlog [boodskap #7493 is 'n antwoord op boodskap #7471] Di, 22 Oktober 1996 00:00 Na vorige boodskap
gal...  is tans af-lyn  gal...
Boodskappe: 191
Geregistreer: Mei 1996
Karma: 0
Senior Lid
Gloudina Bouwer het geskryf oor hoe gasvry die boere ontvang is.

Ek vind dit baie interessant dat daar groot bewondering was
vir die boere, blykbaar selfs in lande wat veronderstel was
om die britte goedgesind te wees.

Die boere het bewondering afgedwing omdat hulle so onverskrokke
so 'n groot mag aangevat het, en omdat hulle nie hul beginsels
wou prysgee nie.
Ek het in Europa gevind dat die ou mense nog met soveel respek
verwys na die 2de Vryheidsoorlog.

Ek het 'n ou boek gehad van die 2de vryheidsoorlog,
met swart&wit fotos daarin, en wat kort hoofstukke
gehad het met veldslagte en interessante verhale.
Ek dink dit was geskryf deur 'n generaal. (Sy memoirs?)
'n bekende Suid Afrikaanse boek.

Ek is so spyt die ding het weggeraak. Sal graag vir my seun
dit wou lees. Weet julle dalk van watter boek ek praat ?

Vriendelike groete.
Vorige onderwerp: Uitnodiging
Volgende onderwerp: Re: afrikaner en ngkerk
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Mei 29 08:22:49 MGT 2024