Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Rekenskap " deur CHRIS PELSER
" Rekenskap " deur CHRIS PELSER [boodskap #74634] Di, 18 Maart 2003 23:02
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

Chris Pelser
Rekenskap

onthou jy

Griekeland was werklik mooi
die middag toe ons in Patras aan wal stap
die oggend op see was ons vol Orvieto
en jy het van Napels vertel: die Baai
en die bougainvilleas langs die Amalfi,
Sorrento met sy bruin straatjies
- alles glo so pikant anders
as by jou mansion in Manhattan -
later wou jy van my Afrika weet:
of ek terug durf gaan
(o my geweste, my gewete!)
jy orakel oor apartheid, ewig listig
en versigtig oor die lot van my land:
skommelend tussen jou botterblomme sal
die laaste dolos suiwer val

onthou jy

die lug was onhebbelik blou
en elke dorp had sy ou vrou op 'n donkie
toe kon jy oor jou stukkie skyline droom;
ék oor die stilte van 'n esel - eers later
toe ek jou verwondering oor die platteland sien
wis ek ook my Karoo sou in jou kon stoei
ek wou vertel van mofskape
en stofbruin Afrikaners in die son
- maar wat van Suid-Afrika? -
(wydsbeen woordreisend op donkies
soek ons Ithakas of orakels):
skommelend tussen botterblomme sal
die laaste dolos suiwer val

onthou jy

by Mycenae teen die see het die son
oor Agamemnon se graf kom hurk
die pad daarheen was vol grys afgronde
die opgedolliede ikone soos voëlverskrikkers
die gids in die bus het van Schliemann
en twintig eeue se gode vertel -
maar nou wil jý weet:
wat van Suid-Afrika?
toe kon ek jou vertel
êrens in die Vrystaat sit iets van my
aan 'n vaal bloekom vas
(skommelend tussen botterblomme sal
die laaste dolos suiwer val)

onthou jy

by Delfi het ons by die fontein
uit die berg gehurk om gesig te was
oplaas dan voor Pythia en die gode
maar die donker orakel is dood
dáár is geen antwoorde meer nie
net skommelend tussen blom en botter sal
die laaste dolos dodelik val:

van Messina tot by Kaappunt
oorweeg en gans te wit bevind
Vorige onderwerp: " Klei(n)wild " deur HANS DU PLESSIS
Volgende onderwerp: " Gebed van die loot aan die wynstok " deur SHEILA CUSSONS
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mar 29 07:20:19 MGT 2024