Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » " villanelle vir die vertroude geliefde " deur TOM GOUWS
" villanelle vir die vertroude geliefde " deur TOM GOUWS [boodskap #73272] So, 09 Februarie 2003 13:06
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

Tom Gouws

villanelle vir die vertroude geliefde

vir retha

die verborge dieper drif van liefde soek ek terug in spesery.

in die kos van die seisoen, geliefde, proe ek jou delikaat;

intiem op die tong kom lê jy sag soos smaak in my.

somersdae vind ek jou in koljander en kardamom; ek kry

jou saans in die geur van naeltjies, ook in neutmuskaat.

die verborge dieper drif van liefde soek ek terug in spesery,

en betrap jou, geliefde, as my vingers herfs voorberei

met wonderpeper en tambryn, donker mosterdsaad.

intiem op die tong kom lê jy sag soos smaak in my.

in die winter is jy aromatiese anys; soos pypkaneel bly

jy nahuiwer in my mond, soet soos die woorde wat jy praat.

die verborge dieper drif van liefde soek ek terug in spesery:

jy is die rissieprikkeling van lente; in saffraan skuil jy

onbeskaamd, in die onsubtiele huiwering wat knoffel laat.

intiem op die tong kom lê jy sag soos smaak in my.

die verborge dieper drif van liefde soek ek terug in spesery.

intiem op die tong kom lê jy sag soos smaak in my.
Vorige onderwerp: krieketpaartie, antie
Volgende onderwerp: Long Walk to Freedom
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Jun 24 13:02:59 MGT 2024