Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » 'n Gedig van LINA SPIES
'n Gedig van LINA SPIES [boodskap #7286] Vr, 27 September 1996 00:00
Izak Bouwer  is tans af-lyn  Izak Bouwer
Boodskappe: 465
Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
Senior Lid
Somtyds sit jy in 'n wagkamer êrens en tel 'n tydskrif op wat nou regtig
oud is. Dan lees jy 'n artikel wat geskryf is voor die Berlynmuur geval het, of
voor die U.S.S.R. opgebreek het. Dan kry jy so 'n snaakse gevoel op jou maag.
En jy vra vir jouself: droom ek dit alles - dat die Muur geval het, dat Duitsland
nou weer net een land is, dat Suid-Afrika uiteindelik 'n werklike demokratiese
land geword het? Somtyds lees jy stories of gedigte wat geskryf is in daardie tyd
wat almal nou wil vergeet. Dan voel jy so 'n spesiale hartseer. Was dit nou nodig
dat soveel mense van alle kleure soveel moes gely het? En vir wat? Hier volg 'n
gedig wat sulke gevoelens by 'n mens wakker maak:

'n Paternoster vir Suid-Afrika
Lina Spies

Here, laat die name geheilig word
van al die kinders van die land -

van hulle
wat modderkoekies gebak het uit sy aarde,
dassies skrikgemaak het in sy klowe,
wol getrap het in sy krale.

Ek het asemloos toegekyk:
swart bolywe geboe oor magtelose diere
en skerp skere wat my laat wag het,
bang vir die glip-slag, die bloed, die pyn.
Maar die swart versigtige hande
het selde dieper as die wit geknip
en ek kon die looitjies uitdeel
want die arbeider was sy loon waardig
volgens die aantal wat hy vrygemaak het
om ligvoets teen die somerheuwels uit te wei.

Maar die bale is lankal toegewerk en weggestuur,
die wololie van my voete afgewas,
my bene nie meer lam getrap nie.

Vergewe ons, die vergeetagtiges, die uitgerustes,
soos ons hulle vergewe, die luidrugtiges
wat nooit binne die kraal was nie,
wat nooit rietperd gery
en kaalvoet geloop het nie,

en Here, sien ons hande aan:
Kyk, om my wit pols is 'n armband van gras;
my donker speelmaat het dit kunstig gevleg
soos ek nooit kon nie...

Aan U behoort die land
en die son
en die skape van sy weiding

Gee ons liefdevolle hande, Heer,
en sny U self versigtig aan die belemmerende kleed
dat daar nie onnodig bloed verspil nie

en deel U self die lootjies uit.

(ingetik op die nuusgroep deur gloudina bouwer)
Vorige onderwerp: Re: RIEKERT se gedig oor kameeldoringpeule + mieliepitte, pampoenpitte en vrot tamaties.....
Volgende onderwerp: Limeriek: Indoena
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Mei 12 07:43:27 MGT 2024