Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » Twee gedigte oor VINCENT VAN GOGH
Twee gedigte oor VINCENT VAN GOGH [boodskap #7175] Ma, 02 September 1996 00:00
Izak Bouwer  is tans af-lyn  Izak Bouwer
Boodskappe: 465
Geregistreer: Januarie 1996
Karma: 0
Senior Lid
Dit was vir my nog altyd merkwaardig hoe 'n groot
en lojale aanhang die skilder Vincent van Gogh dwars-
deur die tyd en dwarsdeur die wereld het. Hy was seker-
lik 'n groot en goeie skilder. Maar so was ander ook. In
die tagtigerjare se inflasie-periode, toe mense skilderye
gekoop het in die geveg teen inflasie, het Vincent van
Gogh amper altyd die hoogste pryse gehaal, en dit was
gewoonlik Japannese wat dit gekoop het. Dwarsdeur die
jare het digters ook oor hom gedig. Hier volg twee oor
Vincent van Gogh:

VAN GOGH TE AUVERS
Henning Pieterse

Die man met die geel strooihoed
luister na die wind
van die son deur die land.
Uit die groen koring styg
'n raaf in die wind.
Die man met die strooigeel hare
sien die sonneblomson
na die aarde hang,
sien die son uit die aarde gis
in laatsomerlanderye.
Die man met die halmbaard
voel moeg die aarde trek
in stoppels na die oes.
Uit die laatmiddagwolke
broei rawe bo die lande.
Word doof en blind
en sien in hom
in koringkorrelhale
uit die ontkiemende kwas
spruit God se geel graanlande.

VINCENT VAN GOGH
D.J. Opperman

Jy het as 'n miskende
heilige vergeefs geveg teen die ellende
en die onreg in die krotte van die myn,
in agterbuurte en op landerye; slegs die pyn
en skriklike stryd van God
leer ken, wat mens en boom verknot
in Sy kramptrekke; maar eers toe jy die koringgerwe
in aanbidding van die son kon verwe,
boere, wasvrouens en gepynigde gesigte,
die kantelende landskap in die snelle ligte
geel en groen en blou - alles met koorsige gevlek
tot branding van die skone kon verwek,
toe is Sy hartstog eers in jou volbring
soos groen sipresse tot 'n vlam verwring.

Daar is natuurlik ook mense wat beweer dat as ons na
Vincent van Gogh se landskappe kyk, ons nie altyd
moet dink dat omdat sy bome en velde van gras so
verwronge en gemartel lyk, dit nou juis is omdat sy siel
altyd so gevoel het nie. Hy het dele van sy lewe in Arles
in die suide van Frankryk gebly. Daar waai die Mistral
in die herfs vir lang rukke van die berge af, en affekteer
die mense op 'n snaakse manier. Hulle voel effens mal.
So wanneer jy die volgende keer na 'n Van Gogh land-
skap kyk, onthou die Mistral.

Gloudina Bouwer
Vorige onderwerp: GEDIG: Daai man wat op die eiland klippe kap
Volgende onderwerp: Twee gedigte van HENNING PIETERSE
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Mei 11 10:20:47 MGT 2024