Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Ballade van die bose" deur N.P. van Wyk LOUW
" Ballade van die bose" deur N.P. van Wyk LOUW [boodskap #69993] Wo, 04 Desember 2002 02:10
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

N.P. van Wyk Louw
Ballade van die bose

Ken jy my nou?
Het jy die spieël gesien
en ken jy jou?
Wanneer jy wil vlug
uit die stad wat brand,
dan vlug ek saam
soos 'n vrou aan jou hand.

*

Die veles meen
hulle ken my gesig,
maar ek skuil te glansryk,
te na aan die lig,
en as hul wil waarsku
en wysheid gee,
dan praat ek reeds
in die woordklank mee;

en die snelles vlug,
waarheen? vir wie?
ek is nie skoon
of aaklig nie,
en waar hulle vlug,
daar dra hul my mee
in die grys-wit groewe
van die senuwee.

Ek is ín jou
gevleg, gerank
soos 'n wortel in
in die donker bank,
en van voor die daeraad
se blank begin
straal ek by albei
jou oë in.

Weet jy genoeg:
wat God vereen het,
hoort saamgevoeg?

*

Ek is jou wese
se ondergrond
en ek trap in jou spoor
soos 'n goeie hond.

Toe God die aarde,
die silwer bal,
in vreugde en spel
uit sy hand laat val,
was ek die baaierd
waarin dit weeg,
die vormlose,
en woes en leeg.

Toe 'n stil vroeë water
- voor vis of net -
tot die eerste wit kiem
geëtter het,
was ek die donker
wat onder skuil:
die koue grond en
swart klip van die kuil.

Ek was die skaduwee
van Gods gang:
ál wat Hy verlaat het,
het ek gevang;
en nou dat jy groei
om die baasskap te hê,
is ek die rooi naelstring
waaraan jy lê.

Ek is jou wese
se ondergrond
en ek trap jou spoor
soos 'n goeie hond.

Wil die kennis nou kom:
ek is die grond
al is jy die blom?

*

Al is julle helder
en slank en vry
moenie dink dat julle
my dood sal kry,
of my strenge gang
op my baan sal stoor:
al is ek die hond,
ek hou die spoor,
ek blaf teen elke
horison
en as Gods Gees
voor die suiwer son
tot skoner gestalte
as julle is, skry,
sal ek weer helder wees,
slank en vry.

O waar sal jy gaan
en met watter skip?
die aarde is branding
en oral is klip,
of as jy wil vlug
uit die stad wat brand,
dan vlug ek saam
soos 'n vrou aan jou hand.

Ken jy my nou?
Het jy die spieël gesien,
en ken jy jou?
Vorige onderwerp: Ons - Ingrid Jonker
Volgende onderwerp: " Die speelman " deur NP van Wyk LOUW
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 20 00:50:21 MGT 2024