Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "Lied van die lemoen " deur UYS KRIGE
"Lied van die lemoen " deur UYS KRIGE [boodskap #64583] Sa, 06 Julie 2002 16:35
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

Lied van die lemoen
Uys Krige

"Wat het die son met jou gedoen, lemoen?"
"Hy't my gestreel, hy't my gesoen.
Nou is ek rooi en ryp en rond,
'n vreugde vir die oog en mond!"

"Die son het jou met lig geraak, lemoen?"
"Hy't my geskroei, gebrand, geblaak.
Nou is ek vuur uit daardie bron,
die ene vlam; die ene son!"

"En snags die maan ... wat van die maan, lemoen?"
"Haar silwer arms om my geslaan.
Toe't van haar koelte in my gegaan,
stil in my sap gesypel, langsaam aan."

"Die aarde het jou niks geskenk, lemoen?"
"Sy klei, deur dou of reën gedrenk.
Nou is ek son èn maan en dag èn nag,
het ek van aarde en lug hul vog, hul krag."

"Wat het die mens met jou gemaak, lemoen?"
"Vir my gesorg, oor my gewaak.
Nou's ek dié seën op sy strewe,
simbool van vrugbaarheid en lewe!"

"Wat moet ons met jou doen, lemoen?"
"Ek wil 'n goue glans wees tussen groen,
gepluk word dan, só met my lot versoen,
lemoen wees slegs, lemoen, lemoen, lemoen!"
Vorige onderwerp: " Die Vlakte " deur JAN F. E. CELLIERS
Volgende onderwerp: " Lied van die lappop " deur INGRID JONKER
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Mei 06 12:11:59 MGT 2024