Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Die Brand " deur JAN CILLIERS
" Die Brand " deur JAN CILLIERS [boodskap #62489] Di, 21 Mei 2002 22:47 na volgende boodskap
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

DIE BRAND
Jan F. E. Celliers
(1865 - 1940)

Dit is die winterwind wat waai,
al wenend deur die lange nag,
al wenend om die verre dag;
die twye swenk, die takke swaai -
dit is die winterwind wat waai.

Hy sleep die sug van eeue mee
uit dieptes van die diepe see,
en waar vergane skepe rus
op menig maan-gebleekte kus;
hy sing van lang-vergete wee:
hy bring die sug van eeue mee.

Hy kom oor velde ver en wyd,
oor grafte in hul eensaamheid,
waar moeders van hul sorge rus,
waar kindersnikkies is gesus -
dit is die lied van die eensaamheid -
hy kom oor velde ver en wyd.

*

"My ma, ek hoor van verre om
'n dreuning oor die velde kom!"
"Dit is die bome in die wind:
die wilgertakke kreun, my kind." -
"My ma, ek hoor my brakkie huil:
wat sou daar kruip, wat sou daar skuil?" -
"My kind, die nag is koud en lang:
die diertjie is alleen en bang."

"My ma, dit dreun al in die rond
soos perdehoewe op die grond;
my ma, wat lig daar soos 'n vuur
van buite op die kamermuur?
My ma, daar brand die koringmiet!" -
"My kind, die Heer se wil geskied!"

*

Daar staan 'n moeder met haar kind
allenig in die winterwind -
en niemand wat haar trane siet,
en niemand wat haar trooste bied.

En wilde vlamme strooi dit wyd,
die vrug van lange lewensvlyt -
in vonke deur die lug gesaai,
in vonke wat die wind verwaai.

Haar kindjie, aan haar bors gevou,
beskut sy teen die winterkou -
die trane wat sy swyend ween,
so op haar wang tot ys versteen.

En winterwinde sing die lied
van eensaamheid en stil verdriet;
en sonder weerklank sterf die klag
op wye velde in die nag,
al sugtend deur die gras se saad -
en verre is die daeraad.

Die twye swenk, die takke swaai,
dit is die winterwind wat waai...
Re: " Die Brand " deur JAN CILLIERS [boodskap #62518 is 'n antwoord op boodskap #62489] Wo, 22 Mei 2002 13:40 Na vorige boodskapna volgende boodskap
Hantamkind  is tans af-lyn  Hantamkind
Boodskappe: 263
Geregistreer: Desember 2001
Karma: 0
Senior Lid
Spesiale versoek - wil jy nie asb weer "Winternag" hier pos nie?

skryf in boodskap news:3CEACEF0.1000009@rogers.com...
> DIE BRAND
> Jan F. E. Celliers
> (1865 - 1940)
>
> Dit is die winterwind wat waai,
Winternag - Eugene Marais [boodskap #62526 is 'n antwoord op boodskap #62518] Wo, 22 Mei 2002 15:34 Na vorige boodskap
Wouter Plaasvark  is tans af-lyn  Wouter Plaasvark
Boodskappe: 1004
Geregistreer: Mei 2006
Karma: 0
Senior Lid
Hantamkind :
Spesiale versoek - wil jy nie asb weer "Winternag" hier pos nie?

Wouter: Uit die argiewe :
(die Engels werk nie vir my nie)

WINTERNAG
Eugene Marais

O koud is die windjie
en skraal.
En blink in die dof-lig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.

O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van 'n meisie
in haar liefde verlaat.
In elk' grashalm se vou
blink 'n druppel van dou,
en vinnig verbleek dit
tot ryp in die kou!

WINTER'S NIGHT (Translated by Guy Butler)
---------
O Cold is the slight wind
and sere.
And gleaming in dim light
and bare,
as vast as the mercy of God,
lie the plains in starlight and shade.
And high on the ridges,
among the burnt patches,
the seed grass is stirring
like beckoning fingers.

O tune grief-laden
on the east wind's pulse,
like the song of a maiden
whose lover proves false.
In each grass blade's fold
a dew drop gleams bold,
but quickly it bleaches
to frost in the cold!
Vorige onderwerp: " Tyd en die Klein Karoo" deur FERDI GREYLING
Volgende onderwerp: " Pella lê 'n kruistog ver... " deur GEORGE WEIDEMAN
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Mei 05 07:01:49 MGT 2024