Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " die posisie aan die einde van " deur GERT VLOK NEL
" die posisie aan die einde van " deur GERT VLOK NEL [boodskap #4727] Sa, 13 Mei 2006 14:48
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
die posisie aan die einde van
Gert Vlok Nel

die gang was donker, gepriem.
die blokkiesvloer het peristaltiese bewegings gemaak.
maar net in my alewige verbeelding.
"kom saggies," het Ma gesê. "Pa slaap."
(op pad huis toe, oor die oop stukke veld,
het ons opgekyk: die berg was besig om noukeurig te brand.)

"hoe was die fliek." die fliek was nie.
"i riller." (wanted: bybysitter.) "dit was goed."
goed. Ma maak koffie. in die kombuis.
halfeen. die gezoem van die yskas.
"oom Jakkie het..."
Pa geslaan.
sê Ma.
"hoekom Ma?" het Altus met gewaarmerkte pyn
geëkwisiteer. hy's nou i sendeling in outjo, namibië
niemand moer jou pa nie, Ma, was die strekking,
veral nie iemand soos oom Jakkie nie
relatief gesigloos in die kaap, hier in voldonge
sterre & wenteling, dorpsdronkaard.
"kak," het ek gesê vir die rekord.

moenie so vloek nie het Ma gesê "oom jakkie
is oom Jakkie." en Pa was Pa. "Pa is ons Pa, Ma."
het ons gesê dalk. oom Jakkie is my broer (Ma)
"maar Pa is jou man, Ma." ja
Ma was so oud, afgeskei, so 40.
"die berg brand, het julle gesien?" ja Ma.
die buitenste verband, het ek dit gesien?
"nee," skryf ek

oom Jakkie was al weg, af in die straat. "gaan slaap," sê Ma.
die huis sou ons insluk, ek kan nie meer onthou
nie, o.a. Pa was i tier in die huis
Ma dikwels i prooi. in die berg was tiere uitgewis.
ek onthou & ek onthou. oom Jakkie het gesterf
en Ma en Pa is op sylyne ingesjant
Ma mooi, Pa in sy mees godsverbitterde verband.
(die rym is vir Pa)

maar oom Jakkie het akuut gesterf, in 1978.
die voorbereide aarde het hom in deskant ingeneem
soos die wind die gesang, teer en koud nes die seisoen.
ek onthou, met deernis, die nag van gepriemde gange
hoedat ek en oom Jakkie na mekaar moes
kyk, vanuit ons unieke posisies van stilte
& verset, aan die eindpunte van die lang straat:
lampe, bome, huise die
volmaakte woede van die lug bo,
die huise, bome, lampe.
Vorige onderwerp: "Hulle wat nooit van moord aangekla word nie" deur JOHAN VAN WYK
Volgende onderwerp: Winternag en Guy Butler se vertaling daarvan
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mar 28 08:37:46 MGT 2024