Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Magsvertoon in Fremantle
Magsvertoon in Fremantle [boodskap #28128] Di, 23 November 1999 00:00
Alwyn Nel  is tans af-lyn  Alwyn Nel
Boodskappe: 174
Geregistreer: Maart 2006
Karma: 0
Senior Lid
Saterdagoggend gryp die Wes-Australiërs kind en kraai en sit af na Fremantle
hawe waar die USS Constellation snoesig vasgemeer lê, so tien meter van die
kaai af.

Die stroom van mammies met stootwaentjies en pappies met bierpense kry nie
einde nie. Die klokke die lui en gesagvolle stemme maak belangrike
aankondigings met rollende erre wat dawer deur die grot van grys metaal.

Platvorms swiep op-en-af met 'n spoed wat een en elk na sy asem laat snak en
die matrose agter hul hande laat giggel. 'n Helikopter staan grys-bleek
afgeëets teen die horison, sy rotorblaaie skeef eenkant toe gevou soos 'n
dooie muskiet se vlerke teen 'n kamermuur. Naas hom die F14 wat lyk soos 'n
vlieg wat sy vlerke met sy agterpote skoonmaak.En dan nog een en nog een en
nog een ...

Die week lank al sien ons die jong manne met hul bree skouers en kort hare
deur die strate van Perth dwaal. Verby die kennisgewing in Club-X se venster
wat sê "Welcome American sailors!" Laataand op die trein met 'n tydskrif en
'n Coke, oorfone teen die kop gepleister - terug Freo toe.

Ek is seker die Constellation sal net so stil vertrek, soos wat hy stil hier
aangekom het. En hy los die Aussies weereens met die subtiele boodskap: What
ever you do, don't fuck with us ...
Vorige onderwerp: Dankie Reisger
Volgende onderwerp: Re: FARC
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Mei 19 12:21:50 MGT 2024