Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Lekker » Kos & resepte » Re: Frikkadel - en nou nog wors en maalvleis
Re: Frikkadel - en nou nog wors en maalvleis [boodskap #24337] Di, 29 Junie 1999 00:00 na volgende boodskap
Leendert van Oostrum  is tans af-lyn  Leendert van Oostrum
Boodskappe: 1880
Geregistreer: Julie 2000
Karma: 0
Senior Lid
"Hans" wrote:
>
>
> Terwyl ons dan nog van slagters se skelmstreke praat : Weet julle hoeveel
> bokboude (soos in Boerbok) koop julle as skaapboud ?? Hoe ken jy die
> verskil ?? Vir dieselfde gewig vertoon 'n bokboud langer en platter as 'n
> skaapboud - die skaapboud in korter en "ronder".
>

Bok is vir my veel lekkerder as skaap - daardie woestynbokke uit die
Kuiseb nog die beste.

En dis nie net hier wat dit gebeur nie. Europeërs wat weet, weet
presies wat die geurige "Greek lamb" meesal nie verwys na skaaplammers,
soos mense te maklik aanvaar nie.
Re: Frikkadel - en nou nog wors en maalvleis [boodskap #24338 is 'n antwoord op boodskap #24337] Di, 29 Junie 1999 00:00 Na vorige boodskapna volgende boodskap
Oom Hans  is tans af-lyn  Oom Hans
Boodskappe: 83
Geregistreer: Januarie 1999
Karma: 0
Volle Lid
Willem-Jan Markerink wrote in message ...
> Wat wordt er in SA dan doorgedraaid?
> Ook vleesafval als oren/lippen/etc van koeien en varkens?....8-))
>
"Doorgedraaid" - wat 'n lekker woord in hierdie konteks :-))))

Ernstig nou :

Paar jaar gelede het die "Landbouweekblad" in Pretoria 'n steekproef gedoen
op "boerewors" wat slaghuise te koop aanbied. Julle wil nie regtig weet wat
alles daarin gevind is nie. Nie alle slagters doen dit nie maar "boerewors"
en maalvleis is eintlik die asblik waarin die onverkoopbare items beland.

Einde Julie wil ek jagveld toe. Al die jare het ek altyd 'n maand voor
jagtyd my ou Duitse slagter (in Tsumeb) gevra om vir my vet bymekaar te
maak. My boerewors en droëwors kry SLEGS die boudvet van 'n bees in -
daardie lekker geel vet wat jy aan die kant van 'n "rump steak en top side"
kry.

Vra toe dieselfde vir die slagter by wie ek hier in Walvis so af en toe
instap. Hy't ge-hmmmmm en ge-aaaaaaaa en dis die een beswaar op die ander.
Hy maak dan kwansuis die "rump"ies sag, sny dit skyfies, vakuumverpak elke
ou skyfie apart daar lê dit al te mooi MET die dik vetrand in die
koeltoonkas - "want my customers wil dit so hê" en hoe kan hy dan nou die
vetrand dunner sny om dit vir my te vergaar ???

Kyk toe weer mooi na die verpakte ou vleisies en dis wat die pennie vir my
"drop". Elke stukkie vleis se stuk vet is minstens 25 to 30 mm (1"-1.5")
dik. G'n mens sal die allemintige stuk vet saam met die klein ou
flentertjie vleis kan inkry nie - selfs my Engelse bulhond sal goorpens van
so baie vet kry.

Een van die lewe se lekkertes vir my is konfrontasie met 'n skelm
besigheidman - en ek sê toe maar ek sien dis 'n saak van ekonomie - SY
geldsak sake met MY geldsakkie as slagoffer want saam met die "rump steak"
verkoop die vetjies vir amper R40 per Kg terwyl hy my nie meer as R8 per Kg
vir die vet alleen kan vra nie. Swernoot. En daar erken hy dit
wraggies ook nog !!

Gaan toe nog 'n stappie verder. Vra toe drie stukkies van sy mooi verpakte
"rump steakies" maar sal hy asseblief die pakkies oopmaak en die vet afsny
en die vleis DAN op die skaal sit - ek wil nie so baie vet aan my vleisie hê
nie. Natuurlik wou die perd nie.

Laaste stap in die demoralisering van 'n besigheidsman : Meneer, ek was
van plan om in die omgewing van R500 te spandeer by jou maar.........(voeg
hier in net wat jy wil). Vou jou tjekboekie stadig in sy volle sig toe EN
LOOP UIT. Tuis het ek my ou Duitser slagter in Tsumeb gebel - geen probeem
nie - my vetjies tel ek op as ek vir die kinders gaan kuier oor 'n maand.

In hierdie spesifieke geval was daar nog 'n TWEEDE skelmstreek ook gewees.
Die vleispakkies was gemerk (en geprys) as "rump steak". En nou deel ek 'n
vleisgeheimpie met julle : "Rump steak" se vetlaag is SELDE dikker as
vingerdikte en dan moet daardie bees moddervet wees. Die dik vet sit op
die "top side". Dit was dus die goedkoper "top side" wat as die duurder
"rump steak" aan niksvermoedende Jan Publiek afgesmeer word.

Terwyl ons dan nog van slagters se skelmstreke praat : Weet julle hoeveel
bokboude (soos in Boerbok) koop julle as skaapboud ?? Hoe ken jy die
verskil ?? Vir dieselfde gewig vertoon 'n bokboud langer en platter as 'n
skaapboud - die skaapboud in korter en "ronder".

En daardie lekker salami's ?? Goeie kans dis 90 % Khomas Hochland
sebra................

My "ligtere sy" bydrae vir die dag :

Kom die kleinman in die slaghuis in. "Oom, my ma wil R5 se hondevleis hê
asseblief. Maar oom moenie te veel bene insit nie. Pa se tanne is nie
meer so goed nie..."

Gegroet.
Omie
Re: Frikkadel - en nou nog wors en maalvleis [boodskap #24339 is 'n antwoord op boodskap #24337] Di, 29 Junie 1999 00:00 Na vorige boodskapna volgende boodskap
Errol Back-Cunningham  is tans af-lyn  Errol Back-Cunningham
Boodskappe: 1029
Geregistreer: Augustus 1996
Karma: 0
Senior Lid
|Paar jaar gelede het die "Landbouweekblad" in Pretoria 'n steekproef gedoen
|op "boerewors" wat slaghuise te koop aanbied. Julle wil nie regtig weet wat
|alles daarin gevind is nie. Nie alle slagters doen dit nie maar "boerewors"
|en maalvleis is eintlik die asblik waarin die onverkoopbare items beland.
|
Ons het altyd by Florida meer se boeremark vleis direk by boere gekoop en daar
het ek van die water in wors ontdek. Gaan kyk maar, eerlike slagters sal op sy
pakkie deel van die inhoud aangee as "water". Ek het gesoek tot ek 'n boer
gekry wat dit nie gedoen het nie (die wors krimp glad nie as jy hom in 'n pan
bak nie).

Nou is ek in die bevoorregte posisie om my eie wors te maak en weet ek presies
wat daarin gaan. Ons het juis weer Hermie en sy vrou wat Vrydagaand by ons kom
kuier vir 'n groot worsmaak geselligheid!
Re: Frikkadel - en nou nog wors en maalvleis [boodskap #24373 is 'n antwoord op boodskap #24337] Wo, 30 Junie 1999 00:00 Na vorige boodskapna volgende boodskap
Shannon  is tans af-lyn  Shannon
Boodskappe: 220
Geregistreer: Januarie 1999
Karma: 0
Senior Lid
Hans wrote in message ...

>
> Terwyl ons dan nog van slagters se skelmstreke praat : Weet julle hoeveel
> bokboude (soos in Boerbok) koop julle as skaapboud ?? Hoe ken jy die
> verskil ?? Vir dieselfde gewig vertoon 'n bokboud langer en platter as 'n
> skaapboud - die skaapboud in korter en "ronder".

Is daar nie 'n verskil in die tekstuur van die vleis nie?

>
> En daardie lekker salami's ?? Goeie kans dis 90 % Khomas Hochland
> sebra................

Het so vier jaar terug van Namibië af 'landjeger' (Spelling??) gehad. Dit
word van sebra gemaak en ek aanvaar dit is van Duitse herkoms? Kan oom Hans
dalk kortliks verduidelik hoe dit gemaak word. Al wat ek kan onthou dat dit
gerook lyk/proe.

Groete

Shannon
Re: Frikkadel - en nou nog wors en maalvleis [boodskap #24411 is 'n antwoord op boodskap #24337] Do, 01 Julie 1999 00:00 Na vorige boodskapna volgende boodskap
Oom Hans  is tans af-lyn  Oom Hans
Boodskappe: 83
Geregistreer: Januarie 1999
Karma: 0
Volle Lid
Shannon wil weet .....
>
> Is daar nie 'n verskil in die tekstuur van die vleis nie?
(Bok / Skaap)
>>

Nie so dat die gewone mens dit sal agterkom nie. Sommige snitte van bok
sal neig om growwer draad te hê as die vergelykbare snit van skaap maar self
dan sal selfs die grootste kenner fyn moet kyk met 'n vergrootglas.

Die verskil kom in by die smaak. Waar bok en skaap op dieselfde veld
geloop het, verkies ek die bok. Dis egter nie heeltemal so eenvoudig nie.
Sommige boksoorte neig om meer "geurig" te wees as ander maar as jy
veredelde Boerbok kan kry, koop gerus.

Upington het my egter ondergesit met sy bokvleis - wanneer bok die dag
besluit om te stink, doen hy dit windop.
>
>
> Het so vier jaar terug van Namibië af 'landjeger' (Spelling??) gehad. Dit
> word van sebra gemaak en ek aanvaar dit is van Duitse herkoms?

Salami, Dauerwurst, Landjäger (en nog 'n klomp ander name) is almal familie
in die sin dat hulle redelik gekruid is en ook gerook word. Landjäger en
Dauerwurst word ook nie dadelik gebruik nie maar droog eers uit. Ook baie
verskille in maaltekstuur en kruiesamestelling. Maar nou beweeg ek op 'n
mynveld - nie eens Duitse kenners stem almal volmondig oor die verskillende
resepte saam nie.

Die vleis wat daarin gaan, word ook maar deur die prys bepaal wat die
slagters bereid is om te betaal. Vir sebra bied hulle die boer so min as
R3 per Kg aan hier op die rand van die Namib (onthou, die finale produk is
selde minder as R40 per Kg) Die situasie in die Khomas Hochland is
blykbaar meer betalend want daar's boere wat spesiale spesiale koelkamers
gebou het waar die karkasse gehou word totdat die slagter se "lorrie"
verbykom. Ons glo natuurlik glad nie dat salami en landjägers die
enigste vorms is waarin die streepdonkie weer te voorskyn kom nie.

Jare gelede was oom Faan Oosthuizen (ook al salig) van Tsumeb se boerewors
beroemd tot in die Kaap - Sekere tye van die jaar was dit suiwer kameelperd.
Weet. Ek het self gehelp met die skietery. En as jy nie 'n absolute
kenner/fynproewer is nie, sal jy nie die verskil tussen koedoe en kameelperd
uitwys nie.

So kan ek voortklets en baie van julle kan ook bydraes op hierdie onderwerp
lewer - eetbare goedjies uit die veld. "Willevark" - baie lekkerder as
"mak vark". Kom eendag uit die jagveld met 'n koedoe en vark agter in die
ou Land Rover en stop toe eerste by my vriendelike Duitse bankbestuurder
"pêl". Kies, sê ek vir hom - helfte van die koedoe of die vark. Ek was
nog besig om te praat, toe laai hy al die vark af ...........Bring net
volgende keer twee varke saam en ek verhoog jou limiet al kan mens dit nie
met jou waag nie

Einde Julie is ek in Tsumeb en dan sal bietjie met tante Henle van Protea
Slaghuis gesels oor bostaande "familie" Duitse worse en vir jou laat weet.
Ek glo ook nie dat die Duitsers die uitvinders was van Salami nie - dis die
Italianers se voorreg - die Duitsers het net hulle eie variante gemaak soos
Kochsalami onder andere. (Die enigste gevolgtreking waartoe ek kan raak as
ek na Italiaanse kookkuns kyk, is dat dit 'n nasie is met 'n ernstige en
kroniese vleistekort Pasta ??? Pizza ??? Is nie kos nie. )

Maar ek is oop vir oortuiging. In 1945 het ek vir die eerste keer rape
geproe. Opgekook in water en daarvandaan op die bord en "jy mag nie opstaan
voordat jou bord leeg is nie". Daarvandaan vas oortuig gewees rape is
varkkos - heeltemal ongeskik vir menslike gebruik. Dit was totdat Konrad
Pischloger 1996 sy resep voorgesit het. Jong rape in skywe van so 6 mm dik
gesny (geskil natuurlik) en dan gekook tot sag maar nog ferm. Dan versuip
hy die goed in 'n dunnerige SOET witsous. Nou plant ek my eie rape hier.
Probeer gerus - dit IS lekker.

Klets - klets - klets en knetter uit Walvisbaai
Omie
Re: Frikkadel - en nou nog wors en maalvleis [boodskap #24441 is 'n antwoord op boodskap #24337] Vr, 02 Julie 1999 00:00 Na vorige boodskapna volgende boodskap
Oom Hans  is tans af-lyn  Oom Hans
Boodskappe: 83
Geregistreer: Januarie 1999
Karma: 0
Volle Lid
Thys de Wet het laat hoor van hom.....en welkom by "die ligtere sy" tema

> Lekker klets oor ons eg Afrikaanse gebruike. Ek hou sommer baie >daarvan.

en sommer ook jou verwysing na "Bog met Bloumaandag"

Skat ons mede ng'ers - die 30 somethings - was nog op doeke en bottels
daardie tyd.

Of dit in dieselfde program was, onthou ek nie meer nie maar daar was ook
die twee boemelaars, Haaaannnnnnns en Maaaaaaans. Hulle en die ou
"buurman" was die hoogtepunte van die program

Een aan vra Maans ;
Haaaaannns, wat eet ons vanaand ?
He blik vis - mompel Hans terug.
Kan ons vanaand omruil, Haaaanns ?
Hoekom ??
Ek wil v'naand die vis hê

'n Ander keer weer :
Maaaaaannnns
Huh ??
Wat het jy daar in jou mond, Maaaans ??
Issen sigaar - hêjy v'my he vieriekie ??
Gee eers hie' laak sien....................issie he s'gaar nie Maaaans...
Ek het amper daarin getrap netnou.......

Leendert het maar 'n donker prent oor studente agterbakshede geskilder dus
kan ons seker nie uit daardie oorde veel te wagte wees om oor te lag nie.
Thys laat my nou beter voel want ek het net begin dink ek's die enigste met
'n herinnerings afdeling. Laat die gesels kom !!! By Lou het ek ook
al humorspore opgemerk .......

Julle spreekbeurt nou.

Omie
Re: Frikkadel - en nou nog wors en maalvleis [boodskap #24442 is 'n antwoord op boodskap #24337] Vr, 02 Julie 1999 00:00 Na vorige boodskapna volgende boodskap
Thys de Wet  is tans af-lyn  Thys de Wet
Boodskappe: 211
Geregistreer: Desember 2002
Karma: 0
Senior Lid
Lekker klets oor ons eg Afrikaanse gebruike. Ek hou sommer baie daarvan.
Was so twee jaar gelede in VSA: Daar die geleentheid gehad om saam met 'n
mede kapenaar wat nou daar woon 'n 'barbeque' by te woon. En ons het net
daar besluit om die barbeque oor te neem en 'n braai te hou. Onsself gate
uit geniet om met die klomp yanks die draak te steek en ook in die proses 'n
goeie stuk kultuur aan hulle geleer het. Mens braai mos nie vleis oor 'n
oop vlam nie!!! Dis mos om die buitekant mee te verkool... En hulle had
nie Castles nie, maar darem Budweisers...

Groete uit Matieland!
Re: Frikkadel - en nou nog wors en maalvleis [boodskap #24460 is 'n antwoord op boodskap #24337] Sa, 03 Julie 1999 00:00 Na vorige boodskap
roy...  is tans af-lyn  roy...
Boodskappe: 68
Geregistreer: April 1999
Karma: 0
Volle Lid
"Hans" wrote:

> en sommer ook jou verwysing na "Bog met Bloumaandag"
>
> Skat ons mede ng'ers - die 30 somethings - was nog op doeke en bottels
> daardie tyd.

Ek wou vra watse program hier van gepraat word, maar wou nie te dom lyk
nie... seker al te laat daarvoor. Ek was seker nog in doeke, maar
darem nie op 'n bottel nie - reg grootgemaak, ekke, aan die bors!
Julle sal maar meer moet vertel, ek ken glad nie die program nie.

Groete
Royleen
Vorige onderwerp: Mieliepap in VSA?
Volgende onderwerp: SA Kos in Kanada
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Apr 24 10:39:11 MGT 2024