Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Onsedelikheid - frikkadelle - ligtere sye
Onsedelikheid - frikkadelle - ligtere sye [boodskap #24447] Sa, 03 Julie 1999 00:00
Oom Hans  is tans af-lyn  Oom Hans
Boodskappe: 83
Geregistreer: Januarie 1999
Karma: 0
Volle Lid
Shannon skryf en hoop ook op die terugkeer van Hennerietjie

NOU begin dinge te roer - kom ons vat bietjie saam :

Hierdie pot het nou 'n brousel van stoute onsedelikheid, frikkadelle,
"doorgedraaide" beeswange, ore, "lippen",varkvel, kathare, nostalgie,
sluipers, rowwe verpleegsters, (lekker), beesvet, skelm slagters,
flitsbatterye, Skelmbosse kore wat nie treur nie en bo'jane wat bergklim,
sebra salamis,en, en , en wat nog ? Potholes het nou bygekom maar vir
die wat nog nie weet nie - hier is nie slaggate by hierdie geselskap
nie......

Ons moet nou net ook vuur aansteek onder die pot - behoort interessant te
wees as hierdie ding begin kook.

Van kook en flitsbatterye gepraat :

Jare gelede in die Suidwes van toet was dit VERBODE om heel, gedroogte
ertjies aan die "eerste inwoners" te verkoop - regtig , ek lieg nie - want
hulle het 'n bier (karrie genoem) daarvan gestook wat werklik potensiaal
gehad het. Ek HET die resep - as iemand goedkoop wil dronk word. Basies
was dit die ertjies waarvan eers 'n "plantjie" gemaak is en wanneer die aan
die gang is, kom daar rosyne, suiker en "compressed yeast" by. Die goed
is oral in die veld begrawe en 80 % van die polisie se tyd is in beslag
geneem met die opspoor van die onwettige brousels. Vir ekstra skop - nie
dat die bier dit nodig het nie - het die brouers allerhande ekstras
bygevoeg. Fitsbatterye, brandspiritus, akkedisse, lemmetjies ensomeer.
Die vate en dromme was so goed versteek in die veld dat dit spesiale kennis
en ervaring geverg het om dit op te spoor.

Was nie 100 jaar voordat 'n poliesman uitgevind het dat 'n bok besonders
lief is vir die gebroude ertjies nie - die polisie in Windhoek het so 'n
alkolis bok opgelei om die goed uit te ruik in die veld. Op elke plek waar
die bok 'n drom "karrie" uitgeruik het, het hy ook 'n beker vol daarvan
gekry. Teen die derde of vierde beker was die bok ook "motherless" dronk en
moes die manne halt roep.

Nuus van die bok het egter uitgelek en dit was net 'n kwessie van tyd
voordat die bok iets meer as net bier ingekry het. "So much" vir bok nommer
een.
Hoe lank die polisie bokke bly oplei het, weet ek nie en hoe lank die storie
aangehou het , weet ek ook nie meer nie. Gedroogte ertjies is toe later
gewettig.

Ou Charlie, die voorman Boesman op my oom se plaas, was die baasstoker van
Grootfontein distrik. Ons het die resep sorgvuldig by hom afgeneem en
saamgevat Tukkies toe. Dit het nogal 'n ding afgegee. Vir die ou tante
by wie ons loseer het, het ons vertel : soos wat julle koringbier,
pynappelbier en allerhande ander stooksels in die Transvaal maak, so maak
ons in Suidwes weer van ertjies bier en sy GLO dit wraggies. Toevallig het
ons eerste stooksel ook perfek alkohol ontwikkel en toe dit toets (proe) tyd
word, wou ou tant Bettie ook hê en tot ONS konsternasie HOU sy so baie
daarvan dat sy DRIE glase drink. Dit was haar heel eerste alkohol in die
lewe as ons nou nagmaalwyn eenkant los. Ons het haar bed toe gehelp die
aand.

Heelnag gesit en "worry" wat ou tant Bettie gaan sê as sy weer bykom.
Gelukkig was haar kop te seer die volgende dag om bakleierig ook nog te wees
maar sy kon wel uitkry : Ek het julle klomp bokkers verbied om drank op my
perseel in te bring en nou STOOK julle dit hier. Nie weer 'n ertjie op my
werf nie of julle trek almal.........

Julle beurt nou. Die ander droogmaak as student bêre ek vir later.

Omie
Vorige onderwerp: Uit "Die Vlakte" van JAN F. E. CELLIERS
Volgende onderwerp: Grondwet
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Mei 18 08:07:59 MGT 2024